Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Slyp jou taalkundige tande by `n Oopbron-vertalingsdag

Is jy lus om jou taalkundige tande te slyp, jou breinspiere te rek en een dag  van jou tyd te gee aan ‘n opvoedingsprojek met ‘n verskil? Sluit by ons op Saterdag 17 Augustus in die Ingenieursfakulteit aan, en help deur ‘n hoofstuk van ‘n oopbron skoolhandboek na Afrikaans te vertaal. 

Siyavula is ‘n sosiale onderneming en uitvloeisel van die Shuttleworth Foundation en glo in mededeelsaamheid, gemeenskap, samewerking en toeganklikheid. Deur tegnologie in te span streef hulle daarna om die hoogste kwaliteit gratis opvoedkundige hulpbronne te skep. 

Al Siyavula se handboeke is ‘n spanpoging deur ‘n gemeenskap van vrywilligers,  waaronder opvoeders, akademici en professionele mense. Hierdie geïnspireerde vrywilligers se doel is om kennis vrylik beskikbaar te stel aan alle leerders en opvoeders in Suid-Afrika.

Dit word vrygestel met ‘n oop kopiereglisensie, wat beteken dat ander dit wettiglik kan versprei, meng, verander en voortbou daarop, selfs kommersieël, mits hulle Siyavula krediet gee vir die oorspronklike werk. Die beginsel is soortgelyk aan oopbron-sagteware deurdat enigiemand aangemoedig word om die boeke wettiglik af te laai, te kopieer, te deel en te versprei – heeltemal gratis!

Opvoeders het ook die vryheid om dit te redigeer, verander, vertaal en kontekstualiseer. Die handboeke het hul eie webwerwe – kyk by http://everythingmaths.co.za/ en http://everythingscience.co.za/. Dis ook beskikbaar op selfone, MXit en aflaaibare PDFs, asook in gedrukte vorm.

Hangende goedkeuring sal al die handboeke gedruk word deur die Departement van Basiese Onderwys en na alle openbare skole versprei word in 2014. Die onderwysdepartement het verlede jaar en ook vroeër vanjaar van Siyavula se handboeke gedruk en na alle openbare skole versprei – voorwaar ‘n opwindende gebeurtenis vir opvoeding in Suid-Afrika.

Die hoofstukke word aanlyn vertaal dmv ‘n webwerf, Transifex en in hanteerbare dele opgedeel sodat ‘n enkele persoon nie alleen verantwoordelik is vir die vertaling van ‘n reuse deel nie. Wanneer ‘n vrywilliger klaar is met sy opdrag, is hy welkom om ‘n bykomende opdrag te begin. Die hele proses sal tydens die geleentheid deur Siyavula bestuur word.

Die vakke wat vertaal gaan word is:
– Gr 12 Fisika
– Gr 12 Chemie
– Gr 12 Wiskunde (beperkte hoeveelheid)

Datum: Saterdag 17 Augustus 2013

Tyd: Stiptelik 08h30. Die dag loop tot `n einde om 17h00, gevolg deur aandete vir almal wat bywoon.

Plek: FIRGA laboratorium (kamer S203), Ingenieursfakulteit. Vir `n kaart kliek hier. Stap deur die groot glas deure tussen Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese en Siviele Ingenieurswese, een vlak op en kyk uit vir die aanwysings wees wat jou lei na die lokaal. 

Sien jy kans? Registreer by http://siyavulatranslationday.eventbrite.com/ en onthou alle vrywilligers se name sal tot die lys van medewerkers voor in die boek gevoeg word!

Enige vrae moet assseblief gestuur word aan bridget@siyavula.com. 

[INLIGTING VERSKAF DEUR SIYAVULA]

 
 

 

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.