Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Die geskiedenis van malware, Trojane en wurms (deel 3)

Twee weke gelede het ons ondersoek ingestel na malware, Trojaanse virusse en wurms na 1985. Dié keer is dit meer onlangse bedreigings se beurt. Ons begin by zombies … 

2003 Zombies en Phishing
Met behulp van die Sobig-wurm kry krakers beheer oor rekenaars, verander dit in `n zombie en stuur daarmee gemorspos uit. Die Mimail-wurm kamoefleer homself as `n Paypal e-pos en vra gebruikers om kredietkaartinligting te bevestig. 

2004 IRC robotte
Kwaadwillige IRC (Internet Relay Chat) robotte word ontwikkel. Trojaanse virusse laai die robotte op rekenaars, laat dit aan `n IRC-kanaal verbind, sonder die gebruiker se medewete en kry beheer oor die rekenaars.

2005 Rootkits
Sony se DRM kopie-beskermingstelsel op musiek CDs, installeer `n rootkit, wat leêrs wegsteek sodat dit nie gedupliseer kan word nie, op rekenaars. Kuberkrakers skryf Trojaanse virusse om hierdie sekuriteit-swakplek te misbruik en `n versteekte back door te installeer.

2006 Aandeleprys-bedrog
Gemorspos wat aandele in klein maatskappye opjaag (pump-and-dump-gemorspos) raak die nuutste kubergevaar.

2006 Ransomware
Die Zippo en Archiveus Trojaanse virusprogramme word die eerste ransomware. Hulle enkripteer leêrs en eis `n losprys in ruil vir die wagwoord.

2006 Eerste moderne bedreiging (APT) identifiseer
APTs is die eerste keer in 2006 deur die Amerikaanse lugmag uitgewys. Hulle is toegerus met beide die vermoë en oogmerk om `n spesifieke teiken effektief en aanhoudend te teiken. Die gesofistikeerde, doelgerigte en gekoördineerde aanvalle word geloods geloods op media en verskaffingskettings en sluit sosiale manipulasie in.

2008 Vervalste anti-virus sagteware
Deur middel van bangmaak-taktieke word gebruikers oortuig om hul kredietkaartinligting te gee vir vervalste anti-virus produkte soos AntiVirus 2008.

2008 Eerste iPhone malware
Die US Computer Emergency Response Team (US-CERT) reik `n waarskuwing uit oor `n misleidende iPhone opgradering, die iPhone firmware 1.1.3 prep. As `n gebruiker die Trojaanse virus installeer, word komponente van die foontoepassing aangepas. As die virus verwyder word, word die toepassings wat aangetas is, daarmee saam verwyder. 

2009 Conficker haal die nuus
Conficker, `n wurm wat aanvanklik versprei word deur middel van verouderde rekenaars, veroorsaak wêreldwye mediadekking.

2009 Polimorfiese virusse is terug
Komplekse virusse maak met mening weer hul verskyning. Een van hulle is Scribble, `n virus wat sy kenmerke met elke infeksie verander en talle metodes gebruik om te versprei.

2009 Eerste Android malware
Android FakePlayer is `n Trojaanse virus wat SMSe na foonnommers stuur en Android slimfone indring omdat dit soos `n gewone toepassings lyk. Gebruikers word versoek om `n klein lêer van ongeveer 13 KB, met die gewone Android uitbreidingnaam .APK, te installeer. Sodra die “toepassing” op die toestel installeer is, begin die Trojaanse virus premium tarief foonnommers SMS. Diegene wat hierdie nommers bestuur, is deel van die kriminele netwerk en vorder die fooie vanaf die slagoffers se rekeninge in.

2010 Stuxnet
Die Stuxnet-wurm, `n hoogs gespesialiseerde malware program wat Siemens se kontrolebeheer- en datawerwingstelsels  (SCADA), verantwoordelik is vir die monitering van spesifieke industriële prosesse, teiken, word in Junie 2010 ontdek. Stuxnet se mees prominente teiken was blykbaar Iran se uraanverryking infrastruktuur.

2012 Eerste drive-by Android malware
`n Trojaanse virus, NotCompatible, word waargeneem. Dit lyk soos `n stelselopdatering, maar tree op as `n proxy herleier na `n ander webwerf. Die webwerf kyk of die gebruiker `n Android-toestel is en installeer dan die Trojaanse virus. `n Toestel wat met NotCompatible besmet is, kan gebruik word om toegang te verkry tot informasie of stelsels wat normaalweg beskerm is, byvoorbeeld dié van groot besighede of die regering. 

2013 Ransomware is terug
Ransomware is terug as een van die grootste malware bedreigings. Sommige variante gebruik gevorderde enkripsie wat die herwinning van gesluite lêers feitlik onmoontlik maak. 

Neem kennis dat al hierdie inligting geneem is van die Sophos Threatsaurus, saamgestel deur Sophos, `n sekuriteit sagte- en hardwaremaatskappy. 

Tags: , ,

2 Responses to “Die geskiedenis van malware, Trojane en wurms (deel 3)”

  1. Sonja van der Westhuizen says:

    Hallo Tinus. Ons sysadmins sal waarskynlik vir jou kan help met daai vraag. Ek sal bietjie hoor en jou laat weet?

  2. Tinus Botha says:

    Ek vind Sophos Antivirus sagteware ongelooflik effektief. Wanneer bekyk die US IT na iets soos hierdie om dalk Mcafee te vervang. Ek sien julle verwys na die “Sophos Threatsaurus” hierbo?

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.