Loading Events

« Alle Intreeredes

  • This event has passed.

Prof Herman Wasserman

Intreerede

23 Julie 2024 @ 17:3019:30

Laat die media saak maak: oor waarheid, waardigheid, en liefde

Wat is die doel van onderrig en navorsing oor joernalistiek en mediastudies noudat die media wêreldwyd ’n geloofwaardigheids-, volhoubaarheids- en relevansiekrisisbeleef? Hoe kan die media tot ’n beter lewe bydra te midde van ’n wêreldwye polikrisis van oorlog en konflik, sosiale polarisasie, wydverspreide disinformasie en klimaatsnood? Deur watter beginsels moet die media hom laat lei omrelevant en veerkragtig te wees en responsief te bly op diesamelewing in ’n land met hardnekkige ongelykheid, ’n brose demokrasie en die nalatenskap van onreg? Hierdie intreerede put uit insigte van die joernalistiek en kultuur- en mediastudies om te besin oor hoe medianavorsing, -onderrig en -praktyk as gemeenskapsgoed benader kan word – sodat ons die media kan laat saak maak.

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Herman Wasserman is ’n professor in Joernalistiek en die voorsitter van die Departement Joernalistiek aan sy alma mater, die Universiteit Stellenbosch. Hier het hy ook ’n doktoraat in die lettere en ’n nagraadse kwalifikasie in joernalistiek verwerf. Wasserman het as ’n koerantverslaggewer gewerk voordat hy die akademie as beroep betree het. Hy het voorheen klas gegee aan die universiteite van Sheffield en Newcastle in die Verenigde Koninkryk, Rhodes-universiteit en die Universiteit van Kaapstad, en was ’n besoekende professor aan die universiteite van München (Duitsland), Indiana en Houston (Verenigde State), Utrecht en Groningen (Nederland) en Tsinghua (China).

Wasserman het al wyd gepubliseer oor joernalistieke etiek, die media, konflik, en demokrasie en disinformasie in Afrika. Hy het reeds 94 ewekniebeoordeelde artikels, 56 boekhoofstukke en 17 boeke die lig laat sien. Sy boeke sluit in Tabloid Journalism in South Africa (Indiana University Press), Media, Geopolitics, and Power (University of Illinois Press) en Media, Conflict and Democracy in Africa (Oxford University Press). Sy jongste publikasie is Disinformation in the Global South, waarvan hy die medesamesteller is. Diéboek sluit goed aan by sy huidige rol as hoofnavorser in ’n multinasionale studie oor inligtingswanorde in die Globale Suide, wat met bystand van die Kanadese Internasionale Ontwikkelingsentrum onderneem word.

Hy is ’n genoot en direksielid van die Internasionale Kommunikasievereniging en ’n verkose lid van die Wetenskapakademie van Suid-Afrika. Boonop dien hy as ’n deskundige in die Internasionale Paneel oor dieInligtingsomgewing, en in die wetenskaplike komitee van Verslaggewers Sonder Grense. Organisasies soos UNESCO, die Wêreldgesondheidsorganisasie, Deutsche Welle Akademie, Digital Public Square, Africa Check, die Sentrum vir Internasionale Mediabystand en Open AI het al by sy kundige advies as konsultant baat gevind.

Wasserman is hoofredakteur van African Journalism Studies en Annals of the International Communication Association, mederedakteur van International Communication Gazette, en dien ook in die eindredaksies van verskeie ander internasionale vaktydskrifte.

Sy vakkundige prestasies het hom al ’n aantal toekennings besorg. Dít sluit in ’n Fulbright-genootskap, die Georg Forster-navorsingstoekenning (Alexander von Humboldt-stigting), die Neva-prys vir Joernalistiekteorie (Sint Petersburg-staatsuniversiteit) en die Stalsprys vir Kommunikasiekunde en Joernalistiek (SA Akademie vir Wetenskap en Kuns). Hy beskik ook oor ’n A-gradering van die Nasionale Navorsingstigting, wat getuig van sy internasionale leierskap op sy vakgebied en die gehalte en impak van sy navorsingsuitsette.

Besonderhede

Datum:
23 Julie 2024
Tyd:
17:3019:30

Organiseerder vir intreerede

Amira Brown
Epos:
browna@sun.ac.za
Afrikaans