Loading Events

« Alle Intreeredes

  • This event has passed.

Prof Pieter Fourie

Intreerede

12 November 2024 @ 17:3018:30

Die leuen waardeur ons die waarheid praat

Albert Camus het gesê fiksie is die leuen waardeur ons die waarheid praat. Pieter Fourie besin in sy intreerede oor die ontnugtering ná vroeë beroepsukses, en hoe dít gelei het tot ’n herevaluering van sy lewensdoelwitte, die evolusie van sy eie navorsingsagenda, en huidige heropleiding vir pedagogiese innovasie.

Terwyl hy by ’n buitelandse ambassade werk, bring sy ervaring by ’n vigsweeshuis hom voor die harde realiteite van die lewe te staan. Hierdie interaksie word ’n beslissende oomblik wat sy aandag na sosiale geregtigheid en die politiek van gesondheid verskuif. Sy loopbaan verken sedertdien die politieke bepalers van gesondheid, veral wat MIV in Afrika betref.

Nie álle liefdadigheidswerk is altruïsties nie. Fourie het herhaaldelik met sowel materiële as morele korrupsie te doen gekry en só geleer dat selfs welmenende instellings oneindige skade kan aanrig. Hierdie besef het sy begrip van die verwikkelde verband tussen armoede, politiek en gesondheid verdiep.

Hy bespreek die belang daarvan om skynbaar fiktiewe vertellings, soos scenariobou, te gebruik as ’n instrument om toekomsmoontlikhede te verken en beleid en besluitneming te verbeter. Deur onsekerheid te aanvaar en fiktiewe narratiewe te gebruik, kan rolspelers komplekse sosiopolitieke landskappe beter hanteer. Fiksie kan innoverende denke aanmoedig wat heersende aannames bevraagteken en ’n gevoel van wilsuitoefening in die vorming van die hede en die toekoms skep.

Fourie toon uiteindelik hoe persoonlike mislukkings en die waarhede wat deur moeilike ervarings ontbloot word, tot diepgaande professionele verbintenisse kan lei, wat beklemtoon hoe kragtig vertellings is om wêreldwye gesondheids- en ander uitdagings te begryp en die hoof te bied.

Want is dít nie die taak van ’n “professor” nie? Om die wêreld te bestudeer en met afgryse vervul te word, dit te probeer verbeter, en kritiese denke onder studente aan te moedig.

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Pieter Fourie het sy opleiding aan die universiteite van Stellenbosch, Parys, Londen en Johannesburg ontvang. Sy loopbaan sluit sowel die akademie as verskeie ander sektore in, waaronder rolle by die Verenigde Nasies, die Australiese Departement van Buitelandse Sake en Handel, dinkskrums, nieregeringsorganisasies, en universiteite in Australië en Suid-Afrika. Hy het al ’n wye verskeidenheid kursusse in Internasionale Betrekkinge aangebied, en sy navorsing konsentreer op die politieke bepalers van wêreldwye gesondheid. Fourie is die redakteur van Routledge se boekreeks Studies in Health in Africa, ’n voormalige redakteur van Politikon: Journal of the South African Association of Political Studies, en het voorheen as ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Politieke Studie gedien. Hy was ook vir ses jaar visedekaan van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe. Hy is die skrywer, medeskrywer of samesteller van tien akademiese boeke, en het ook ’n paar romans geskryf.

Besonderhede

Datum:
12 November 2024
Tyd:
17:3018:30

Organiseerder vir intreerede

Amira Brown
Epos:
browna@sun.ac.za
Afrikaans