Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Ontmoet die techies: Quinton Luiters

Quinton-web“IT Hulplyn, goeiemiddag!” Feitlik almal op kampus is al op dié manier begroet as hulle IT se Dienstoonbank geskakel het. Maar vir Quinton Luiters is dit al so `n outomatiese reaksie dat hy soms selfs die telefoon by die huis ook op dieselfde wyse antwoord – tot groot vermaak van sy vrou.

En as `n mens dit al vir 8 jaar doen is dit ook geen wonder nie. Benewens foonoproepe vang, is Quinton daarvoor verantwoordelik dat almal se e-posbusse en netwerkspasie werk soos dit moet. As Outlook jou kwaai aanspreek oor jou spasie, is hy die ou wat jou gaan red uit jou penarie.

Hy is gewoond aan vele balle in die lug hou. By die hulplyn moet jy veelvuldige take gelyktydig kan doen.

“Diegene wat sê mans kan nie “multitask” nie, moet kom kyk hoeveel dinge ons sewe ouens by die hulplyn gelyktydig doen!”

Quinton “multitask” al lank voordat hy by die hulplyn-miernes aangesluit het. Hy was destyds by UWK `n punteadministreerder en verantwoordelik vir, onder andere, die administrasie van tutors, tutoriale en ook eerste en tweedejaarspunte.

Maar hy het eers na UWK, toe hy hom by IT aangesluit het, dat daar `n geleentheid was om uiteindelik in die veld te werk waarin hy vier jaar studeer het. Met `n Nasionale Diploma in Informasietegnologie kon hy hom met die intrapslag goed van sy taak kwyt.

As hy egter nie destyds die kans gewaag en Informasietegnologie bo Siviele Ingenieurswese gekies het nie, was dit ons verlies en Ingenieurswese se wins.

In 1996 was Informasietegnologie nog `n nuutjie en is dit by PENTECH (nou CPUT) aangebied. Die internet, soos ons dit ken, was skaars twee jaar oud en nog maar `n lammetjie.

“Ek moes kies tussen iets onbekend en elke dag pendel stad toe of op my tuisdorp, Stellenbosch, Siviel swot”.

Vandag maak die diverse span mense saam met wie hy werk, dit vir hom ekstra lekker.

“Almal het hul eie maniertjies en snaaksighede, maar die positiewe gesindheid en behulpsaamheid maak werk ‘n plesier”.

As jy in `n stresvolle situasie gegooi word, kry jy vinnig maniere om die spanning te verlig, soos met `n grappie af en toe.

Druk tye sal daar altyd wees, maar Quiton se grootste satisfaksie is as hy iemand kan help en die waardering wat mense daarvoor wys. Om situasies te hanteer wat buite sy beheer is, is aansienlik moeiliker juis omdat `n mens so graag iemand wil help en jy kan nie.

Gelukkig is daar buite die werk dinge om die stresvlakke weer `n bietjie te stabiliseer. Reis en nuwe plekke ontdek is hoog op sy lysie.

“Soos hulle sê, “Life’s a journey, enjoy the ride!””

“`n Paar jaar gelede was ons gelukkig om Washington, Virginia te besoek vir my swaer se troue – ek was een van die strooijonkers. Ek sal definitief weer wil gaan as die Here ons spaar.”

Terug by die huis werk hy en Alicia, volgens Quinton, die eintlike wyn connoisseur, so af en toe `n wyntoertjie deur. Van hul gunstelingplase in die omgewing is DevonValley en JC le Roux op Stellenbosch en Haute Cabriere, Leopard’s Leap en Solms-Delta in Franschhoek.

En natuurlik, wie het dan nie tyd vir `n braaitjie, biertjie en goeie geselskap nie? As `n mens elke dag hard werk, moet jy hard speel ook, sê hy.

IT DIENSTOONBANK KONTAKDETAILS

Foon: +27 21 808 4367
E-pos: helpinfo@sun.ac.za (enquiries)
help@sun.ac.za (to log an error)
Skype: handle = ITStellenUni
Twitter: handle = ITStellenUni
Web: www.sun.ac.za/itselfhelp
Blog: www.sun.ac.za/infoteg

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.