Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Kliek en koop!

snapscan3Het jy al gewonder wat die kriptiese prentjie (sien regs) by sommige restaurante, koffiewinkels en markte is? Wel, dis NIE die geheime kode van een of ander organisasie waaraan jy nie behoort of `n optiese illusie nie. Inteendeel, dit eintlik iets nuttig wat gewaarborg is om jou lewe makliker te maak.

SnapScan is `n slimfoon applikasie wat net hier in Tegnopark, Stellenbosch se eie Silicon Valley, deur FireID ontwikkel is. Die ouens van FireID het besef dat `n kontantlose samelewing waar betalings vinnig en maklik gemaak kan word, binnekort `n noodsaaklikheid gaan begin word.

In 2013 het SnapScan die eerste prys gewen as Suid-Afrikaanse Toepassing van die jaar en is dit reeds gelys op Business Insider se Top 12 African Startups– lys. In Mei vanjaar het dit ook `n venootskap aangegaan met Standard Bank.

SnapScan is voordelig vir beide die kliënt en die handelaar. Vir die kliënt bied dit `n alternatief vir kontant en kredietkaarte, beloof dit om veiliger te wees en is dit vinniger as tradisionele betaalmetodes.

Jy hoef nie meer te staan en wag dat jou betaling by `n kredietkaartmasjien verwerk word of die risiko neem om `n kaart saam met jou te dra nie. Jy neem bloot `n foto van die handelaar se unieke QR-kode (die kriptiese prentjie), sleutel jou PIN-kode in en die bedrag wat jy wil betaal. Sodra die transaksie voltooi is, ontvang die handelaar en kliënt beide `n sms ter bevestiging.

Die handelaar hanteer nooit jou kredietkaart of details nie. Jou kaartinligting word veilig op jou foon gestoor, enkripteer en word beskerm deur `n PIN-nommer wat jy self gekies het.

Dit kos jou niks. Geen aansluitfooi, opstelling of maandelikse betaling nie. Jy hoef net die toepassing af te laai van die Apple of Google Play-winkel, jou kaartinligting te stoor en jy’s reg om dit te gebruik. Die toepassing is reeds beskikbaar vir iOS, Android, en BlackBerry

Vir handelaars is die aansoek vinnig en maklik. Hulle benodig slegs `n selfoon om betalings te kan verwerk – of dit nou `n koffiewinkel of `n informele handelaar by `n mark is. So gebruik verkopers van The Big Issue, `n nie-winsgewende tydskrif wat op straathoeke verkoop word, ook reeds SnapScan.

Nie sleg vir iets wat eers net in `n paar winkels in Stellenbosch gebruik is nie – van 600 handelaars aan die einde van 2013 tot die huidige 12 000.

So waarvoor wag jy? Gaan neem daai prentjie af!

Meer inligting oor SnapScan: 

https://www.facebook.com/SnapScanApp
http://www.getsnapscan.com/

[BRONNE: http://mybroadband.co.za, http://www.techcentral.co.za, http://www.2oceansvibe.com, http://ventureburn.com]

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.