Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Emoji jy?

nerdMediamaatskappy Sony, het verlede week aangekondig dat hulle in Augustus, 2017, ʼn fliek oor emojis, gaan vrystel. Ons weet teen die tyd dat Hollywood enige verskoning sal gebruik om ʼn fliek te maak, maar emojis? Is hierdie klein simbooltjies so ʼn groot deel van ons lewens en die aanlyn-kultuur dat dit ʼn behoorlike fliek verdien? 

Nie te lank gelede nie, toe aanlyn kletskamers en smse posgevat het, het mense hul emosies uitgedruk met basiese simbole wat bestaan het uit leestekens, byvoorbeeld :) :( of :P. Hierdie tekens is emotikons genoem en volgens Mental Floss het hulle die eerste keer reeds in 1881  in ʼn tydskrif verskyn.  

Emojis is in 1998 deur Shigetaka Kurita, ʼn Japanese ekonomie-student wat vir ʼn selfoonmaatskappy gewerk het, geskep. Die woord “emoji” het niks met “emotikons” te doen nie. Die “e” beteken “beeld” en “moji” kan vertaal word as “karakter”.

Aan die begin het hierdie simbole ongelukkig nie dieselfde gelyk op alle platforms en toestelle nie. In 2007 het Google emojis begin ondersteun en omdat dit dieselfde kodepunte gehad het, het dit oral dieselfde gelyk, op watter platform of toestel jy dit ook al gebruik het. 

 

Vanaf 2010 is sommige emoji karakterstelle ingelyf by Unicode, ʼn standaard-stelsel wat gebruik word om karakters te indekseer. Gevolglik was dit moontlik om die karakters buite Japan te kan gebruik en te standaardiseer sodat dit oor verskeie bedryfstelsels gebruik kan word. ʼn Maatskappy met die naam Unicode Consortium is tans verantwoordelik vir die regulasie van emojis en vir die goedkeuring van nuwes.

In 2015 het die Oxford Dictionary 😂 as Woord-van-die-jaar aangewys. Dit het ook daarop gewys dat daar ʼn redelike toename in die gebruik van die woord “emoji” was en die impak daarvan op populêre kultuur benadruk. 

Volgens Digiday, ʼn maatskappy wat spesialiseer in digitale media, word daagliks ongeveer ses biljoen emojis word op boodskap-toepassings gestuur. (http://www.cbc.ca) As jy nogsteeds wonder of emojis relevant is in aanlynkultuur, behoort dit ʼn goeie aanduiding te wees. 

Soek jy nog emojis om te gebruik? Probeer www.iemoji.com of www.getemoji.com.

[BRONNE: www.wikipedia.org, www.nerdist.com]

 

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.