Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Videokonferensies vergemaklik

Vidyo-2Om `n videokonferensie te organiseer is nie kinderspeletjies nie. As die konferensielokaal nie gesluit is of dubbel geboek nie, is toerusting foutief, stelsels nie versoenbaar nie of ondersteuning beperk. Selfs al kry jy alles aan die gang, is video- en oudiokwaliteit dikwels swak en onbruikbaar.

TENET, die Tertiary Education Research Network of South Africa, het onlangs sy nuwe videokonferensie-diens vir Suid-Afrikaanse Hoëronderwys en Navorsingsgemeenskappe aangekondig en die gekose platform vir die diens is Vidyo.

Vidyo is ʼn videokonferensie-platform, ontwikkel om die probleme wat tradisionele videokonferensielokaal-stelsels ondervind, uit te skakel en met bestaande videokonferensie-stelsels te integreer. Dit beteken ook dat opgradering van bestaande lokale nie vereis word nie en duur videokonferensie hardeware gevolglik ook nie nodig is nie.

Tafel- en skootrekenaars kan ingespan word, sowel as enige tablet of slimfoon. Konferensiedeelnemers kan gemeenskaplike inhoud intyds deel op ʼn rekenaarskerm. Vidyo pas outomaties die hardeware aan om die beste moontlike diens te lewer. Dit bevat ook ʼn opsionele opneem- en herspeelfunksie. 

Die Vidyo-kliënt is beskikbaar op die Windows, Mac OS en Linux platforms en VidyoMobile™ ondersteun beide Android en iOS-toestelle. Dit beteken dat jy onmiddellik kan deelneem aan ʼn konferensie op jou slimfoon of tablet sonder enige verdere opstellings. 

Deur middel van telephone bridging, kan deelnemers telefonies soomloos by jou konferensie aansluit. ʼn Groot groep deelnemers kan fasiliteer word, selfs al gebruik hulle verskillende tipes videokonferensie toerusting.

Toegang is moontlik van enige plek – al wat jy nodig het, is ʼn webkamera en toestel met internet.

Vidyo is onlangs gebruik by die Nasionale Telekommunikasie Gebruikersgroep (NTUG) in Bloemfontein. Afgevaardigdes van regoor die land, wat nie die konferensie fisies kon bywoon nie, kon wel aanlyn deelneem aan verrigtinge.

Hoewel Vidyo goed werk in normale en hoë bandwydte omgewings, is dit spesifiek ontwerp om te funksioneer wanneer min bandwydte beskikbaar is. Daarom is dit ideaal as jy ʼn stadige verbinding het. Geen onverstaanbare gesprekke en vae beelde meer nie.

Die gonswoord wanneer videokonferensies ter sprake is, is “collaboration”. Vidyo kan gebruik word om intyds kollegas te ontmoet, te konsulteer, dokumente, grafika en idees uit te ruil en ook, binne die akademiese omgewing, om studente te onderrig en mentor.

Die Vidyo-diens is gratis beskikbaar aan akademiese en navorsingsinstellings wat in aanmerking kom. Ons het 46 Vidyo-rekeninge, waarvan 10 reeds op kampus gebruik word saam met bestaande videokonferensie fasiliteite.

Om Vidyo te gebruik, stuur ʼn e-pos aan telecom@sun.ac.za en versoek ʼn Vidyo-rekening.

  1. Jy sal ʼn e-pos ontvang met ʼn skakel na die Vidyo-kliënt, sowel as ʼn gebruikersnaam en wagwoord om toegang tot die diens te verkry.
  2. Laai die Vidyo-kliënt af en installeer dit.
  3. Teken aan met die volgende details:
    VidyoPortal: http://sun-vc.tenet.ac.za
    Username: soos verskaf deur IT
    Password: soos verskaf deur IT

Handige skakels

TENET Vidyo Blog 
Vidyo Knowledge Center (Videos) 
Getting Started with Vidyo

[ARTIKEL DEUR ANDRé ELMS]

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.