Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Hoe om verdagte e-posse uit te ken

Met die toename van virusse, ransomware, malware, spyware, phishing en kuberbedrog oor die algemeen, is dit belangrik dat e-posgebruikers toenemend meer op hul hoede moet wees.  Alhoewel ons jou nie teen elkeen van hierdie e-posse kan waarsku nie (hulle word eenvoudig net te vinnig gegenereer), kan ons wel vir jou sê watter kenmerke om voor uit te kyk sodat jy self `n verdagte e-pos kan identifiseer. 

Dink so daaraan – gestel om `n e-pos te ontvang is gelykstaande aan iemand wat jou op straat voorkeer op `n Saterdagoggend. Gewoonlik is jy bly om een van jou vriende, kennisse, kollegas en bure raak te loop en jy gesels graag terug met hulle, want dis mense wat jy ken. Maar as `n vreemde persoon jou uit die bloute voorkeer, sal jy anders reageer. As daardie selfde persoon vir jou `n pakkie in die hand stop en sê jy moet dit oopmaak of sê “Hallo meneer, ek wil vir jou iets wys by my huis, kom gou saam met my!”, sou jy dit doen?

Net omdat die internet die illusie van afstand skep, beteken dit nie dat die situasie verskillend benader moet word nie – inteendeel, jy is meer weerloos en jou inligting is meer bekombaar op die internet as op straat.

So hoekom sal jy op `n e-pos reageer en dit vertrou as 

– nie aan jou gerig is nie en jy nie die sender ken nie,
-`n aanhangsel (die pakkie) oopmaak wat `n onbekende persoon aan jou gestuur het en
– op `n skakel kliek wat na sy webtuiste (sy huis) gaan?

KENMERKE

  1. Aanhegsels (Attachments)
    Al is jy hoe nuuskierig oor wat in daai ZIP leêr is, moet dit nie oopmaak nie. Die oomblik as jy `n aanhangsel oopmaak, maak jy jou rekenaar oop vir sagteware of leêrs om daarop geinstalleer te word. In die mees onlangse geval met die Cryptowall 3.0 ransomware is `n ZIP-leêr gestuur met die titel “My resume”. Sodra dit oopgemaak word, laai dit `n skrip wat die data op jou rekenaar enkripteer. (lees meer daaroor hier)
  2. Spelling en taal
    Meeste gevalle waar phishing plaasvind, sal jy opmerk dat spelling en taalgebruik opmerklik swak wees. Moet egter nie dink omdat `n e-pos in Afrikaans is, dit veilig is nie. Ons het verlede jaar insidente gehad waar ABSA se Afrikaanse teks gebruik is. 
  3. Foutiewe of onbekende skakels
    Beweeg jou rekenaarmuis oor die skakels in die e-pos (moenie daarop kliek nie) – die teks lyk miskien soos `n bekende adres, maar die regte skakel is `n heeltemal onbekende webwerf. Dieselfde geld vir e-posse in die teks.
  4. `n Generiese aanhef
     As `n e-pos nie aan jou persoonlik gerig is, byvoorbeeld “Dear Mrs du Preez”, of iets soortgelyk nie, is dit duidelik nie vir jou bedoel nie en `n massa e-pos wat aan `n groot groep mense gestuur is met die doel om een van hulle uit te vang.
  5. Geen persoonlike inligting
    Daar sal nerens `n verwysing na jou rekeninginligting wees nie.
  6. Sperdatums
    Deur `n sperdatum by te sit, skep die e-pos `n dringendheid en maak jou, as e-pos gebruiker, meer haastig om, sonder om te dink, op `n skakel te kliek en die sogenaamde probleem so gou as moontlik op te los.

E-POS ONDERWERPE

  1. Probleme met jou bankrekening
    Onthou, almal luister as hulle geld moontlik ter sprake is. Jou rekening is gesluit, iemand het probeer toegang kry, inligting het verander, ens. word almal gebruik om jou aandag te trek.
  2. Geld is in jou rekening betaal
    Rondom belastingtyd is hierdie `n populêre keuse en word dit gewoonlik uitgestuur van “SARS”. SARS sal jou sms as hulle vir jou geld wil gee (en dan is jy in elk geval besonder gelukkig)
  3. Aflewering van `n pakkie
    Iemand het vir jou `n pakkie gestuur en jou moet op `n skakel kliek om dit te bevestig anders word dit nie afgelewer nie. Die poskantoor of `n koerierdiens sal selde vir jou `n e-pos stuur hieroor.
  4. Probleme met jou e-pos rekening
    Jou wagwoord het verval, iemand anders het jou e-pos gebruik,ens. Alle kommunikasie in dié verband vanaf IT, sal in `n spesifieke formaat wees, met kenmerkende grafika, die US-logo en sal altyd in Afrikaans en Engels wees.
  5. Kompetisies
    Jy het `n kompetisie gewen, of die lotery of iets geërf. Het jy ingeskryf vir hierdie kompetisie en ken jy hierdie sogenaamde familielid wat wou hê jy moet by hom erf?

As jy onseker is oor `n e-pos, kontak eerder direk die bank of vir SARS. Vir enigiets anders kan jy dit bloot ignoreer. Moet glad nie daarop reageer nie – al wat jy dan doen is om te bevestig dat die e-pos wel bestaan en jy sal voortaan vele meer van hierdie korrespondensie kry.

Onthou – kuberkrakers weet watter onderwerpe ons aandag trek en dat mense van nature maar nuuskierig is. Moenie daarvoor val nie.

Vorige artikels oor phishing, malware, spyware en virusse.

One Response to “Hoe om verdagte e-posse uit te ken”

  1. Prof R Menkveld says:

    Beste mnr/me,

    Met verwysing na punt 5 van e-pos onderwerpe hierbo wil ek graag vra of u meer besonderhede kan verskaf oor die erfenis slenter. n’ Vriend van my het op so ‘n e-pos reageer. Die persone in VK is bereid om hom in Suid Afriak te kom besoek maar het tot op datum nog nie vir enige besonderhede (? wel ID besonderhede) gevra nie. Hulle het hom 50% van bedrag aangebied.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.