Loading Events

« Alle Intreeredes

  • This event has passed.

Prof Donita Africander

Intreerede

Junie 25, 2024 @ 17:3019:30

Die verbetering van vroue se gesondheid: insigte oor voorbehoedmiddels en menopousale hormoonterapie

Donita Africander se passie vir progestiene en hulle impak op vrouegesondheid is gedurende haar PhD-studie. Sedertdien ondersoek sy die biologiese uitwerking van progestiene wat in voorbehoedmiddels en menopousale hormoonterapie gebruik word. Sy stel veral belang in die newe-effekte wat met progestiene verbind word, soos ’n verhoogde voorkoms van borskanker en vatbaarheid vir MIV.

Donita en haar span gebruik die heel jongste molekulêre benaderings om die sellulêre meganismes van verskillende progestiene met behulp van modelstelsels vir immuniteit, borskanker, obesiteit en steroïedbiosintese te ondersoek. Haar intreerede toon die progressie in haar navorsing en konsentreer op (i) progestienmeganismes via steroïedreseptore, (ii) die uitwerking van progestiene op immuniteit in die vroulike geslagskanaal, (iii) die rol van progestiene in obesiteit en borskanker, en (iv) hoe progestiene steroïedbiosintese en -metabolisme beïnvloed.

Progestienmeganismes via steroïedreseptore: Progestiene is sintetiese verbindings wat ontwerp is om progestogeniese uitwerkings soortgelyk aan dié van natuurlike progesteroon te ontlok deur aan die progesteroonreseptor (PR) te bind. Die meeste van Donita se werk op hierdie gebied draai om vergelykende studies van progesteroon en verskeie klinies verkrygbare progestiene. Saam met haar span en die navorsingsgroep van prof Janet Hapgood van die Universiteit van Kaapstad ondersoek sy die binding en transkripsionele aktiwiteit van progestiene met steroïedreseptore buiten die PR, met inagneming van verskillende steroïedreseptor-isoforme en die digtheid van die reseptor.

Die uitwerking van progestiene op immuniteit in die vroulike geslagskanaal: Die studie van die uitwerking van progestiene op mukosale immuniteit in die vroulike geslagskanaal is noodsaaklik om die implikasies vir vatbaarheid van geslagskanaalinfeksies soos MIV te verstaan. Saam met prof Hapgood bestudeer Donita se span progestien-spesifieke uitwerkings op inflammasie in die serviko-vaginale omgewing, en die rol van verskillende steroïedreseptore om hierdie uitwerkings te bemiddel.

Die rol van progestiene in obesiteit en borskanker: Boonop ondersoek Donita se navorsingsgroep progestien-spesifieke meganismes in borskankermodelle, en hoe dít deur oormatige vet beïnvloed word. Omdat verskillende steroïedreseptore in borskankergewasse uitgedruk kan word en daar ’n klinies relevante wisselwerking tussen sommige reseptore bestaan, stel die groep veral belang in hoe verskillende vlakke en kombinasies van steroïedreseptore hierdie meganismes kan beïnvloed.

Die modulering van steroïedbiosintese en metabolisme deur progestiene: Die biologiese werking van progestiene word nie net deur hulle interaksie met steroïedreseptore bepaal nie, maar ook deur hulle metabolisme, farmakokinetika en biobeskikbaarheid. Vir hierdie rede bestudeer Donita se groep ook die biosintese en metabolisme van endogene steroïede in adiposiet-, bors- en byniermodelle.

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Donita Africander is ’n professor in Biochemie aan die Universiteit Stellenbosch (US). Nadat sy haar MSc in Mediese Biochemie aan die US voltooi het, het sy begin werk as ’n tegniese beampte in die Departement Biochemie. Sy het stelselmatig tot junior dosent gevorder en ingeskryf vir haar PhD, wat sy in 2010 verwerf het. Haar proefskrif het die molekulêre meganismes van twee progestiene wat algemeen in voorbehoedinspuitings in sub-Sahara-Afrika gebruik word vergelyk. Dié voormalige besoekende wetenskaplike van die Amerikaanse Population Council se Sentrum vir Biomediesenavorsing by Rockefeller Universiteit in New York is in Januarie 2024 tot volprofessor by die US bevorder.

Donita staan tans aan die stuur van die US se progestien- en steroïedreseptornavorsingsgroep. Sy was al studieleier of medestudieleier vir 24 nagraadse studente, waaronder 12 MSc studente met lof gegradueer het, en mentor vir twee nadoktorale genote. ’n Verdere vier PhD- en vier MSc-studente vind tans baat by haar bekwame leiding. Boonop het sy mentorskap voorsien aan vier jong vakkundiges in die US se ontwikkelingsprogram vir nuwelingakademici.

Saam met lede van haar navorsingsgroep en ander medewerkers het Donita reeds etlike artikels in internasionale ewekniebeoordeelde vaktydskrifte gepubliseer. Sy het al as hoofspreker by konferensies opgetree, op konferensiereëlingskomitees gedien en konferensiesessies op nasionale én internasionale vlak gelei. Sy is boonop ’n voormalige tesourier van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Biochemie en Molekulêre Biologie, en die huidige senior redakteur van beide die Journal of Molecular Endocrinology en die Journal of Endocrinology. As gasredakteur, dra Donita ook by tot ’n spesiale uitgawe van die Journal of Steroid Biochemistry and Molecular Biology oor steroïedreseptorseine in hormoonafhanklike tipes kanker. Sy is ’n kampvegter vir loopbaanvordering en diversiteit en is ’n gewaardeerde lid van die Aanstelling- en Akademiese Bevorderingskomitee sowel as die Transformasieadvieskomitee van die Fakulteit Natuurwetenskappe.

RSVP HIER

Besonderhede

Datum:
Junie 25, 2024
Tyd:
17:3019:30

Organiseerder vir intreerede

Amira Brown
Epos:
browna@sun.ac.za
Afrikaans