Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Bestuur jou nagraadse studente inligting sonder moeite

Die bestuur van nagraadse studente is baie werk, maar NAO kan jou help.  Het jy al ooit gewens dat jy op ‘n maklike manier inligting van jou Fakulteit of Departement se nagraadse studente in die hande kan kry?  As jy nog nie met NAO kennis gemaak het nie, is dit dalk nou die tyd om meer uit te vind en jouself in die toekoms baie moeite te spaar.

Die volgende opmerkings is al oor die stelsel gemaak en oordeel maar self of dit nie belowend klink nie:

“Hoekom hoor ek nou eers van die stelsel… grrrr .”
“NAO is die beste ding wat die afgelope paar jaar in my loopbaan gebeur het!”
“Nou hoef ek nooit weer ‘n us-nommer van ‘n student te soek nie …”

NAO is die afkorting vir Nagraadse Akademiese Ondersteuning; ‘n webstelsel wat spesiaal vir personeel ontwerp is om hulle lewe makliker te maak wat die bestuur van nagraadse studente betref.

Eerlikwaar, jy kan maar ontslae raak van jou eie sigblaaie waarmee jy jaar vir jaar probeer tred hou het van belangrike inligting, want jy kry elke oggend alles wat jy nodig het, vars uit die sentrale stelsel via NAO.

Hieronder is ‘n lys van verskillende tipes inligting beskikbaar om jou lewe ‘n bietjie makliker te maak:

  • Voorgraadse finalejaars (vir werwing )
  • Aansoekers van elders – stel vas hoe ver die aansoek gevorder het
  • Geregistreerde nagraadse studente
  • Nagraadse studente nog nie geregistreer
  • Graduandi lyste van vorige jare
  • Historiese inligting tot sover terug as 2000 

Excel verslae is beskikbaar met ‘n muisklik sodat jy verdere verwerking van die data kan doen, filteropsies kan gebruik word om groepe studente te verklein en data kan gesorteer word deur op verskillende kolomhofies te klik.

Met ‘n oogopslag en sonder om ‘n vinger te verroer wys die stelsel vir jou of ‘n student

  • afkomstig is uit die buiteland sowel as sy/haar nasionaliteit,
  • befonds word of in die verlede befondsing ontvang het,
  • reeds studieleiers het en of die tesis-titel al vasgelê is,
  • oorlede is en
  • inligting soos US-nommer, noemnaam, van, program, ankermodule, e-pos adres, telefoonnommer en nog baie meer, is onmiddellik beskikbaar.

‘n Ekstra lekkerte van die stelsel is dat jy e-pos aan groepe studente kan stuur. Stel slegs bewoording in Afrikaans en Engels op en elke student ontvang sy/haar e-pos in die korrespondesietaal wat by registrasie vasgelê is.  Dieselfde bewoording kan jaar na jaar gebruik word, byvoorbeeld om laatslapers te herinner om betyds te registreer en sodoende ‘n boete vry te spring!

Jy kan jou eie notas maak ivm studente (byvoorbeeld Jannie was vir ‘n sekere tydperk buite aksie a.g.v. griep), volledige studierekords bekyk, befondsing kontroleer om te bepaal of ‘n departementele beurs reeds toegeken is en nog baie meer.

Die beste nuus van alles is dat jy Studieleiers en Tesistitels sentraal via NAO kan vaslê en nooit weer bekommerd hoef te wees dat jou hardeskyf gaan oppak en al jou werk van 6 maande lank tot niet maak nie.

Indien jy meer oor die stelsel te wete wil kom, kliek hier vir die Powerpoint-voorlegging. Stuur epos aan Rita de Jager, Hoof: Nagraadse Akademiese Ondersteuning  by rd@sun.ac.za om toegang te kry, in te skakel by ‘n opleidingsessie of sommer enige vrae oor die stelsel te vra.

[Artikel deur Rita de Jager met gewaardeerde  insette van prof Keith Palmer, Dept E & E Ingenieurswese]

 

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.