- This event has passed.
Prof Carine Smith
Julie 30, 2024 @ 17:3019:30
Eksperimentele Geneeskunde: my pad na die BOOST-teorie
In haar intreerede besin prof Carine Smith oor haar persoonlike reis na volprofessorskap – en ’n entjie verder. Sy vertel van die hoogtepunte in haar loopbaan as navorser van wanaanpassings in die fisiologiese beheerstelsel in die konteks van chroniese stres en inflammatoriese siekte, in die wete dat bevordering tot volprofessor allereers op ’n geskiedenis van voortreflike akademiese prestasie berus.
Hierdie ‘kliniese’ benadering om akademici aan die hand van kwantifiseerbare maatstawwe soos toekennings, publikasies, studieleiding en wetenskaplike indekse te evalueer is noodsaaklik om akademiese verantwoordbaarheid te verseker. Nogtans kyk dit meestal die eiesoortigheid van elke individuele loopbaan in die wetenskap mis en bly die menslike faktor meermale agterweë. Daarom beskryf prof Smith, as ’n ervare akademiese mentor en kampvegter vir menslike vermoëbou en volhoubaarheid in navorsing, ook die unieke omstandighede, besluite en individuele rolspelers wat gesamentlik haar loopbaan help vorm het.
Laastens verduidelik sy haar siening van die vereistes vir ’n suksesvolle én impakryke loopbaan in die akademie deur die formulering van die BOOST-teorie.
Kort biografie
Carine Smith is ’n professor in Geneeskunde in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch (US). Sy het haar PhD in Fisiologiese Wetenskappe aan dieselfde instelling verwerf. Boonop is sy by die Suid-Afrikaanse Gesondheidsberoepsraad as ’n mediese tegnoloog geregistreer, en beskik sy oor magtiging van die Suid-Afrikaanse Veeartsenyraad om as para-veeartsenykundige op te tree.
As voorsitter van Eksperimentele Geneeskunde in die US se Departement Geneeskunde, lei sy die navorsingsgroep oor Siektemodellering en Middelontdekking. Hulle bestudeer die rol van wanaanpassings in die fisiologiese beheerstelsel by chroniese inflammatoriese toestande soos rumatoïede artritis, sistemiese lupus eritematose, outismespektrumversteuring en posttraumatiese stresversteuring. Die groep gebruik onder meer ’n wye verskeidenheid navorsingsmodelle – van sellulêre tot sebravis-, knaagdier- en menslike modelle – om siektemodellering uit te voer met die oog daarop om behandelingsteikens te identifiseer, geneesmiddels te ontdek, en die lewering en doeltreffendheid van middels te toets. In ’n besondere navorsingshoogtepunt het hulle die eerste amptelike Suid-Afrikaanse kliniese proef van ’n voorkomende etnomiddel in die konteks van chroniese inflammatoriese siekte onderneem. Prof Smith dien ook as die ondervoorsitter van die US se Navorsingsetiekkomitee vir die Sorg en Gebruik van Diere.
Sy is ’n gegradeerde wetenskaplike van die Nasionale Navorsingstigting en het reeds 98 ewekniebeoordeelde referate en twee boekhoofstukke gepubliseer en ’n internasionale patent geregistreer. Tot dusver het 17 PhD- en 49 MSc-studente onder haar studieleiding gegradueer en het sy nege nadoktorale genote onder haar vlerk geneem.
Further afield, Prof Smith serves as an academic advisor to several partners in the pharmaceutical industry, belongs to a number of international academic societies, and has presented plenary and keynote lectures in both the United States and Europe. She is the associate editor of the Q1-ranked journal Inflammopharmacology en ’n lid van die eindredaksie van Frontiers in Pharmacology, die mees aangehaalde ooptoegangtydskrif in die Farmakologie. Sy is ook ’n verkose direksielid van die internasionale vereniging vir sebravissiektemodelle (ZDMS).
As gevolg van haar passie om tot navorsingsvolhoubaarheid in Afrika by te dra, stig sy die US se eie fasiliteit vir sebravisteelt en -navorsing, waarvan sy nou as direkteur dien. Sy het meer onlangs ook bygedra tot die stigting van ZeFAN, die Afrika-sebravisnetwerk, waardeur sy graag sebravisgegronde navorsingsvermoë op die vasteland wil bou. Prof Smith het ’n bewese prestasiegeskiedenis as sameroeper en leier van multidissiplinêre navorsingsgroepe, en heelwat van die jong akademici vir wie sy oor die afgelope 15 jaar as mentor opgetree het, beklee deesdae toonaangewende poste in hetsy die akademie of die bedryf.
Nuutste Opmerkings