Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Nuwe IT-gebou – groenste op kampus

In September 2015 betree die Informasietegnologie-afdeling `n nuwe era. Nie net skuif ons na `n nuwe gebou nie, maar ons nuwe tuiste is ook die eerste volwaardige “groen” gebou op kampus.

`n Wye reeks volhoubare eienskappe is in die gebou se ontwerp geïnkorporeer en kan volgens die Green Building Council of South Africa’s Green Star Office se lys kategorieë gemeet word.

Energie-effektiwiteit en hernieubare energie
Foto-voltaïese sonpanele op die dak; optimale noordelike orientasie en venstergroottes; skadu-elemente; `n vertikale tuin aan die noordelike kant om hitte te minimaliseer en verkoeling te gee; gebruik van riverwater vir verkoeling en lae energie en slim beligting.

Kwaliteit van binneshuise omgewing (IEQ)
Natuurlike lig; ventilasie en geraasvermindering.

Vervoer
Fietsstoor en fasiliteite vir fietsryers; optimale hoeveelheid parkeerplekke.

Innovasie
Vertikale tuin, gebruik van rivier en reënwater vir lug- en perseelverkoeling.

Die gebou nie net `n kantoor wat `n afdeling huisves nie, maar is ‘n integrale deel van IT se werkstelsel – die mense, hul prosesse en die ruimtes en fasiliteite in die gebou, vorm ‘n integrale eenheid.

Met die inbruikneming van die nuwe gebou word daar beoog om `n nuwe werkskultuur te bepaal, veranderings in werkswyses te bewerkstellig, en veral samewerking en kommunikasie te bevorder.

Die ontwikkeling van nuwe werkswyses en `n nuwe kultuur is nou belangriker as ooit in die Informasie-Era waarin ons onsself bevind. Soos die fokus toenemend skuif na die toepassing van informasie en kommunikasietegnologieë (IKT) binne die US-strategie, word daar hoë verwagtinge gestel aan Informasietegnologie. Die nuwe gebou kan gesien word as `n potensiële hulpmiddel in die aanpassing van die werkskultuur.

Werk in vandag se Informasie-Era is toenemend meer spangeorienteerd, sosiaal, kommunikasie-intensief, interaktief, vereis kennisuitruiling en voortdurende leer en konsultasie. Gevolglik bestaan die nuwe gebou uit groot, oopplan werksareas met volop natuurlike lig en glaspanele – soortgelyk aan die kantore van Google en Apple.

Ook meublement moet in lyn wees met nuwe werkswyses. Spanwerk vereis buigbare toebehore wat maklik en vinnig die werkspasie-uitleg kan verander. Doelmatige vergader- en wegbreekareas moet toegerus wees om `n balans te bied tussen gedeelde en privaat werksareas. Digitale kommunikasiefasiliteite in hierdie areas moet virtuele vergaderings en die vermoeë om van elders te werk, maklik en effektief maak.

Laastens moet die werksplek gesond wees, kreatiwiteit en samewerking bevorder en `n plek wees waar mense wìl werk en tyd spandeer. Met ander woorde, `n werksomgewing wat verwelkomend en oop is, nie hierargieë afdwing nie en buigsaamheid en kommunikasie bevorder. Dit opsigself sal lei tot die oorgang na `n volgende generasie IT-afdeling.

[ARTIKEL: RALPH PINA]

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.