Loading Events

« Alle Intreeredes

Prof Yin-Zhe Ma

Intreerede

13 Augustus 2024 @ 17:3018:30

Die ontrafeling van die heelal se geheime

Danksy moderne tegnologieë het ons begrip van die heelal aansienlik uitgebrei deur die ontdekking van die menigte sterrestelsels benewens ons eie, die bestaan van geheimsinnige donker materie, en die toenemende tempo waarteen die heelal uitsit. Hierdie beduidende vooruitgang het my aangespoor om dieper te delf in die komplekse en verwikkelde teorieë en waarnemings met die doel om deur innoverende waarnemingsmetodes en berekeningsinstrumente nuwe terrein in die fisika te verken.

In my intreerede vertel ek van die belangrikste mylpale op my akademiese reis te midde van die snelle evolusie van kosmologiese denke, en toon ek die merkwaardige deurbrake en unieke uitdagings ten opsigte van die Oerknalteorie. Ek kyk ook na die beplande werk aan die voorpunt van kosmologiese waarnemingsverkenning oor die volgende dekade en werp lig op moontlike gebiede waaruit nuwe fisika kan voortspruit.

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Prof Yin-Zhe Ma is die bekleër van die Leerstoel in Berekeningsastronomie aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hy verwerf ’n baccalaureusgraad in Fisika aan die Universiteit van Nanjing, ’n magistergraad aan die Chinese Wetenskapsakademie se Instituut vir Teoretiese Fisika, en ’n PhD in Astronomie aan die Universiteit van Cambridge. Hy dien as nasionale genoot van die Kanadese Instituut vir Teoretiese Astrofisika (CITA) aan die Universiteit van Brits-Columbië en ’n navorsingsgenoot van die Universiteit van Manchester voordat hy hom in 2015 by die Universiteit van KwaZulu-Natal aansluit en word in 2021 tot volprofessor bevorder. In 2023 word hy in sy huidige pos by die US aangestel.

Met sy navorsing op die gebied van teoretiese en berekeningsastrofisika verdiep hy ons begrip van die grondbeginsels van die heelal en lê hy die aard van donker energie en donker materie bloot. Prof Ma vervul ’n leiersrol in Suid-Afrika se deelname aan verskeie internasionale samewerkingsprojekte op die terrein van astronomie. Dít sluit in die Square Kilometre Array (SKA), die MeerKAT-teleskoop, die Planck-wetenskapspan, die Hydrogen Epoch Reionization Array (HERA), die CMB-S4-proefneming, en die Legacy Survey of Space and Time (LSST) van die Vera C. Rubin-sterrewag. Sy publikasies, wat meer as 130 referate insluit, is reeds meer as 29 000 keer aangehaal. Hy is in 2022 tot lid van die Wetenskapsakademie van Suid-Afrika (ASSAf) en in 2021 en 2023 tot lid van die raad van die Royal Society of South Africa verkies.

Besonderhede

Datum:
13 Augustus 2024
Tyd:
17:3018:30

Organiseerder vir intreerede

Amira Brown
Epos:
browna@sun.ac.za
Afrikaans