Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Vista & Blackboard staan opsy vir Moodle

Vanaf 2014 skakel die Universiteit se elektroniese onderrigleerbestuurstelsel oor van Vista en BlackBoard Learn na ‘n oop-bron e-Leer-stelsel, Moodle. Die oorskakeling is genoodsaak deur  ‘n verandering in die Universiteit se strategie en tekortkominge in die bestaande stelsel wat nie reggestel kon word nie. Die besluit is gegrond op `n deeglike ondersoek. Moodle is dus voortaan die standaard e-Leer stelsel van die Universiteit.

‘n Taakspan (Johann Kistner, drr Antoinette van der Merwe & JP Bosman en me Marinda van Rooyen) het die evaluering gedoen, insluitend konsultasie met akademiese, administratiewe en steundienste personeel.  Daar is ook gekyk na hoe die stelsels suksesvol en op groot skaal by ander universiteite gebruik word.  Uiteindelik is die besluit gemaak op grond van ‘n stel vooraf gedefinieërde, geweegde kriteria. Dit het volgende in ag geneem:

  1. Toegang tot die stelsel van buite kampus moet betroubaar wees. Daar is `n beduidende groei in die gebruik van e-Leertegnologie van buite die kampus:  dienskursusse, nagraadse modules, en studente wat vanaf hul huise werk.
  2. E-assessering word toenemend gebruik, dus is `n betroubare assesseringskomponent noodsaaklik.  
  3. ’n Mobiele koppelvlak wat op alle toerusting werk, agv die groot toename in die gebruik van mobiele toerusting (selfone, tabletrekenaars, skootrekenaars).
  4. ‘n Akkurate tredhoustelsel om rekord te hou van studente se vordering. 
  5. Af-lyn funksionaliteit om voorsiening te maak dat studente die leermateriaal en ander inligting maklik kan sinkroniseer na  toerusting terwyl hulle op kampus is en dan tuis kan werk sonder om aanlyn te wees.
  6. ‘n Meer soepel lisensiëringsmodel aangesien beperkende lisensieooreenkomste nie meer volhoubaar is indien daar groter gemeenskapsbetrokkenheid en samewerking met skole en ander Universiteite, veral op die Afrika kontinent (bv in die CHEC kursusse, skole ondersteuning) in die vooruitsig gestel word nie. 

In praktyk beteken dit dat Moodle vanaf Januarie vir alle modules gebruik word, en dat Vista en BlackBoard net tot Maart 2014 vir 2013 modules beskikbaar bly (tot na die laaste eksamengeleentheid).

Die kort tydperk voor die implentering moet plaasvind bied `n groot uitdaging vir dosente om inligting  betyds te migreer, asoof aan IT om die bedieners betyds gereed te kry.  Die projek word tans gedefinieer en daar word streng by `n tydlyn gehou om te verseker dat hierdie doelwit bereik word. 

Meer inligting sal ook in volgende uitgawes van Bits & Bytes kommunikeer word. 

4 Responses to “Vista & Blackboard staan opsy vir Moodle”

  1. Sonja van der Westhuizen says:

    Dankie Johan – ons sien ook uit!

  2. Sonja van der Westhuizen says:

    Dankie Antoinette, dis goed om te hoor. Ons glo dit sal die lewe sommer heelwat makliker maak vir beide akademici en studente.

  3. Ek bied ‘n kredietdraende kort program vir dosente van drie universiteite aan. Ek het hierdie jaar geskuif van webstudies na Moodle. Dit werk baie goed Dit is baie gebruikersvriendelik studente het geen probleem om toegang te kry nie. Dankie IT vir die verbetering.

  4. Johan Thom says:

    Ek verwelkom hierdie skuif. Ek het die afgelope paar maande in Berlyn met Moodle kennis gemaak, en dit is ‘n baie eenvoudiger, maar m.i. meer effektiewe stelsel. Ek sien daarna uit om dit van volgende jaar te kan gebruik.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.