- This event has passed.
Prof Lambert Engelbrecht
Oktober 29, 2024 @ 17:3019:30
Vyf olifante in die vertrek van maatskaplike werk: ’n Outo-etnografiese meta-ontleding
Hierdie intreerede is op ’n diverse gehoor afgestem; daarom integreer ek teorie en praktyk, wat kenmerkend is van maatskaplike werk as ’n praktykgegronde professie sowel as ’n akademiese dissipline. Ek gebruik die metafoor van “die olifant in die vertrek” om die beweegrede te verduidelik vir my navorsing oor die afgelope 25 jaar, wat hoofsaaklik handel oor misgekykte leemtes, voortslepende probleme en alomteenwoordige uitdagings waarvan die samelewing bewus is, maar wat hulle kies om te ignoreer. Met hierdie metafoor dra ek my navorsingsrepertoire op ’n kreatiewe en toeganklike manier oor om dieper denke te bevorder, besinning aan te moedig, en die onsêbare te sê.
Die mees geldige, geloofwaardige en betroubare metodologie vir die identifisering van die olifante in die vertrek van maatskaplike werk wat ek in my navorsing teëgekom het, en vir die oordenking, ontleding en kritiese evaluering van my eie navorsingsuitsette, is ’n outo-etnografiese meta-ontleding. Met dié benadering is ek tegelyk subjek en ontleder deur oor my eie navorsing na te dink en dit in internasionale en Suid-Afrikaanse maatskaplikewerkverband te vertolk. Dít vereis eerstens dat ek my eie “vertrek” bekend stel: Ek moet erkenning gee aan die mense, plekke en prosesse wat tot my persoonlike kennis, vaardighede en waardes bygedra het. Daarna volg ’n uiteensetting van wat ek in my vertrek doen, wat in wese die navorsingsmetodologie van outo-etnografiese meta-ontleding beskryf. Kortom behels dit ’n stelselmatige oorsig en kwalitatiewe ontleding van studies wat aan die hand van bepaalde kriteria gekies is uit ’n korpus van 215 navorsingsuitsette waarby ek betrokke was. Daarbenewens is dit noodsaaklik om die “vier mure” van die vertrek van maatskaplike werk te beskryf om sodoende die paradigma van die eenheid van ontleding vas te stel. Vir dié doel werp ek lig op die internasionale en plaaslike evolusie van maatskaplike werk, ’n wêreldwye definisie van maatskaplike werk, plaaslike kenmerke, en die konfigurasie van maatskaplikewerkpraktyk in Suid-Afrika.
’n Robuuste proses van tematiese ontleding word vervolgens onderneem om vyf herhalende temas uit die voormelde datapoel te identifiseer, wat dan as olifante in die vertrek van maatskaplike werk aangebied word: (i) maatskaplikewelsynsbeleid en maatskaplike ontwikkeling; (ii) finansiering vir maatskaplike ontwikkeling, en politieke invloede; (iii) maatskaplikewerkbestuur en -supervisie; (iv) die onderrig en leer van maatskaplike werk; en (v) maatskaplikewerkpraktyk en -navorsing.
Hierdie navorsingsmetodologie stel my in staat om nie net elke olifant in die vertrek van maatskaplike werk te identifiseer en aan te bied nie, maar om dit ook te ondersoek as dwarsliggende, oorvleuelende temas wat nié noodwendig uit my aanvanklike navorsingstudies geblyk het nie. Op grond daarvan word implikasies vir maatskaplikewerkpraktyk aan die hand gedoen, sowel as aanbevelings oor hoe die geïdentifiseerde olifante uit die vertrek verwyder kan word. Dít bied op sy beurt ’n raamwerk vir my toekomstige bydraes tot die vertrek van maatskaplike werk, en dus vir my beoogde navorsingstrajek.
Kort biografie
Lambert K Engelbrecht is ’n volprofessor en voormalige voorsitter van die Departement Maatskaplike Werk aan die Universiteit Stellenbosch (SU). Hy het die grade BDiac en HonsDiac (Maatskaplike Werk) aan Hugenote Kollege verwerf en later ook ’n magistergraad in Maatskaplikewerkbestuur en -supervisie (cum laude) en ’n DPhil (Maatskaplike Werk) aan die US behaal.
Hy begin sy professionele loopbaan in 1986 as ’n eerstelinie- maatskaplike werker en doen oor die jare uitgebreide ervaring as ’n supervisor, bestuurder, dosent en navorser op dié gebied op. Hy het die afgelope drie dekades verskeie voor- en nagraadse Maatskaplikewerkmodules aangebied en as studieleier vir meer as 50 magister- en doktorale studente by die US opgetree. Benewens die lewering van etlike internasionale referate, modulemoderering, tesiseksaminering, werksessieaanbiedings en deelname aan verskeie konferensies dien hy ook as die hoofredakteur van Social Work/Maatskaplike Werk, ’n toonaangewende, internasionaal geakkrediteerde ooptoegangvaktydskrif. Aan die gemeenskapsfront is hy betrokke by die bestuur, supervisie en beleidspraktyke van aangewese privaat en openbare maatskaplikewerkorganisasies op wêreldvlak.
As alleenouteur, lid van internasionale navorsingspanne én saam met nagraadse studente publiseer hy wyd op sy spesialiteitsgebiede. Dít sluit in maatskaplike werk, maatskaplike ontwikkeling, maatskaplikewerkonderrig, -bestuur en -supervisie, en die invloed van neoliberale diskoers op maatskaplike welsyn in internasionale en Suid-Afrikaanse verband. Sy akademiese impak blyk duidelik uit meer as 1 500 sitate van sy werk, waarvan ’n aansienlike gedeelte ook as voorgeskrewe leeswerk by plaaslike en internasionale universiteite dien. Sy meer as 215 navorsingsuitsette het hom verskeie gesogte eerbewyse besorg, waaronder van die Nasionale Vereniging van Maatskaplike Werkers (2016), die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (Stalsprys in 2017), die Vereniging van Suid-Afrikaanse Maatskaplikewerk-opleidingsinstansies (ASASWEI) (2019), en die US (Kanselierstoekenning in 2021). In 2018 word hy die eerste voltydse Maatskaplikewerkdosent in Suid-Afrika wat ’n gradering as ’n internasionaal gerekende navorser van die Nasionale Navorsingstigting ontvang.
Nuutste Opmerkings