Loading Events

« Alle Intreeredes

  • This event has passed.

Prof Tina Steiner

Intreerede

29 Augustus 2024 @ 17:3019:30

Narratiewe van migrasie: ’n alfabet uit Afrika

Afrika-migrasienarratiewe bied ’n fassinerende blik op die kruispunte tussen uiteenlopende wêrelde en onthul die komplekse dinamiek tussen mobiliteit en al hoe strenger grensbeheer. Onderliggende vraagstukke soos wie kan trek, wie hulle kan vestig, waar en in watter omstandighede nooi lesers om die idiosinkratiese kenmerke van die leefwêrelde in dié narratiewe te ondersoek. Deur persoonlike en kollektiewe ervarings inmekaar te weef, vertel Afrika-migrasienarratiewe van individue en gemeenskappe se reis deur die uitdagings van ontworteling en integrasie – of die gebrek daaraan – in nuwe omgewings. Hierdie letterkunde verdiep lesers se begrip van die sielkundige aspekte van die migrasie-ervaring, en die konflik en verbande tussen selfbeskikking en strawwe omstandigheids- en sosiale uitdagings in transnasionale, interkontinentale kontekste. Met hulle lewendige verhale beeld die skrywers die uitdagings uit waarvoor migrante te staan kom om sinvolle vorme van sosialiteit te handhaaf terwyl hulle by vreemde omgewings aanpas, en lig onder meer kwessies van vervreemding en diskriminasie uit. Veral belangrik in dié verband is die diepgaande rassisme waarmee Afrika-migrante te doen kry, wat hulle kwesbaarder maak as ander migrantgroepe wat moeiliker is om as buitelands te identifiseer, en hulle aansienlik benadeel. Hierdie rassegeweld vererger die stryd om integrasie en aanvaarding, maar toon ook op treffende wyse die veerkragtigheid en aanpasbaarheid van migrante wat ondanks teëspoed aan skoonheid en vreugde vasklou. Dié intreerede bied ’n eklektiese beskouing van hierdie tipe letterkunde en verduidelik waarom dit saak maak.

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Na haar voor- en nagraadse studie aan die Universiteit van Kaapstad sluit Tina Steiner haar in 2007 as nadoktorale genoot by die Universiteit Stellenbosch (US) aan. Sy word ses maande later as ’n dosent in Engels aangestel. Steiner is in 2021 tot volprofessor bevorder en dien tans as voorsitter van die Departement Engels.

’n Jare lange belangstelling in die letterkunde uit Engelssprekende Afrika het die rigting van haar professionele navorsingsloopbaan bepaal. Met haar navorsing en onderrig dra sy by tot groter erkenning vir die kennisargief wat in die kreatiewe skryfkuns van Afrika opgesluit lê. Haar eerste monografie, wat op haar PhD gegrond was, het gehandel oor Oos-Afrika-migrantfiksie, in die besonder die prosesse van taal- en kultuuraanpassing en hoe dít subjekvorming en samehorigheid gelyktydig bevorder én beperk. Hierdie werk het in 2009 as Translated People, Translated Texts: Language and Migration in Contemporary African Fiction by St Jerome Press, Manchester, verskyn. Die boek is in 2014 weer deur Routledge uitgegee en bly haar mees aangehaalde werk.

Haar tweede monografie, Convivial Worlds: Writing Relation from Africa, wat in 2021 as deel van die Routledge-boekreeks “Literary Cultures of the Global South” gepubliseer is, beklemtoon vorme van feestelikheid in fiksie en lewensverhale uit Oos- en Suider-Afrika. Dit konsentreer op gewone oomblikke van erkenning, gasvryheid, humor en welwillendheid, en vestig so die aandag op beduidende repertoires van herstel in ’n wêreld wat deur ongelyke magsverhoudinge gebreek is. Die boek handel oor idees van wêreldvorming, individualiteit en relasionele sosiale denkbeelde uit ’n Afrika-oogpunt. Dit het in 2023 eervolle vermelding in die kategorie vir gevestigde navorsers by die Suid-Afrikaanse Wetenskapsakademie (ASSAf) se boekpryse vir die geesteswetenskappe ontvang.

Daarbenewens het Steiner al wyd gepubliseer in geakkrediteerde plaaslike en internasionale vaktydskrifte, en in spesiale uitgawes en vakpublikasies waarvan sy medesamesteller was. Sy was onder andere die hoofsamesteller van die Engelse vertaling van DDT Jabavu se Xhosa-reisbeskrywing In India and East Africa/E-Indiya nase East Africa, wat Wits Press in 2020 in tweetalige vorm uitgegee het. Danksy die werk van die samestellers is hierdie taamlik onbekende reisbeskrywing uit die argief opgediep en in Engels sowel as ’n bygewerkte Xhosa-ortografie aan die hedendaagse leser bekend gestel. Steiner was ook medesamesteller van die bundel Critical Perspectives on Abdulrazak Gurnah (Routledge, 2023).

Sy is sedert 2017 ’n mederedakteur van die vaktydskrif Eastern African Literary and Cultural Studies. Hierdie Taylor & Francis-tydskrif hou ten nouste verband met die tweejaarlikse konferensiereeks oor Oos-Afrika-letterkunde en -kultuurstudies, wat Steiner reeds sedert aanvang bywoon. As internasionale medewerker aan projekte oor Indiese Oseaan-studies, populêre Afrika-genres, vertaalstudies en kontemporêre Afrika-letterkunde, werk sy saam met kollegas op die vasteland én elders.

Besonderhede

Datum:
29 Augustus 2024
Tyd:
17:3019:30

Organiseerder vir intreerede

Amira Brown
Epos:
browna@sun.ac.za
Afrikaans