Ek het sedert Stellenbosch ’n ander wêreld beleef as die een waar taalkwessies, verteenwoordiging op die HK, die SR wat meestal sinnelose projekte geloods het, die name op hoekstene en geboue, ens, die “groot issues” was. Maar toe ek in daardie wêreld geleef het, kon ek onmoontlik nie geweet het van die een waarvan die vrou gepraat het nie. Of kon ek? Daarin dink ek kan die waarde van die FVZS-Instituut lê.
Die nodige begrip van watter leiers Suid-Afrika nou nodig het, dink ek skiet wel by gebrek aan blootstelling aan die regte Suid-Afrika te kort. Danksy die Stellenbosch-bubble?
n Steekproef van die ware Suid-Afrika lê 5 km van Eendrag af: Khayamandi, Cloetesville. En verder af met die N2, waar die kinders van Nyanga se enigste vreugde die sokkeroefening smiddae tussen 17:00 en 18:00 teen die nasionale pad is. Daardie goed het ek nie geleer op Stellenbosch nie. Daardie goed het nie deel gevorm van my begrip en verwysingsveld van waar ek as leier ’n verskil moet maak nie. Om te weet wat in die politiek en koerante aangaan, is nie ’n bepaler van ’n mens se kennis en begrip van die dinge waarmee politici hulself eintlik moet bemoei nie.
Wanneer ’n student die US verlaat, gaan dit hom straks tussen 5 en 10 jaar vat om te vorder tot ’n plek waar hy weer ’n leiersrol inneem. Wat gebeur tussenin? Watter waarde gaan die FVZS-Instituut hê vir daardie studenteleiers om werklik die naam Frederik Van Zyl Slabbert te regverdig?
Llewellyn MacMaster het gesê daar is nie genoegsaam begrip van wat werklik aangaan in die wêreld nie en hy het dit grootliks aan die koshuiskultuur toegeskryf. Dit bekommer my. Dit geld vir PSO-studente ook, want Stellenbosch hou jou binne die mure van sy eie Jerigo. Hy vat jou Beyerskloof toe, sonder dat jy die armoede oppad daarheen raaksien.
Die waardevolste lesse in hoe om met mense te werk, hoe om ’n verskil te maak, was dit wat ek in Dagbreek geleer het – vernaam my huiskomitee. Die geheim in leiersontwikkeling is nie clusters nie. Dit skep ’n valsindruk van betekenisvolheid onder studente wat almal ewe min weet wat werklik in SA aangaan. Jool in sy huidige vorm versterk net daardie wanindruk (dink ek).
Die waarde van die Instituut dink ek is dus nie om studente se vaardighede as leiers teoreties te verfyn nie. Persoonlikheidstoetse te doen nie. Te leer hoe om met verskillende mense met dieselfde vlak van opvoeding te werk nie. Of om beter SR-leiers te maak nie. Of om studente beter huiskomitee-lede te maak nie. Daardie goed gebeur dikwels vanself. Die US is ’n geoliede masjien, waar leiersontwikkeling plaasvind die dag wanneer iemand sy graad in die hand gestop word. Akademiese opleiding is die universiteit se belangrikste vorm van bemagting (via akademiese bemagtiging word leiers geskep – wyer as die algemene definisie van iemand wat ’n groep mense iewers heen lei).
Die feit dat die FVZS-posters reg langs HOOP Projek-posters gestaan het, beteken studente het ’n mandaat gekry om iets vir Suid-Afrika en Afrika te beteken. ’n Universiteit is ’n plek waar ’n mens ervarings opdoen, wat jy gebruik die dag wanneer jy nie meer ’n studente is nie.
As ek kyk na ’n magtige klomp mense wat in my jare op Stellenbosch goeie studenteleiers, het baie van hulle met dieselfde agting van ander die korporatiewe leer geklim, maar hulle beteken nie werklik verder as die maatskappy se boeke iets nie. Dit kan nie ons enigste begrip van leierskap wees nie – om eendag invloed in die sakewêreld te hê nie, vinnig te vorder nie . . .
Maar ek dink die Instituut het leierskap met ’n werklike besef van watter leiers Suid-Afrika het, nodig.
Marco Botha is ‘n oud primarius van Dagbreek Manskoshuis, Stellenbosch Universiteit en is tans ‘n sportskrywer van Media24.
Continue Reading →