Loading Events

« Alle Intreeredes

  • This event has passed.

Prof Zwelinzima Ndevu

Intreerede

November 5, 2024 @ 17:3019:00

Ambidekstrie in staatsdiensleierskap: ’n Gevallestudie van die Suid-Afrikaanse Regering van Nasionale Eenheid

In sy intreerede ondersoek prof Zwelinzima Ndevu hoe staatsdiensamptenare en -leiers, veral in die konteks van die Suid-Afrikaanse Regering van Nasionale Eenheid (RNE), die vraag na digotomiese vermoëns kan bestuur deur ambidekstrie in leierskap te ontwikkel. Daar is ’n behoefte om te verstaan hoe openbare leiers die wedywerende vereistes van radikale en inkrementele verandering kan balanseer. Die teorie van ambidekstrie bied insig in hoe die staatsdiens die dilemmas van innoverende vermoëontwikkeling kan bestuur terwyl hulle ook die bestaande vaardighede in instellings ontgin om vir buigsaamheid en outonomie voorsiening te maak.. Zwelinzima put uit kontemporêre denke oor openbare leierskap, die konsep van ambidekstrie én die nuwe vorm van leierskap wat as “ambidekstries” beskryf word om aan te voer dat die paradoksale eise wat aan die openbare sektor gestel word leiers vereis wat sowel polities as administratief vaardig is.

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Zwelinzima Ndevu is die huidige direkteur van die Skool vir Publieke Leierskap (SPL) in die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Hy is ook die akademiese hoof van die program HonsBCom in Openbare en Ontwikkelingsbestuur. As deel van laasgenoemde graadprogram sowel as die Diploma in Openbare Verantwoordbaarheid en die MBA, gee hy klas in die bestuur van institusionele samewerking, leierskap en verandering, en institusionele gedrag.

Zwelinzima se kundigheidsgebiede sluit in openbare leierskap, menslikehulpbronbestuur met spesialisering in prestasiebestuur, sowel as etiek, openbare deelname, en plaaslike regering. Dít het al aanleiding gegee tot ’n aantal ewekniebeoordeelde boekhoofstukke, vaktydskrifartikels en nasionale en internasionale konferensieaanbiedings uit sy pen, en sy aanstelling as ’n eksterne eksamineerder van meesters- en doktorale proefskrifte van verskeie Suid-Afrikaanse en buitelandse universiteite.

In groter US-verband dien hy ook as voorsitter van die Universiteit se Teenkorrupsiesentrum vir Opvoeding en Navorsing (ACCERUS) en raadsvoorsitter van die Allan Gray Sentrum vir Afrika-entrepreneurskap (AGCAE). Buite die Universiteit het die Minister van Hoër Onderwys hom aangestel as voorsitter van die beheerraad van die King Hintsa Kollege vir Tegniese en Beroepsonderwys en -opleiding. Zwelinzima is ook die direksievoorsitter van die Inclusive Society Institute, wie se werk daarop afgestem is om veelpartydemokrasie in Suid-Afrika te versterk. Daarbenewens dien hy in die nasionale rade van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Openbare Administrasie en Bestuur, en die Vereniging van Suider-Afrikaanse Skole en Departemente van Openbare Administrasie en Bestuur.

Hy is ’n toonaangewende kenner op die terrein van kortkursusopleiding en professionele konsultasie, en dra gereeld tot televisie- en radio-uitsendings by as ’n deskundige ontleder van openbare leierskap en administrasie, staatsbestuur en -prestasie, plaaslike regering en politieke sake. Zwelinzima is ’n sterk ondersteuner van interdissiplinêre navorsing, waaruit etlike vermoëbouprojekte in Suid-Afrika en die buiteland reeds voortgespruit het.

Besonderhede

Datum:
November 5, 2024
Tyd:
17:3019:00

Organiseerder vir intreerede

Amira Brown
Epos:
browna@sun.ac.za
Afrikaans