- This event has passed.
Prof Janis Van der Westhuizen
September 26, 2024 @ 17:3019:30
‘Die wêreld is groter as vyf’: Wêreldswaaistate en die veranderende globale orde
Te midde van toenemende internasionale spanning en die verswakking van die post-1945- globale orde met die Verenigde State aan die stuur, sal wêreldswaaistate na verwagting ’n kernrol in globale staatsbestuur vervul. Sedert die Oekraïne in 2022 binnegeval is, kies die meeste van hierdie toonaangewende moondhede (Indië, Turkye, Brasilië, Indonesië en Suid-Afrika) toenemend om hulle nie by die Globale Weste óf die Globale Ooste te skaar nie. Hierdie state volg ’n strategie van onafhanklikheid, in die verwagting dat vyandigheid tussen die Verenigde State en China hulle geleenthede sal bied om hulle eie belange te bevorder deur hulle steun te ‘swaai’. Die swaaistaatstrategie is ’n slim reaksie, maar gaan ook met bepaalde kompleksiteite gepaard. Hierdie lesing besin oor die moeilikheid én moontlikhede verbonde aan ’n swaaistaat, en die implikasies vir Suid-Afrika in die besonder.
Kort biografie
Janis van der Westhuizen is ’n professor in Politieke Wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hy verwerf die graad BA (Regte) en HonsBA aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (nou die Universiteit van Johannesburg), ’n MA aan die US, en ’n PhD aan Dalhousie-universiteit in Kanada. Met sy terugkeer uit Kanada gee hy klas aan die destydse Universiteit van Natal (nou die Universiteit van KwaZulu-Natal) voordat hy in 2002 as ’n senior dosent by die US aangestel word. Hy word in 2007 tot medeprofessor en in 2021 tot volprofessor bevorder.
Vir die eerste twaalf jaar van sy navorsingsloopbaan konsentreer hy op Suid-Afrikaanse buitelandse beleid en is hy in dié tyd medeskrywer van twee boeke en etlike vaktydskrifartikels. Gedurende sy PhD-studie ontwikkel hy ’n belangstelling in vergelykende politiek, en dus bestudeer hy sedert 2007 vergelykende buitelandse beleid in die Globale Suide. Met die klem op vergelykings tussen Brasilië en Suid-Afrika ondersoek hy onderwerpe soos ontwikkelingsamewerking, die aanbieding van megageleenthede as ’n statusaanwyser, die rol van middelmoondhede, en die opgang van Brasilië en Suid-Afrika as outoritêre ‘ontwikkelingstate’ in die 1960’s en 1970’s.
Prof Van der Westhuizen was die ontvanger van ’n prestigebeurs vir buitelandse doktorale studie van die Raad op Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) (1995-1996), ’n Izaak Walton Killam- doktorale genootskap (Dalhousie-universiteit, 1997-1999) en die US Visekanseliersprys vir uitnemende navorsing (2005). Boonop het hy navorsingstoekennings van die Open Society-stigting van Suid-Afrika sowel as die Nasionale Instituut vir Geestes- en Sosiale Wetenskappe ontvang.
Hy neem aktief deel aan ’n aantal internasionale navorsingsprojekte. Dít sluit in die Europese Unie (EU) se Sewende Raamwerk-projek PRIMO (“Powers and Regions in a Multipolar Order”) (2013-2017) en ’n projek vir die konseptualisering van die idee van ‘misplaaste state’, met finansiering van die Universiteit van Bath, Verenigde Koninkryk (2016-2019). As deel van die EU se Horizon 2020-program, dra hy tans by tot PRODIGEES (“Promoting Research on Digitalisation in Emerging Powers and Europe towards Sustainable Development”) (2020-2025).
Danksy sy vakkundige uitnemendheid was hy al ’n besoekende genoot aan die Duitse Instituut vir Globale en Gebiedstudie (GIGA, 2011), die BRICS-beleidsentrum in Rio de Janeiro (2012) en die Instituut van Sosiale en Politieke Studie by die Staatsuniversiteit van Rio de Janeiro (IESP, 2020, 2024). Die Colorado-staatsuniversiteit het prof Van der Westhuizen ook in 2019 gekies as Politiek-professor vir hulle Semester at Sea-herfstoer (September tot Desember). Daarbenewens het hy al gaslesings in onder andere Milan (2010), Sint Petersburg (2015), Tokio (2015), Rome (2023), Wroclaw (2024) en Coimbra (2024) aangebied.
Nuutste Opmerkings