Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

bots

Die (ro)botte is hier

Vrydag, April 15th, 2016

 

Wetenskapfiksie vertel al vir jare dat robotte die wêreld gaan oorneem. Ons hoef nog nie gereed te maak vir ʼn robot-oorlog nie, maar botte is reeds deel van ons lewens. Ons besef dit net nie. 

robot

Bots is die afgelope tyd gereeld in die nuus. Sommiges, soos Tay, om die verkeerde redes. Maar hoekom ewe skielik die ophef? 

Een van die redes is die eensklapse vordering in die kunsmatige intelligensie tegnologie wat hierdie botte dryf. Sleutelfigure in Silicon Valley, soos Facebook, Google en Telegram is aan die voorgrond van die ontwikkelinge. Facebook het Woensdag op hulle F8-konferensie aangekondig dat hulle verskeie botte, onder andere ʼn CNN-bot, by hul Messenger-toepassing voeg.

Die meeste van ons weet nie regtig wat ʼn bot is of wat dit doen nie. ʼn Bot is nie iets wat die wêreld gaan oorneem nie (wel, nog nie). Dis doodgewoon sagteware wat ontwerp is om eenvoudige, herhalende take wat jy gewoonlik self sou verrig, te outomatiseer en voltooi. Dit kan byvoorbeeld afsprake op jou kalender voeg, besprekings maak of kos bestel. As jy in Amerika gewoon het, kon jy die Taco Bell bot gebruik het om jou tacos te bestel en betaal.

Chatterbots of chatbots word hoofsaaklik gebruik in boodskap-toepassings om gesprekke te simuleer deur ouditoriese en tekstuele metodes. Hulle is ontwerp om eenvoudige gesprekke te voer en behoort die persoon aan die ander kant te oortuig dat hulle `n persoon is.

Groot internasionale maatskappye soos Lloyds Banking Group, Royal Bank van Skotland, Renault en Citroën gebruik almal outomatiseerde chatterbots. Die botte word gebruik word om basiese kliënte navrae te hanteer wat ʼn dienstoonbank normaalweg sou beantwoord, of om inligting te bekom.

Ander botte kan jou help om vergaderings per e-pos te skeduleer. Die bot word bygevoeg in die e-posgesprek en neem oor by jou sodra die skedulering van ʼn vergadering gedoen moet word.

Ongelukkig kan botte ook kwaadwillig gebruik, byvoorbeeld om gebruikers in geselskamers te oortuig om hul persoonlike inligting uit te gee. Hierdie botte kan gevind word in Yahoo! Messenger, Windows Live Messenger, AOL Instant Messenger en ook ander kitsboodskap protokolle.

Volgende keer as jy met iemand by ʼn dienstoonbank gesels, onthou, jy praat dalk met Amy die bot, nie met Amy die mens nie. Ons kan darem wel bevestig dat, as jy die IT Dienstoonbank skakel, al ons agente steeds 100% mens is.

Meer onlangse artikels oor botte (en selfs robotte!)

Shopify acquires Kit, the artificially intelligent marketing bot
Hitachi’s cute new customer service robot seeks out lost customers
Fear the future: Donalddrumpfbot coming to Facebook Messenger 
Facebook’s David Marcus explains how bots are going to change Messenger
This personal shopping startup just launched one of the first Facebook Messenger bots
Facebook launches Messenger platform with chatbots
Microsoft created a bot to auto-caption photos and it’s going hilariously wrong

[BRONNE: http://www.recode.net, http://www.wikipedia.org]

Die trojane, bots & zombies val in

Vrydag, Augustus 30th, 2013
Een van die algemeenste navrae wat ons by gebruikers kry, is – “Hoe kry gemorsposversenders my e-posadres?!”. By `n vorige geleentheid het ons gekyk na Repelsteeltjie-aanvalle en die keer kyk ons na `n tweede metode, die gebruik van Trojaanse perde, robotte en zombies. Dit klink nou wel soos iets uit `n fliek, maar ten spyte van hul belaglike name, hou al drie `n gevaar in vir jou as e-posgebruiker.

Kom ons gebruik `n bekende voorbeeld. Jy stuur gereeld e-posse aan jou ma wat onlangs `n rekenaar gekry het. Sy gebruik Outlook of Thunderbird en het dosyne e-posse van jou in haar posbus. Sy’t jou selfs bygevoeg as `n kontak in haar adresboek. Sy kry ook gereeld e-pos van `n verlangse familielid – neef Johan van Australië. Jy en Johan het nie regtig kontak nie, maar jy weet definitief wie hy is.

Verlede jaar, net voor Kersfees, het Johan ‘n baie oulike Kersfees skermskut (“screensaver”) afgelaai wat `n feestelike boom en flikkerende kersies wys as hy weg is van sy rekenaar. Wat Johan egter nie geweet het nie, is dat, terwyl die kersies vrolik geflikker het, die skermskut op die agtergrond besig was met ander aktiwiteite. Die sagteware wat Johan installeer het, het stelselmatig deur sy e-posse, adresboek, webblaaier se kasgeheue en ander leêrs gesoek en elke e-pos adres wat dit kon opspoor, gebêre op `n lys.

Die program het daarna die saamgestelde lys na `n bediener in Rusland versend waar `n kuberkrimineel dit kombineer het met soortgelyke lyste om `n super-lys saam te stel wat oor en oor verkoop kan word. Asof dit nie genoeg was nie, het die program ook boodskappe aan al Johan se kontakte gestuur. Sonder dat Johan bewus was, het sy rekenaar honderde e-posse geskep deur middel van die ge-oeste adresse, saam met die inhoud van die Russiese bediener en dit uitgestuur via Johan se adres en internetkonneksie. Een hiervan het jou ma se e-posadres as versender en joune as ontvanger gebruik.

Ewe skielik kry jy nou e-pos van jou ma oor nagemaakte horlosies en verskeie ander gemorspos. Natuurlik het sy het niks daarmee te doen nie en jy sal waarskynlik nooit uitvind dat Johan se rekenaar eintlik die skuldige party is nie.

Dit was `n kykie in die nare onderwêreld van die Internet waar “botmasters” (die ou in Rusland) “botnets” (besmette rekenaars wat almal aan dieselfde rekenaar rapporteer) beheer of afstandbeheerde zombies (Johan se rekenaar) wat blootgestel is d.m.v. trojaanse perde (die skermskut) of soortgelyke “malware”.

En daar hou dit nie op nie. Die “botmaster” huur gewoonlik net die “botnet” uit aan wie ookal die meeste betaal. Die ewe verdagte fabriek in China wat nog meer nagemaakte Rolex-horlosies wil verkoop kan dit, onder andere, huur om hul e-posse te versprei. Daarna verkoop hy die lys ten duurste aan ander suspisieuse besighede, jou adres ingesluit. 

Met ander woorde, as jou adres opgetel word deur `n “botnet” is die deure wawyd oop. Ongelukkig is daar nie baie wat jy kan doen om dit te voorkom nie, maar jy kan op die volgende let:

  • Moet nooit e-pos aanhangsels oopmaak waarvoor jy nie gevra het nie – selfs al is dit van iemand wat jy ken. As jy wel nuuskierig is, vra vir die persoon of hulle dit gestuur het.  
  • Moet nooit iets aflaai as jy nie self kan verifieer dat dit veilig is nie. Lees eers op daaroor op forums, blogs, webwerwe of vind uit by kenners.
  • Moenie val vir sekuriteitswaarskuwings of video-opdaterings om daai oulike katprentjie te sien nie. As jy dink jy het `n Flash-speler nodig, laai dit af van die webwerf self.
  • Deel hierdie inligting met jou vriende en familie. 
  • Om veilig te speel kan jy meer as een e-posadres gebruik. Kry `n privaat adres vir jou naaste vriende, `n tweede een vir kennisse en gebruik jou sun-adres net vir jou kollegas, nie vir privaat aangeleenthede nie. GMail het byvoorbeeld `n baie goeie gemorsposfilter en dis maklik om ontslae te raak van ongewenste e-posse. 

[BRON: BustSpammers.com & David Wiles]

 

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.