
Die FVZS Instituut vir Studenteleierskapsontiwkkeling se negende leierskapsprogram, Women in Leadership, ter ere aan Prof Elize Botha, wyle oud-kanselier van die US, het op Donderdag 12 Mei 2011 sy aanvang geneem.
Die program, wat oor drie kwartale aangebied word, fokus op leierskapsontwikkeling van beide voor- en nagraadse damestudente. Onderwerpe wat behandel gaan word sluit onder meer kommunikasie, diversiteit, professionaliteit en tydsbestuur in. ’n Parlementstoer en skakelingsgeleentheid met UWK-studente is ook deel van die program.
Volgens Dr Leslie van Rooi, direkteur van die Instituut, is die binne- sowel as die buite-klaservaring vir die Universiteit belangrik en dat Women in Leadership poog om laasgenoemde uit te brei. Van Rooi spreek ook die hoop uit dat die program die geleentheid vir deelnemers sal bied om openlike interaksie te hê en van mekaar te leer.
Die program is ’n samewerkende inisiatief tussen die Instituut en Leef-en-Leer-huis: Geslagsgelykheid. Lisa Rothkegel, ’n Meesterstudent in Politieke Wetenskap, is die koördineerder van die program. Volgens Lisa beoog die program om leiers op te rig vir die verskillende omgewings en gemeenskappe binne Suid-Afrika. Van die programfasiliteerders sluit Prof Magda Fourie (Vise-rektor, Onderrig), Prof Elna Mouton (Oud-Dekaan van die Fakulteit Teologie) en Prof Amanda Gouws (Professor in Politieke Wetenskap) in.
Meer oor Prof Elize Botha
Prof Botha is gebore in Krugersorp op 19 November 1930 en het in 1948 gematrikuleer aan die Hoërskool Monument. As ’n student aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf sy ’n BA en MA, beide cum laude. Gedurende haar universiteitsloopbaan is Prof Botha ‘n lid van die Studenteraad, Primaria van Huis ten Bosch en lid van die redaksie van die Stellenbosch Student. Haar man, Prof. Johan Botha, het ook saam met haar op die Studenteraad gedien.
Vanaf 1952 tot 1953 is sy werksaam as joernalis by Die Burger en in 1955 verwerf sy haar dokorsgraad aan die Universiteit van Amsterdam. Betrokke by drie Universiteite oor vier dekades, vestig Prof Botha haarself as ‘n baanbreker op die gebied van Afrikaanse Letterkunde.
In 1998 word Prof Botha aangewys as die eerste vrouekanselier van die Universiteit van Stellenbosch. Sy was ook die eerste vrou om op die direksie van Naspers en as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns te dien.
In haar persoonlike hoedanigheid was sy betrokke by nie-regeringsorganisasies – insluitende kerkgroepe, kinderhuise en versorgingsinstansies vir gestremdes.
Prof Botha is op 16 November 2007 op die ouderdom van 76 oorlede. In reaksie op haar afsterwe verwys Prof Russel Botman, rektor en vise-kanselier van die US, na haar as ‘n “formidabele” vrou: “Niemand wat haar pad gekruis het, kon vertrek sonder om geraak te word deur haar akademiese bedrewenheid, woordvaardigheid, belesenheid, spitsvondigheid en vonkel in die oog, haar liefde vir mense en die letterkunde, en haar besondere nederigheid nie.”
Continue Reading →