Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Wetenskap in jou agterplaas

frog-1445779__180Almal kan nie ʼn loopbaan in die wetenskappe hê nie, maar niks keer jou om deel te wees van navorsingsprojekte en ʼn bydrae tot belangrike navorsing te maak nie. Te danke aan tegnologie kan enigiemand nou ʼn wetenskaplike wees.

Burgerlike wetenskap, ook genoem massawetenskap, massa-gewerfde wetenskap, siviele wetenskap, vrywillige monitering of netwerk-wetenskap, is wetenskaplike navorsing wat uitgevoer word deur ʼn amateur of nie-professionele wetenskaplike. (www.wikipedia.org)

Joseph M. Hulbert noem in sy artikel, Citizen science tools available for ecological research in South Africa, dat gewone landsburgers, sonder enige ervaring, kan deelneem aan navorsing met behulp van hul eie rekenaars, in hul eie tuine of in die buitewêreld. Daar is vele geleenthede en projekte in Suid-Afrika vir amateur-wetenskaplikes – van die monitering van voël-migrasiepatrone tot die identifikasie en kartering van swamme. 

Amateur-sterrekkunde is een van die mees algemene vakgebiede waar nie-professionele wetenskap beoefen word. Ander sluit skoenlappertellings, voëlkunde, oseanografie en selfs kunsgeskiedenis in. Projekte in Suid-Afrika sluit die Stream Assessment Scoring System (miniSASS) in en by die Universiteit van Pretoria help die publiek navorsers om Phytophthora (plantvernietigende elemente) in Fynbos op te spoor en sodoende plantsiektes spesifiek tot Fynbos, te ondersoek. Lees hier meer oor die projek.

Die Universiteit van Kaapstad se Diere-demografie Eenheid (ADU) is verantwoordelik vir talle plaaslike gemeenskapswetenskapsprojekte. Die eenheid het reeds verskeie virtuele museums geskep, insluitende die MammalMAP webwerf waar jy fotos kan laai op die groeiende databasis van verspreiding en gewoontes van soogdiere in Suid-Afrika. As soogdiere jou nie interesseer nie, is daar enigiets van paddas en skoenlappers tot seesterre en seekastaiings in hierdie virtuele museums.

Joseph M. Hulbert verwys na twee ander plaaslike projekte, OrchidMap en Aliens of the Cape Peninsula. OrchidMap word sedert September 2014 op die Universiteit van Kaapstad se virtuele museum gehuisves. Lede van die publiek kan fotos en ligging van plante op die databasis, met bykans 3000 orgideë rekords met geo-etikette, laai. Aliens of the Cape Peninsula se doel is weer om om nuwe indringerplante en waar hulle versprei op die Kaapse Skiereiland, op te spoor.

Indien jy ʼn wetenskaplike in jou gemeenskap wil wees, hier is ʼn paar hulpmiddele om jou aan die gang te kry: 

Ispot,  ʼn South African National Biodiversity Institute (SANBI) inisiatief, is in Junie 2012 begin. Feitlik 400 000 internasionale observasies van 30 000 verskillende spesies is teen middel-2014 aangeteken. 

WhatSpecies is die breinkind van ʼn ouer wat haar kinders wou help om plante en insekte te identifiseer. Die webwerf se uitleg is gevolglik gebruikersvriendelik en toeganklik vir ʼn jonger leser en poog om, deur middel van sosiale media platforms, jongmense te betrek.

Soos vroeër genoem, word Virtual Museum bestuur deur die ADU by UK. Daar is reeds 17 verskillende projekte op die platform waarby die publiek by betrokke kan raak.

Die Cape Town Citizen webwerf  is ook propvol informasie en instruksies vir aspirerende wetenskaplikes. Kyk gerus ook The SciShow se video oor gemeenskapswetenskap op YouTube.

Tags: ,

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.