Loading Events

« Alle Intreeredes

  • This event has passed.

Prof Ranel Venter

Intreerede

Oktober 3, 2024 @ 17:3019:00

Kaalvoetkwessies

Prof Ranel Venter bied in haar intreerede ’n omvattende oordenking van haar dekades lange reis op die terrein van Sportwetenskap. Die aanbieding lig prof Venter se belangrikste akademiese en sosiale-impakbydraes uit, met die klem op haar baanbrekernavorsing oor kaalvoetoefening, sowel as oor voetmorfologie en motoriese prestasie onder Suid-Afrikaanse kinders en adolessente wat gewoonlik kaalvoet grootword. Hierdie innoverende navorsing het nie net begrip op dié terrein verbeter nie, maar het ook gelei tot die stigting van BanziFeet, ’n afwentelmaatskappy wat tot stand gebring is deur Innovus, die Universiteit Stellenbosch se Afdeling Innovasie en Kommersialisering, om ’n unieke sertifiseringsmerk vir skoolskoene te voorsien.

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Prof Ranel Venter is ’n professor in Sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US). Haar akademiese reis het as ’n tegniese beampte en assistentnavorser in die Departement Liggaamlike Opvoeding begin. Sy klim oor die jare stelselmatig die akademiese leer totdat sy in April 2020 tot volprofessor bevorder word.

Ranel word as ’n gevestigde navorser deur die Nasionale Navorsingstigting erken, en het al aansienlik tot haar vakgebied bygedra. Altesaam 43 magister- en 11 PhD-studente het reeds onder haar studieleiding of medestudieleiding gegradueer. Trouens, een van haar doktorale gegradueerdes was die eerste in die geskiedenis van die Universiteit om ’n gesamentlike PhD tussen die US en KU Leuven in België te verwerf. Haar navorsing en publikasies oor ʼn holistiese benadering tot die herstel en welstand van sportmense het gelei tot haar insluiting op ʼn internasionale paneel van 14 kundiges op die gebied van herstel in sport. Ranel het ook al twee nadoktorale navorsingsgenote onder haar vlerk gehad, en publiseer saam met haar navorsingsgroep en medewerkers wyd in sowel internasionale as nasionale ewekniebeoordeelde vaktydskrifte. Sy bied haar navorsing by talle konferensies aan, waaronder as gasspreker. Haar werk verskyn ook gereeld in die gedrukte media en op televisie en radio.

Ranel se prestasies het haar twee US Rektorstoekennings (2012, 2015) en die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie se Toekenning vir Voortreflike Navorsingsuitsette (2021) besorg. Daarbenewens het sy in 2023 ’n spesiale toekenning van die US en sy Afdeling Innovasie en Kommersialisering, Innovus, ontvang vir haar innoverende werk in die ontwikkeling van die sertifiseringsmerk vir skoolskoenontwerpe BanziFeet, ’n US-afwentelmaatskappy.

Buite haar akademiese en navorsingswerk geniet Ranel ’n vervullende gesinslewe saam met eggenoot Willie Venter, seun Willem, en hulle geliefde aanneemhond, Emma.

Besonderhede

Datum:
Oktober 3, 2024
Tyd:
17:3019:00

Organiseerder vir intreerede

Amira Brown
Epos:
browna@sun.ac.za
Afrikaans