Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

IT-oorsig: 2017

Aan die einde van nog ʼn besige jaar is dit tyd om terug te dink aan enkele van die belangrikste IT-gebeure, tendense en prestasies.  

Wat kubersekuriteit betref, is dit kommerwekkend om te berig dat kuberaanvalle en -bedreigings dié jaar rekordgetalle bereik het. Universiteit Stellenbosch, soos die meeste instellings regoor die wêreld, word toenemend geteiken deur kuberkriminele. Hierdie aanvalle verkwis ons hulpbronne, hulpbronne wat aangewend kon word vir meer opbouende projekte. Is dit bloot ʼn weerspieëling van ons samelewing?

Op ʼn meer positiewe noot het ons voortdurende vordering gemaak met belangrike vernuwingstrategieë soos die Stelselvernuwingsprogram, die Kampusinfrastruktuur Opgraderingsprogram en die implementering van verskeie nuwe dienste. Talle van die verbeterings is moontlik gemaak deur die innoverende hertoekenning van hulpbronne en die verbetering van ons werkverrigting op verskeie wyses.  

Heelwat van ons gebruikers het hul bekommernis uitgespreek oor die beskikbaarheid van wifi op ons kampusse. Wifi bly een van ons grootste beleggings en sal voortgesit word teen ʼn reëlmatige tempo namate soos meer akademiese en administratiewe geboue, en veral koshuise, toegerus en verbind word aan wifi. Ongelukkig is dit ook ʼn moeisame proses aangesien wifi-infrastruktuur grotendeels afhanklik is van die vernuwing van die geboue se infrastruktuur.  

Namate ons die digitale era betree, is dit belangrik om tegnologiese geleenthede raak te sien en te benut sodat koste-effektiewe verbeterings aan dienste gemaak kan word. Twee belangrike voorbeelde hiervan is die benutting van sg. wolkdienste (insluitende SaaS – Sagteware-as-diens-toepassingsplatforms) en die oplewing in persoonlike rekenaartoestelle en sosiale media. Hierdie tendense bied geleenthede vir die innoverende herstrukturering van IT-dienste en beter benutting van hulpbronne. Die suksesvolle migrasie van talle van ons Microsoft-toepassings (Outlook, Exchange, Office) na die Microsoft Azure platform het opsigself ʼn reeks voordele moontlik gemaak.

Dis met groot genoeë dat ons kan aankondig dat Universiteit Stellenbosch vir ten minste twee maande van 2017 die hoogste internetspoed van alle universiteite in Suid-Afrika aangeteken het. Internetkonnektiwiteit is die sleutelbemagtiger vir die meeste toepassings en kommunikasie. Spoed en betroubaarheid bly noodsaaklik vir prestasie. Ander goeie nuus is dat die beskikbaarheid van bandwydte nasionaal en internasionaal toegeneem het. Die Hoër Onderwys sektor het nou meer betroubare, wedersyds aanvullende verbindings na Europa via die Seacom en WACS-kabels van tussen 40 en 100 gigagrepe per sekonde!

Om af te sluit moet ek die IT-personeel gelukwens met die afgelope jaar se prestasies. Dankie vir al julle harde werk en toewyding.

Ons wens al ons kliënte en gebruikers ʼn gelukkige, rustige, feestelike vakansietyd toe en sien uit na ʼn nuwe jaar vol geleenthede en uitdagings. 

Attie Juyn
Senior Direkteur: Informasietegnologie

 

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.