Die derde US Leierskapskamp, georganiseer deur die FVZS Leierskapsinstituut, het die naweek plaasgevind. ‘n 1000 US Studenteleiers uit alle oorde is vir die geleentheid genooi.
Die kamp se openingsessie is afgeskop deur ’n verwelkoming van Dr Leslie van Rooi, direkteur van die Instituut en Dr Llewellyn MacMaster, studentedekaan van die US. Prof Russel Botman, rektor en visie-kanselier van die US, was volgende aan die beurt en het studenteleiers aangemoedig om betrokke te raak by Hoopskeppende inisiatiewe as deel van die Universiteit se Hoopprojek. Botman het ook studenteleiers daarop gewys dat om die wêreld se mees uitdagende probleme soos armoede, aan te pak, die vraag “Wat kan ék doen” gevra moet word. Botman het dit ook benadruk dat die jeug deur sosiale aktivisime en tegnologie tot hul beskikking die wêreld kan verander.

Louis van der Riet, Studenteraad ondervoorsitter het studente aangemoedig om deel te word van die SR se visie vir 2011: “Go Beyond”, en die belangrikheid van kritiese burgerskap beklemtoon. Anina Botha, SR Voorsitter het die openingsessie se verrigtinge afgesluit met ’n beskrywing van wat sy glo dit is om ’n Matie te wees: “Being a Matie means preparing ourselves to use our degree to contribute to the development and growth of our country”.

Na ‘n tee en koffie is die moontlikhede vir die Verwelkomingsprogram van 2012 onder die loep geneem. In ’n sessie, gefasiliteer deur Synovation, het HK-lede deeglik besin oor wat die program behoort te behels. Prof Eugene Cloete, dekaan van Natuurwetenskappe het ’n sessie gelei waar hy met Akademiese Belangeraad (wat die onderskeie fakulteite se studentekomitees insluit)- en Verenigingsraadslede besin het oor die verhouding tussen leierskap en intellektualiteit, terwyl 2012 se PSO- en Kohuismentors, met sessie-fasiliteerder Elzet Kirsten, op hul rol en verwagtinge vir die opkomende termyn gefokus het.
Met ’n aandete agter die rug, het die laaste sessie vir die dag sy aanvang geneem. Die verskillende clusters het met hul beplanning begin, terwyl die VR en ABR-voorsitters, Crichelle Hanekom en Zandri le Grange, hul onderskeie komitees toegespreek het oor hul rol vir die opkomende termyn. Die mentorssessie, gefasiliteer deur oud-mentors, het mentors deur hul handleiding gelei en verskillende gevallestudies bespreek. Die aandsessie is gevolg deur ’n sosiale geleentheid in cluster-verband.

Die Saterdag is almal reeds vroeg uit die blokke, met die eerste sessie wat om 8:30 afgeskop het. Portefeulje-spesifieke sessies vir HK’s is aangebied, met verskillende temas, waaronder Groen, Gemeenskapsinteraksie, Sport, Veiligheid, Akademie, Diversiteit, Bemarking en Leierskapsontwikkeling wat behandel is. In laasgenoemde sessie het Alma Diamond die belangrikheid van kritiese denke-onwikkeling, wat studente by verlede kwartaal se studenteparlement as die derde belangrikste prioriteit vir die Studenteraad gelys het, beklemtoon: “The way you’re going to think in the future will be shaped here”. Lloyd Blake, programkoördineerder van die FVZS Instituut, het die verskillende programme van die Instituut bekendgestel, met Gilbert Punt (wat die skakeling tussen die Instituut en ander Universiteitsliggame fasiliteer) wat daarop gewys het dat leierskapsontwikkeling van individue leiers oprig wat voordele vir koshuise en PSO’s se studenteleierstrukture inhou.

Terwyl die portefeulje-sessies aan die gang was is die VR en ABR deur Neil de Kock, oud ABR-voorsitter en Studenteraadslid, toegespreek oor professionaliteit en die werking van die Universiteit se institusionele struktuur. Sessies oor beplanning en borgskappe en sessies spesifiek vir die Voorsitters van Verenigings en Studentekomitees daarna plaasgevind terwyl die mentors sessies in cluster-verband gehad het oor o.a. waardegedrewe leierskap. Die belangrikheid van die vasstel van persoonlikheidsprofiele is ook in ’n sessie gefasiliteer deur Karen Schaal, bespreek.

Na kort sessies vir die HK’s, ABR en VR na middagete, het lg. groepe beweeg na die Paul Roos Saal, vir ’n aktiwiteit genaamd Seeing the world through each other’s eyes. Greg Ricks van Stanford Universiteit, ’n opvoeddeskundige op die gebied van multikultiarisme, het die sessie waargeneem. Greg het studenteleiers uitgedaag om te waak teen aannames oor individue wie hulle nie persoonlik ken nie: “The students you lead will better respond to you if they really believe you are interested in them and get behind the stereotypes”. Die mentors het vroeër die dag dieselfde aktiwiteit gedoen, en het na hul cluster-sessies by die res van die groep aangesluit.

Die kamp se formele verrigtinge is afgesluit deur ’n toespraak deur menslike hulpbronbestuurder en motiveringspreker David Ansell. Volgens Ansell is ’n leier iemand wat ander motiveer, goed kommunikeer en oor probleem-oplossingsvaardighede beskik. Mnr Pieter Kloppers het daarna almal vir hul bydraes bedank en Wimbledon as wenner van die cluster-kompetisie aangekondig. Na aandete is die dag afgesluit met ’n studenteleiersdans in die Neelsie.

Die FVZS Instituut wil graag elke studenteleier en fasiliteerder vir hul bydrae om die kamp ’n groot sukses te maak bedank. ’n Groot dank ook aan die US, die Hoopprojek ABSA en Abe Bailey, wat die geleentheid moontlik gemaak het.
Continue Reading →