Loading Events

« Alle Intreeredes

  • This event has passed.

Prof Nando Ferreira

Intreerede

September 3, 2024 @ 17:3019:00

Ontdekkingstogte en transformasies: Stories in ledemaat-rekonstruksie

Prof Nando Ferreira besin in sy intreerede oor sy loopbaan in ledemaat-rekonstruksie aan die hand van ’n aantal voorbeelde van pasiëntverhale. Die praatjie kyk terug op sy reis van ’n ortopedie-student tot ’n toonaangewende spesialis in ledemaat-rekonstruksie.

Met verwysing na voorbeeldgevalle dink prof Ferreira na oor sy beroepspad, die impak van innoverende chirurgiese tegnieke, sy navorsingsbydraes, en sy rol as mentor vir internasionale genote en dosent in ledemaat-rekonstruksietegnieke vir chirurge van oor die hele wêreld. Om die agtergrond vir die ontwikkeling van die beroep te skets, verwys die aanbieding ook na die invloedryke werk van baanbrekers op die terrein.

Prof Ferreira vertel die verhale van pasiënte wat ver gereis het vir lewensveranderende chirurgie en toon so die diepgaande impak van ledemaat-rekonstruksie op individue se lewens én werp lig op die beduidende vooruitgang op dié gebied.

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Sedert hy hom in 2016 by die Universiteit Stellenbosch (US) aangesluit het, staan prof Nando Ferreira aan die stuur van die Kliniese Eenheid: Tumor, Sepsis en Rekonstruksie in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Hy is in 2020 tot volprofessor bevorder. Hy spesialiseer in muskuloskeletale infeksie en posttraumatiese ledemaat-rekonstruksie en is daartoe verbind om behandelingsmetodes en pasiënt-uitkomste op hierdie komplekse gebiede te verbeter. Dít doen hy deur navorsing, onderrig en samewerking.

Sy akademiese reis sluit ’n BSc in Menslike Fisiologie en Genetika en ’n mediese graad van die US in, gevolg deur ortopediese opleiding aan die Universiteit van KwaZulu-Natal. Bykomende opleiding in die Ilizarov-tegniek vir beenrekonstruksie gedurende ’n besoek aan Rusland in 2011 brei prof Ferreira se kundigheid verder uit. In 2015 voltooi hy sy doktorale navorsing oor innoverende benaderings tot tibiale niehegtingsbehandeling.

As ’n opvoeder, het hy al studieleiding voorsien aan meer as 20 magisterstudente en vyf PhD-kandidate om sodoende die volgende geslag ortopediese beroepslui te help kweek. Daarbenewens dien hy as direkteur van die Genootskap vir Ledemaatverlenging en -rekonstruksie aan die US, in welke hoedanigheid hy al chirurge van oor die hele wêreld opgelei het. Hy het reeds meer as R8 miljoen in toekennings bekom om sy genootskap- en opleidingsprogramme te ondersteun, wat aansienlik bygedra het tot die ontwikkeling van ledemaat-rekonstruksietegnieke en regeneratiewe geneeskunde.

Buite die US is prof Ferreira aktief betrokke by die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Ledemaatverlenging en -rekonstruksie, en was hy onder meer van 2016 tot 2023 voorsitter van dié organisasie. As hoofredakteur van die South African Orthopaedic Journal, vervul hy ’n kernrol om die vakkundige diskoers op die terrein van ortopedie te rig.

Hierdie produktiewe outeur het reeds meer as 150 ewekniebeoordeelde vaktydskrifartikels en agt boekhoofstukke die lig laat sien. Met sy navorsing, wat al in vooraanstaande tydskrifte soos The Bone & Joint Journal en Injury verskyn het, lewer hy ’n voortgesette bydrae tot ortopediese kennis en praktyk.

Besonderhede

Datum:
September 3, 2024
Tyd:
17:3019:00

Organiseerder vir intreerede

Amira Brown
Epos:
browna@sun.ac.za
Afrikaans