Gesprekke met universiteite. Is buite gesprekke nodige?
Toesprake deur en gesprekke met bekende Suid-Afrikaanse figure die afgelope tyd op kampus het my laat wonder hoekom gesprekke met figure wat buite die universiteit staan belangrik is. Hoewel daar ruim verskille is tussen Moeletsi Mbeki (politieke annalis), Piet Mouton (PSG) en Helen Zille (leier van die DA) is dit tog duidelik dat elkeen van hulle ‘n ander verstaan het van wat die plek van ‘n universiteit soos die US in Suid-Afrika is. Hierdie verskille is natuurlik goed en veral belangrik vir studente en personeel aan ‘n universiteit om van bewus gemaak te word.
Die vraag bly egter: moet ons ons bemoei met buite-gesprekke en alternatiewe stemme? Studente en personeel kom tog vanaf verskillende dele van die land en selfs die wêreld. Ons het verskillende verstane van die realiteit(e) van die dag; ons sien verskillende moontlikhede raak; ons kan mekaar aanvul in ons denke en kennis.
Ek dink ons vergeet soms dat ‘n universiteit, en veral ‘n historiese dorpsuniversiteit soos die US, in ‘n baie spesifieke konteks bestaan en opereer. En omdat dit so is, kan dit ook wees dat elkeen wat deel word daarvan ‘dieselfde’ word. Ons kan mekaar dan, na ‘n tyd, eintlik net soveel aanvul omdat ons soos die ander (kan) word. Ek dink hier veral aan hoe ons dink oor die uitdagings van die dag, wat die uitdagings nou eintlik is, watter antwoorde gebied kan word, wat ons nodig het (om te slaag?), wanneer ons met vakansie kan gaan, ens. Veral vir studente is jou tyd op universiteit ‘n baie spesifieke tyd waar jy fokus op baie spesifieke dinge en waar jy maklik opgevang kan word in die gesprekke wat net tussen ons gebeur.
Hoewel ‘binne-denke’ sekerlik nie net by ‘n universiteit gebeur nie, moet ons by ‘n universiteit soveel te meer daarteen waak aangesien dit denke verarm. Dis daarom belangrik dat ons geleenthede verwelkom waar ons gesprekke aangevul en ryker gemaak word deur stemme wat ons nie altyd (kan) hoor nie. Vir ons om vennote van kennis te wees, is dit nodig om ons gesprekke aan te vul en denke te verruim. Ons is het stemme nodig wat realiteit anders verstaan en ander realiteite verstaan, stemme met ander belewenisse, met ander doelwitte en wat ander moontlikhede raaksien.
Ons wil buite stemme hê en ons laat aanvul deur buite-gesprekke – selfs tot die punt wat dit ons ongemaklik laat. Want slegs dan kan ons ons denke tot so ‘n mate stimuleer dat ons in ons kennis van die wetenskap, navorsing en interaksie in die breë gemeenskap op ‘n sinvolle manier leer wyl ons soek na die regte antwoorde op die regte vrae.
Leslie van Rooi



You must be logged in to post a comment.