Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Raak ontslae van jou e-afval

Het jy verouderde rekenaars, skerms, selfone of batterye wat geen nut het nie en net onnodige spasie opneem in jou kaste? Gee jy genoeg om vir die ongewing om eerder op die regte manier daarvan ontslae te raak i.p.v. om dit op ʼn vuilgoedhoop te gooi?

Daar is ʼn verantwoordelike oplossing. Fasiliteitsbestuur het geel e-afval dromme op strategiese plekke op kampus geplaas waar ou elektroniese toestelle in geplaas kan word en dan deur buite-kontrakteurs opgetel, hergebruik en veilig van ontslae geraak kan word.

Elektroniese afval (e-afval) is die term wat gebruik word om verouderde of weggooi-toerusting wat met elektrisiteit werk, te beskryf. Dit sluit rekenaars, batterye en enige elektroniese toerusting in waarvan die oorspronklike eienaars ontslae geraak  het.

Toksiese bestanddele, soos lood, kwik, kadmium en ander stowwe hou ʼn gesondheidsrisiko en is ook gevaarlik vir ekosisteme. Wanneer e-afval afbreek en nie op die korrekte manier mee weggedoen word nie, beland giftige stowwe in grond en grondwater. Die materiaal kan eerder herwin word om rou materiaal te skep wat hergebruik kan word. 

Die onvolhoubare, vinnige omset van verouderde elektronika en rekenaartegnologie is nog ʼn goeie motivering om te herwin of e-afval te hergebruik.

Wat gebeur met e-afval?

Kontrakteurs skei die artikels in die volgende drie kategorieë. Items wat

  • opgeknap kan word,
  • herwin kan word en
  • veilig ontslae van geraak moet word.

Opknapping van toerusting en rekenaars skep werk en die items word hergebruik in behoeftige skole en gemeenskappe. Nuttige, skaars en waardevolle metale en ander stowwe word verwyder d.m.v. herwinning, terwyl giftige e-afval, soos ou rekenaarskerms(CRT’s) en fluoor-buisligte in spesiale afvalfasiliteite gestort word. 

Die prosedures is as volg: 

  1. Maak eers seker dat alle items afgeskryf en hanteer is volgens die Universiteit se beleid rakende die hantering van oortollige bates.
  2. Verwyder al jou data, privaat en werksverwant, van die toestelle. IT is nie verantwoordelik vir die uitvee en rugsteun van data of vir die risiko dat data toeganklik kan wees na wegdoening nie. Jou toestelle moet volledig skoongemaak wees. 
  3. Bring jou ou toerusting na of die IT HUB of IT Hoofgebou vir plasing in die geel e-afval dromme. Beide dromme is aan die binnekant van die ingange. Die geel drom by die IT Hoofgebou is in die binneportaal van die diensingang (regterdeur as jy voor die gebou staan)
  4.  Indien jy steeds navrae het kontak Clive Layman op Stellenbosch-kampus, Le Roux Franken by Belpark of Kevin Vermaak op Tygerberg. 

Vir meer inligting: www.ewasa.org

Tags: ,

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.