Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Ontmoet die techies: Petro Uys

“Om vir IT te werk is soos om elke dag op ‘n nuwe planeet te wees.”

profile-petroPetro Uys, IT Dienstoonbank bestuurder en alombekende simpatieke oor, se loopbaan by die universiteit strek veel verder terug as net die afgelope agtien jaar by Informasietegnologie.

Na die voltooiing van haar Honneursgraad in Voorligtingsielkunde begin sy in 1985 as datavaslegger by Studenterekords, waar dit haar taak is om studentedata op microfiche te stoor. Rex van Staden, haar destydse hoof, merk op dat sy `n buitengewone belangstelling in en vaardigheid met rekenaars het en speel `n beduidende rol in die rigting wat haar loopbaan inslaan.

Na `n draai by Kursusse en `n breuk om ma te wees, aanvaar sy `n halfdagpos by Huis Horison, ‘n tehuis vir volwasse gestremdes, as, onder andere, boekhouer. Vier jaar volg waartydens Petro en haar familie nou betrokke raak by die tehuis se inwoners.

Die rekenaargogga het egter gebyt en selfs voordat sy by IT beland, bied sy rekenaarklasse aan by twee laerskole in die Wes-Kaap vanaf 1994 tot 1996.

In April 1996 begin haar IT-loopbaan by die destydse hulptoonbank  – eers as hulptoonbankagent, daarna ondersteuningspesialis en later as bestuurder.

Gedurende die 18 jaar leer sy om analities te dink, haar probleemoplossingsvaardighede te slyp en gebruikers se navrae soomloos kaf te draf. Benette Kriel se mentorskap in die aanvangsjare as ondersteuningspesialis, bly haar steeds by.

“Ek is baie dankbaar vir al die opleidingsgeleenthede wat IT US vir my gegee het. In die omgewing moet jy bereid wees om deur te druk en jou nie deur struikelblokke te laat onderkry nie.Dit bied legio geleenthede en met die nodige belangstelling en passie, is daar vir ieder en elk `n plek binne hier.

Elke dag is anders en tegnologie bly ontwikkel. Hierdie dinamika is vir haar lekker. “Om elke dag dieselfde werk te doen, sou sieldodend wees.”

“Die beste vergelyking wat ek nog daarvoor gekry het was: Om vir IT te werk, is soos om elke dag op ‘n nuwe planeet te wees.Die basiese oorlewingselemente moet daar wees, maar verder is alles nuut.”

Sy onthou hoe, destyds by die hulplyn, `n verwarde persoon geskakel en gevra het,  “Is this call-a-housewife?”, en ook die akademikus wie se kantoor bestrooi was met sigaretstompies.

Om op die grond rond te kruip om rekenaarkabels te koppel, of swaar toerusting op kampus rond te dra, was niks eienaardig nie. `n Tradisionele manswêreld het egter sy voordele. Sy het geleer om sterk te wees, op haar regte te staan en voorbereid te wees vir enige situasie.

Petro se onuitputbare geduld en toeganklike geaardheid verseker dat sy oor die weg kom met feitlik enige persoonlikheid. Moeilike kliënte is vir haar `n uitdaging en bied `n goeie geleentheid om haar liefde vir mense en tegnologie te beoefen.

Kommunikasie in `n IT-omgewing bly `n tameletjie en moet deurlopend aan gewerk word. “Daar bestaan steeds `n wanpersepsie op kampus oor wat IT presies doen. Ons is nie `n winsgewende afdeling wat gebruikers wil uitbuit nie. Gebruikers moet asseblief die vrymoedigheid hê om ons te kontak – ons wil regtig help en hulle tegnologiese lewens maklik maak!”

Petro glo dat IT nie `n entiteit op sy eie is nie, maar die universiteit as `n besigheid moet ondersteun. Met die voltooiing van die ITIL (Information Technology Infrastructure Library ) bestuurseksamens in 2009 het sy ook besef dat ITIL die beste raamwerk is om te volg om IT te belyn met besigheid.

As die ma van drie dogters, wat grotendeels nou al op hul eie gevestig is, geniet sy deesdae die rustigheid saam met haar man, Jannie. Maar wanneer jy haar nie op die telefoon sien nie, is sy `n kranige fietsryer wat al 9 Cape Argus fietstoere voltooi het.

Daarbenewens is sy tans besig om ‘n MPhil in Management Coaching te voltooi, sodat sy al haar mensekennis en ervaring ten volle kan benut.

IT DIENSTOONBANK KONTAKDETAILS

Foon: +27 21 808 4367
E-pos: helpinfo@sun.ac.za (navrae)
help@sun.ac.za (foutaanmelding)
Skype: handle = ITStellenUni
Twitter: handle = ITStellenUni
Web: www.sun.ac.za/itselfhelp
Blog: www.sun.ac.za/infoteg

Tags:

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.