Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Hoe om veilig die internet te gebruik

Die webwerf Memeburn het onlangs, in `n artikel oor internetsekuriteit genoem dat, volgens `n Kaspersky Lab-verslag, was daar meer as 4.6 miljoen kuberaanvalle en “malware”-infeksies op rekenaars en mobiele toestelle van gebruikers in Suid-Afrika gerapporteer in die eerste vier maande van dié jaar. As jy gedink het jy is veilig, omdat kuberkriminele net lande teiken met hoë inkomstegroepe, is jy verkeerd.

coneMaar voordat jy paniekerig begin raak, daar is `n paar maatreëls wat jy kan tref om te voorkom dat jy een van Kaspersky se statistieke word.

Die beste verweer teen loerware en ander ongewensde sagteware is om dit net eenvoudig nie af te laai nie. Hier is `n paar wenke om te help keer dat jy sagteware aflaai wat jy in die eerste plek nie wou hê nie –

  • Gebruik slegs webwerwe wat jy vertrou om sagteware by af te laai. As jy steeds onseker is oor die program wat jy wil aflaai, doen `n internet soektog met en kyk of enigiemand anders probleme daarmee ondervind het of loerware teëkom het. Leêrs wat eindig met die verlengings .exe of .scr word algemeen gebruik om “malware” te stoor. Leêrs wat eindig met .docx, .xlsx, en .pdf kan egter netsoveel gevaar inhou.
  • Lees alle sekuriteitwaarskuwings. lisensie-ooreenkomste en privaatheidverklarings geassosieer met enige sagteware wat jy aflaai. Voordat jy iets installeer, weeg die risikos en voordele op wat die installasie vir jou gaan inhou en wees bewus van die fynskrif. Maak byvoorbeeld seker dat die lisensie-ooreenkoms nie `n waarskuwing insluit wat aandui dat jy juis sagteware gaan installeer wat ongewens mag optree nie.
  • Moet nooit op “Agree” of “OK” kliek om `n venster toe te maak nie. Kliek eerder op die rooi kruisie in die hoek of druk Alt + F4 op jou sleutelbord om `n program toe te maak.
  • Wees versigtig vir populêre musiek en fliek deelprogramme en maak seker jy verstaan watter sagteware verpak is binne daardie sagteware.
  • Gebruik `n standaard-rekening in plaas van `n administrateur-rekening op jou rekenaar. Dit sal voorkom dat ongewensde sagteware sonder jou medewete installeer word.
  • Moenie op bedenklike webwerwe of e-posboodskappe kliek nie. Tik eerder die webwerf-adres direk in jou webblaaier in of gebruik boekmerke.
  • Moenie sommer-net vertrou dat kitsboodskappe, e-pos boodskappe of boodskappe op sosiale netwerke werklik van die persoon is wie se naam daarop verskyn nie. Selfs al is dit van iemand wat jy ken, kontak eers die persoon voordat jy daarop kliek om seker te maak hulle het wel bedoel om dit vir jou te stuur.

Indien jy vermoed jou rekenaar is besmet met ongewensde sagteware, kontak ons gerus by 808 4367 of helpinfo@sun.ac.za. As jy twyfel of jou rekenaar besmet is, lees ons vorige artikel om vas te stel wat die moontlike simptome kan wees.

[BRON: http://www.microsoft.com/security/pc-security/antivirus.aspx]

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.