Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Safecom – die feite en die vooruitsig

Die woord Safecom wek die afgelope paar maande `n kombinasie van paniek en frustrasie – en dis net by IT-personeel. Want net soos julle, die gebruikers op kampus, is ons ook moeg gesukkel. Die goeie nuus is egter, dat ons na al die maande se gewroeg en naels stomp kou nader is aan `n oplossing en die lig aan die einde van die tonnel inderdaad nie `n aankomende trein is nie.

Safecom se probleme het in September 2012 ontstaan, maar omdat dit `n redelike rustige tydperk was met `n laer lading, was die probleem nie noodwendig sigbaar nie. Met die massas drukwerk aan die einde van die akademiese jaar was die effek op eindgebruikers, en veral studente, egter klinkklaar.

Die stelsel wat aanvanklik implementeer is, was nie voldoende vir ‘n veranderende en groeiende omgewing nie. Beide die bedryfsomgewing  en die produk se eienskappe het oor afgelope paar jaar verander (nuwe opgraderings is onder andere ook intussen uitgerol) en gevolglik was die oorspronklike stelselontwerp nie optimaal nie. 

Met die inagname van bogenoemde is daar besluit om `n internasionale Safecom-deskundige en `n  plaaslike HP-kundige se advies oor die huidige opstelling en stand van sake, in te win. Met die hulp van hierdie kundiges en IT se span is daar sinvolle planne in plek gesit en implementeer om so spoedig moontlik `n oplossing vir die netelige probleem te kry.

`n Groot gedeelte hiervan is reeds suksesvol afgehandel, maar omdat sagteware op alle drukkers opgradeer moet word, is dit vanselfsprekend`n tydrowende oefening. Daar is reeds `n verbetering aan die stelsel se funksionering, in vergelyking met verlede kwartaal, te bespeur.

IT is deurlopend besig om die bestaande uitdagings gekoördineerd en so vinnig as moontlik die hoof te bied. Dit behels onder meer die skep van meer interne stelselkapasiteit, die verkleining van die druklêers deur die implementering van ʼn meer effektiewe drukkerdrywer, die implementering van meer stabiele drukker firmware, implementering van meer stabiele Safecom programmatuur op elke drukker en daarmee saam die optimering van die hele konfigurasie. 

Ons het groot waardering vir die geduld wat personeel en studente aan die dag lê en nooi personeel en studente uit om probleme by die RGA-bestuurders of IT Hulplyn aan te meld.  

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.