Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Ek het `n voëltjie hoor fluit

Het jy al ooit gehoor van “Larry, the bird?”.  Ja, dis reg, selfs die Twitter-voëltjie het `n naam.

twitter-bird-blue-on-white

Ons is waarskynlik bekend met die  aanlyn sosiale netwerk Twitter, maar weet ons meer as dat dit bestaan uit 40-karakter “twiets”?

Twitter, of twttr soos dit aanvanklik bekendgestaan het, is in Maart 2006 geskep deur Jack Dorsey, Evan Williams, Biz Stone en Noah Glass gedurende `n voldag breinstormsessie. Dorsey het die keuse van die naam Twitter as volg beskryf:

“…we came across the word ‘twitter’, and it was just perfect. The definition was ‘a short burst of inconsequential information,’ and ‘chirps from birds’. And that’s exactly what the product was.”

twttr is aanvanklik gebruik aangesien die domein-naam twitter.com nie op daardie stadium beskikbaar was nie. Ses maande later, met Twitter se amptelike bekendstelling, is die naam verander na die een wat ons vandag gebruik.

Amper tien jaar later is Twitter Inc. steeds gebaseer in San Francisco, met meer as 25 kantore regoor die wêreld en 500 miljoen gebruikers. 

Deur die jare het Twitter ontwikkel van `n sosiale hulpmiddel waarmee mense kommentaar lewer oor hul daaglikse doen en late en lug van opinies tot iets wat gebruik word vir bemarking, onderrig en nuus en veral handig is vir noodkommunikasie. Gedurende die San Francisco aardbewings en Boston-marathon bomaanvalle was Twitter die hoof-kommunikasiekanaal vir die vespreiding van inligting. In Suid-Afrika het Twitter sy nut bewys gedurende die brande in Kaapstad en daarna met die insameling van fondse. 

In gevalle soos hierdie gebruik Twitter-gebruikers `n # om inligting oor `n spesifieke onderwerp te groepeer en soekbaar te maak, byvoorbeeld #capetownfires.  Sodra `n spesifieke hutsteken se gebruik toeneem en dit `n tendens word, word dit `n trending topic en word dit vertoon op die sypaneel vir alle gebruikers. Hierdie onderwerpe wys die onderwerpe waaroor daar die meeste gepraat word, hetsy dit nuusgebeure is of persone se opinies oor aktuele gebeure. (Meer oor # hier)

Kolleges en universiteite maak deesdae ook gebruik van Twitter as `n kommunikasie- en leerhulpmiddel vir studente. Wanneer `n kursus bestaan uit `n groot groep studente, kan Twitter ingespan word om gesprekke tussen klaslede te fasiliteer.

HOE WERK DIT?

Twiets is by verstek sigbaar vir almal, maar versenders kan hul boodskappe beperk tot hul ondersteuners. Gebruikers kan twiet op die Twitter webwerf, deur middel van versoenbare eksterne toepassings (byvoorbeeld toepassings vir selfone) of selfs met SMSe in sommige lande. Hertwiet (retweeting) is wanneer `n twiet populêr is en ander gebruikers dit verder versprei. Beide twiets en hertwiets kan nagespeur word om te sien hoe dikwels dit gelees word. 

Gebruikers kan inskryf vir ander gebruikers se twiets – dit staan bekend as following en intekenaars staan bekend as followers  of tweeps. Gebruikers kan ook ander gebruikers blokkeer as hulle dit so verkies.

As `n gebruiker iemand wil antwoord of noem, word `n @-teken voor die persoon se gebruikersnaam gevoeg. Om `n twiet van `n ander Twitter-gebruik te deel met jou eie lesers, kan jy die retweet knoppie in die twiet self gebruik.

Kyk gerus dié oulike, geanimeerde geskiedenis van Twitter op YouTube.

[SOURCE: www.wikpedia.org]

Tags: ,

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.