Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Safecom vs Phonenet

As dit kom by tegnologie staan Universiteit Stellenbosch aan die voorpunt en kan ons met trots se dat ons gereeld eerste is met nuwe verwikkelinge. Hoewel dit tot ons voordeel strek, beteken dit ook dat ons soms groot uitdagings teёkom. Die afgelope twee jaar  is  ‘n nuwe drukkerstelsel in werking gestel. Safecom hanteer tans reeds ‘n groot volume drukwerk op kampus en ten spyte van sporadiese probleme, hou dit tog ook voordele in vir gebruikers. 

Die grootste voordeel van die stelsel is dat sensitiewe of persoonlike dokumente nie sigbaar by ‘n drukker lê  totdat dit gaan haal word nie. Minder papier word vermors deurdat kollegas nie jou drukstuk per ongeluk tussen hulle dokumentasie neem en jy dit weer moet druk, of per ongeluk te veel kopieё  na die drukker stuur en nie kan kanselleer voor dit te laat is nie.

Met ‘n Safecom-drukker selekteer jy bloot die SecurePrint opsie op jou rekenaar, hou jou kaart op die kaartleser van die naaste drukker en kies Pull Print op die raakskerm. Jy kan jou drukstuk by enige Safecom drukker op kampus gaan optel.

Die drukkertou word outomaties op elke kampusrekenaar opgestel van die bediener kant af en dit is nie nodig om te wag dat ‘n IT tegnikus ‘n afspraak met jou maak vir die opstel van jou drukker indien jy ‘n nuwe rekenaar gekry het nie – dus kan jy dadelik jou werk begin druk wanneer die rekenaar in gebruik geneem word.

Aan die ander kant van die spektrum bestaan daar egter ouer tegnologie wat ‘n soortgelyke funksie vervul. En natuurlik soms verwarring veroorsaak.

Menige van julle sal waarskynlik die leser op die foto regs herken. Hierdie is ‘n voorbeeld van die kaartleser wat gebruik word vir drukkers en fotokopieermasjiene wat nog op die Phonenet-stelsel funskioneer, byvoorbeeld by die fotokopieersentrum in die Neelsie en JS Gericke Biblioteek.

Met die Phonenet-stelsel word elke personeellid en student op kampus se UT-nommer gekoppel aan ‘n persoonlike rekening. Departemente maak gebruik van departementele rekeninge wat aan kostepunte gekopppel word. Elke keer as die betrokke persoon sy kaart gebruik by ‘n kaartleser word daar kopieerkrediete van sy rekening afgetrek. 

Hierdie is die enigste stelsel wat nog van die magneetstrook op die personeelkaart gebruik maak. Ander stelsels op kampus maak reeds gebruik van die skyfie op die personeelkaart om krediete te lees. Phonenet moet mettertyd uitfasseer word aangesien opgradering nie moontlik is nie en tans word beoog om hierdie doelwit teen 2014 te bereik. Daar is op die oomblik ongeveer 117 masjiene is wat nog die verouderde kaartlesers gebruik. 

Meer oor Safecom drukkers op kampus

Meer oor Safecom SmartPrint

 

(Inligting verskaf deur Ronel Reynecke en Hendrik le Roux)

 

Tags:

One Response to “Safecom vs Phonenet”

  1. Johan Thom says:

    ‘n Groot frustrasie met die Safecom stelsel is dat dosente nie drukwerk wat verband hou met doseerverpligtinge daarmee kan uitdruk nie, omdat slegs jou persoonlike rekening daaraan gekoppel word. Dit beteken dat mens alle sodanige drukwerk per e-pos aan die sekretaresse moet stuur sodat dit vanaf die departementele kaart gedruk kan word. Hierdie omslagtige prosedure mors tyd en skep vir almal onnodige werk.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.