Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

2018 in oorsig

Wat ʼn opwindende jaar het ons nie gehad nie! Terwyl ek hier skryf, het ons sopas nog ʼn uur of twee van beurtkrag betree en is ek dankbaar vir ʼn betroubare skootrekenaar met batterykrag.

Gedurende die Eeufeesjaar van die Universiteit is ʼn aantal moedige besluite gefinaliseer om van die grootste hernieuwingsprojekte van die laaste twee dekades te loods.

Die opvolgstelsels van die twee kern administratiewe toepassings, Studente en Finansiële Bestuur, is evalueer, gekies en einde November deur die Rektoraat goedgekeur. Beide hierdie toepassings, wat oor die volgende twee jaar implementeer word, is modern en innoverend om verskeie redes:

  • Die stelsels sal in die wolk implementeer word  en deur toonaangewende internasionale verskaffers ontwikkel en onderhou word. Dis ʼn belangrike verandering vir die Universiteit wat die bestaande toepassings vir meer as 25 jaar intern ontwikkel en onderhou het.
  • Die platforms wat hierdie toepassings bedien sal wolk- en nie meer kampusgebaseerd wees nie. Dit sal ʼn groot impak hê op die aard van ons werk en ons in staat stel om hulpbronne verskillend aan te wend en sodoende ons dienste aan die Universiteit te verbeter.

Sover ons kennis strek het geen Suid-Afrikaanse universiteit hierdie toepassings al voorheen na ʼn wolkgebaseerde platform migreer nie.

Die IT-afdeling het hard gewerk om die kwaliteit en volhoubaarheid van ons dienste te verbeter. Die tweejaarlikse kwaliteitverbeteringsverslag is in Augustus voorgelê aan die institusionele Kwaliteitskomitee, is positief ontvang en goedgekeur. Belangrike verbeteringsmylpale is in die verslag genoem, onder andere die vestiging van ʼn nuwe bestuursliggaam en tegnologiebestuur, die Tegnologie- en Informasiekomitee, sowel as verskeie organisatoriese, infrastruktuur- en diensverbeterings.

ʼn Verdere beduidende sukses in 2018 is die ontwikkeling en implementering van die ICT Partner Portal, ʼn stelsel wat ons werksvloei en wisselwerking met ons vennote, kollegas en kliënte vaartbelyn maak en bestuur. Ongeveer 80% van die IT-afdeling se diensprosesse is sedert die stelsel se implementering in September gedefinieer en -konfigureer en meer as 17000 insidente en versoeke is die afgelope drie maande verwerk. Die stelsel is ontwerp sodat daar deursigtigheid vir alle prosesaandeelhouers, kliënte, dienspersoneel en bestuur is ten opsigte van die werksvloei en voltooiing van take. 

Die jaar sal ook onthou word vir ʼn skerp toename in kuberaanvalle, veral strikroofpogings. ʼn Gespesialiseerde kubersekuriteitsfunksie is gevestig om die toename in bedreigings te hanteer. Dis egter onthutsend dat ʼn beduidende persentasie van ons mannekrag gevolglik ook deur hierdie verskynsel absorbeer word. 

Ons is ook hartseer dat ʼn paar van ons kollegas die span verlaat, sommige vir aftrede, ander vir groener weivelde. Ons wens hulle almal voorspoed toe, veral Callie van der Merwe en Thys de Wet wat hulle hele loopbaan by die Universiteit spandeer het.

Laastens wil ons ook vir prof Stan du Plessis, ons nuwe Uitvoerende Bedryfshoof, bedank vir die eerste volledige jaar van sy leierskap en ondersteuning. Ons is gretig en geïnspireerd om na ʼn kort rustyd 2019 aan te durf met nuwe energie.

Beste wense vir die feesgety!

Attie Juyn

 

 

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.