Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Wat is kuberafknouery?

Kuberafknouery (cyberbullying) kan gedefinieer word as ʼn opsetlike en aanhoudende poging om iemand leed aan te doen of te teister deur middel van elektroniese tegnologie. Dit sluit toestelle en toerusting soos selfone, rekenaars en tablette in, sowel as kommunikasiemiddele soos sosiale media webwerwe, teksboodskappe, kletsprogramme en webwerwe.bully-655659_960_720

Kuberafknouery, veral onder tieners, het toegeneem met die dienooreenkomstige toename in gebruik van tegnologie. Terwyl kuberafknouery gebruik word vir kinders en tieners, is die term vir dieselfde optrede by volwassenes kuberagtervolging (cyberstalking) of kuberteistering (cyberharassment)

Wat is kuberafknouery of -teistering?

Teistering se hoofdoel is om iemand se reputasie, veiligheid, werk of inkomste skade aan te doen of om ander mense teen hom/haar te laat draai. Die kuberafknouer wil die slagoffer intimideer, seermaak, beheer, manipuleer, verkleineer of valslik diskrediteer. Hulle aksies is herhalend, opsetlik, vyandig en bedoel om skade aan te doen.

Kuberboelies gebruik openbare forums, sosiale media of aanlyn inligtingswebwerwe. Aanlyn platforms gee aan boelies die mantel van anonimiteit en sodoende kan hulle maklik die gevolge van hul aksies verontagsaam, vermy of ignoreer.  Volgens ʼn Amerikaanse opname deur die National Council on Crime Prevention glo 81% van tieners dat kuberafknouery plaasvind omdat dit grappig is. A.g.v. die anonimiteit sien of besef die afknouers nooit die skade wat hulle aanrig nie. 

Kuberafknouery kom in verskeie vorme voor. Dit kan iemand wees wat aanhoudend ongevraagde e-posse of teksboodskappe aan iemand stuur. Dit kan ook herhaalde dreigemente, seksuele opmerkings, haatspraak, valse beskuldigings of spottery wees. 

Sommige teisteraars sal selfs so ver gaan as om by ʼn webwerf in te breek en iemand se inligting te verander of vals stellings te plaas. Hulle kan ook die persoon se persoonlike inligting plaas of ʼn vals rekening skep om die persoon te verneder of in die skande te bring.

Volgens www.wikipedia.org  is die 8 algemeenste kuberafknou-taktieke wat tieners gebruik die volgende:

  1. Uitsluiting: Tieners sluit opsetlik ander tieners uit van ʼn aanlyngroep.
  2. Kuberafknouing: Tieners kan ander onophoudelik lastig val deur e-posse of boodskappe te stuur of ander in fotos te merk waarin hulle nie gemerk wil wees nie.
  3. Skinderpraatjies: Plaas of stuur onnodige wrede boodskappe wat iemand se reputasie, verhoudings of selfvertroue leed aan kan doen.  
  4. Blootstelling/Bedrieëry: Oortuig ander tieners om geheime of inligting wat hulle in die verleentheid kan bring te onthul en die inligting dan aanlyn met ander te deel. 
  5. Teistering: Plaas of stuur aanhoudend beledigende, aanvallende en gemene boodskappe.
  6. Nabootsing: Skep vervalsde rekening om ʼn ander tiener se vertroue te wen. Hulle kan ook by rekeninge inbreek en as die rekeningeienaar boodskappe plaas of stuur wat skade aan die persoon se reputasie en verhoudings kan veroorsaak.
  7. Kuberdreigemente: Dreig of insinueer gewelddadige optrede teenoor ander om hulle ongemaklik te laat voel.
  8. Vlampos: Aanlyn argumente wat uit hatige en aanvallende boodskappe bestaan en op verskeie webwerwe, forums en blogs geplaas word.

Verdere definisies van kuberafknouery kan gekry word op die plaaslike Centre for Justice and Crime Prevention se webwerf.

Wie is die afknouers?

Die rede vir kuberafknouery is dieselfde as fisiese afknouery. Die enigste verskil is dat die anonimiteit en gerief van tegnologie dit selfs nog makliker maak. 

Iemand wat afknou ken gewoonlik sy teiken en val hulle aan as gevolg van sy eie vooroordele – of dit ras, geloof of seksuele oriëntasie is. Dit kan ook net wees omdat hy dink iemand is nie “cool” genoeg nie of het iets op sosiale media gesê waarmee hy nie saamstem nie. 

Dis belangrik om in ag te neem dat ʼn afknouer se optrede gewoonlik voortspruit uit sy eie probleme of kwessies. Volgens Stopbullying.gov is daar hoofsaaklik twee hoofgroepe wat geneig is om ander te teister. Populêre kinders of tieners wat glo deur ander seer te maak sal hulle selfs meer populêr en invloedryk word en aan die ander spektrum diegene wat afknou omdat hulle self afgeknou word en ʼn uitlaatklep vir hulle frustrasie soek.

Hoe om kuberafknouery of -teistering te hanteer

In die meeste lande het kuberteistering dieselfde nagevolge as fisiese teistering. Suid-Afrika het nie spesifieke wette wat fokus op kuberteistering nie. Slagoffers moet hulle dus wend tot kriminele en/of siviele reg. Meer inligting oor die bestaande wette kan gevind word op die Centre for Justice and Crime Prevention se webwerf.

Gevolglik is dit belangrik om kuberafknouery te hanteer sodra dit kopuitsteek. Die video onder gee waardevolle inligting in dié verband. 

[BRONNE: http://www.bullying.co.uk/cyberbullying/, http://www.deletecyberbullying.org/why-do-people-cyberbully/, http://www.cyberbullying.org.za/south-african-law.html]

Tags:

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.