Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Google

Ontmoet jou digitale rasieleier

Vrydag, April 15th, 2016

goals

Dis maklik om redes uit te dink om nie te oefen, jou studies te voltooi of die motorhuis reg te pak nie. Ons stel graag uit en gebruik tyd as ʼn verskoning om dit wat ons moet en soms ook wil doen, af te skeep.

Google het Calendar Goals ontwikkel om ons persoonlike assistent en rasieleier te wees.

Deur middel van sy masjienleervermoeë bepaal die sagteware waar op jou Google kalender jy tyd kan afknyp om jou doelwitte te bereik. Of dit nou oefening is of net meer tyd om te lees. Dit wys uit waar gapings in jou skedule is wat jou behoeftes sal vervul.

Om Calendar Goals te gebruik, moet jy ʼn Gmail-gebruiker wees en die kalendertoepassing gebruik. Voeg net jou “Goal” by en Google sal vir jou ʼn paar vrae vra om vas te stel wat jy wil doen en watter tye jou die beste sal pas.

Daar is  ʼn paar opsies beskikbaar soos Exercise, Build a Skill en Me Time, maar jy kan jou eie byvoeg. Daarna kan jy dit aan Google oorlaat om tydgleuwe te skeduleer en gereeld daaraan te herinner.

Indien dit gebeur dat ʼn ander afspraak skeduleer word in die voorgestelde tye, sal Google dit aanskuif na ʼn volgende beskikbare tyd. As jy ʼn chroniese uitsteller is, sal jy natuurlik maniere kry om Goals te omseil, maar die sagteware sal probeer om dit vir jou moeilik te maak. 

Hoe om Google Calendar Goals op Android en iOS te gebruik.

Dié nuwe funksie is die week beskikbaar op Android en iPhone, maar nog nie op die webgebaseerde Gmail kalender nie.

Google Calendar | Google Play Store via Google Blog

 

[BRONNE: http://gadgets.ndtv.comhttp://techcrunch.comhttp://www.idigitaltimes.com]

 

Lewe in 3D

Vrydag, November 20th, 2015

cardboard“Kom nou, regtig?” sou ʼn geldige eerste reaksie wees op Google se jongste uitvindsel. Grotendeels gemaak uit karton, lyk dit soos iets waarmee jy gespeel het op laerskool.

Google Cardboard beloof nie enigiets revolusionêr nie. Dis ʼn virtuele realiteit kopstuk wat jou in staat stel om 3D beelde en video’s met jou slimfoon te kyk.

Die eenvoud en toeganklikheid van hierdie stukkie karton is egter die groot pluspunt.

Die kopstuk is gemaak van riffelkarton, Velcro en ʼn paar goedkoop, plastiek lense – die belangrikste part aangesien hulle gaan help om die plat beeld op jou foon in 3D om te tower. 

Hoewel Cardboard deur Google ontwikkel is, is daar nie ʼn amptelike vervaardiger of verkoper nie. ʼn Lys van die parte en instruksies is beskikbaar op Google se webwerf. Met ʼn paar basiese items kan jy jou eie VR-kyker saamflans. Voeg jou selfoon by, laai die Google Cardboard toepassing en jy is reg vir 3D-aksie.

Die toepassing deel die selfoon se beeld in twee en pas tonneldistorsie toe op beide beelde sodat daar nie stippelvervorming op die lense voorkom nie. Die uitkoms is ʼn stereoskopiese (“3D”) beeld met ʼn wye veld van sig. 

Meer inligting is beskikbaar op https://developers.google.com/cardboard/

 

[BRONNE: http://www.wired.com; www.wikipedia.org]

 

Laat die soektog begin!

Vrydag, Mei 4th, 2012

Het jy al ooit `n soektog gedoen op `n soekenjin net om 1267 resultate te kry wat niks te doen het met wat jy in die eerste plek gesoek het nie?

Internetsoekenjins beskik oor die vermoeë om `n geweldige groot hoeveelheid webbladsye te deursoek deur van titels, sleutelwoorde of teks gebruik te maak. Maar om die regte resultate vinnig en effektief te lewer, moet jy weet hoe om dit optimaal te benut.

Ons het `n paar basiese wenke saamgestel om dit makliker te maak vir jou.

–          Kies meer as een sleutelwoord

Die meeste mense gebruik 1.5 woorde per soektog en dis nie genoeg vir `n suksesvolle soektog nie. Die aanbevole aantal woorde is 6 tot 8, verkieslik selfstandige naamwoorde. Lidwoorde en voornaamwoorde word geignoreer deur soekenjins.Vermy werkwoorde en byvoeglike naamwoorde behalwe as dit die onderwerp beter definieer.

–          Gebruik frases

Frases is kombinasies van twee of meer woorde wat in die presiese volgorde in die teks wat jy soek gevind kan word. Maak seker jy sit die frase in aanhalingstekens, byvoorbeeld “regte resultate vinnig”.

–          Hoofletters en leestekens

Die meeste soekenjins is sensitief as dit kom by kas. As jy kleinletters gebruik word sal die meeste soekenjins egter beide hoofletters en kleinletters raaksien. Kleinletters is dus jou veiligste opsie.

–          Booleansoektogte

“Boolean” soektogte is vernoem na George Boole, `n 19de eeuse wiskundige. `n Boolean-soektog is `n handige hulpmiddel wat die beste soekresultate lewer. Die drie algemeenste Boolean-opsies is AND, OR en AND NOT.

AND beteken jy soek net dokumente wat beide/albei woorde bevat. Byvoorbeeld as jy “search engines” AND “Google” AND “Boolean” kies, sal jy slegs resultate kry wat al drie woorde bevat.

OR beteken jy soek resultate wat een van die twee woorde bevat – dit maak nie saak watter een nie. Gebruik verkieslik sinonieme vir hierdie opsie. Byvoorbeeld “small caps” OR “lower case”.

AND NOT beteken jy soek resultate wat een word bevat, maar nie as die dokument ook `n spesifieke ander word bevat nie. Die soektog “Google” AND “search engines” AND NOT “Boolean” sal dus slegs vir jou die dokumente gee met “Google en “search engines”, maar nie “Boolean” ook in het nie.

Die meeste soekenjins ondersteun die AND NOT-opsie, maar soms word dit ook BUT NOT of NOT genoem. In hierdie gevalle word dit aangedui deur `n minusteken voor die word of frase te plaas.

–          Let op jou spelling en oorweeg ook alternatiewe spelling van woorde.

–          Gebruik spesifieke woorde eerder as generiese kategorieë. Soek eerder “skootrekenaar” as “rekenaars”.

–          Soek slegs op `n spesifieke webwerf of domein. Om dit te doen tik die frase wat jy soek, gevolg deur “site:” en die webwerfadres. (Byvoorbeeld inetkey site:www.sun.ac.za/infoteg)

–          Gebruik `n spesialis-soekenjin, soos `n beeld(“image”)-soekenjin, om fotos en prentjies te soek. Baie webwerwe het ook hulle eie spesiale onderafdelings waaronder jy kan soek. Wikipedia het ook `n baie volledige lys oor spesialis soekenjins.

Onthou daar is tussen 200 en 800 miljoen dokumente aanlyn! Hoe beter jy jou soektog definieer, hoe meer tyd gaan jy spaar.

Volgens oorlewering het Amazon die nommer een aankope-webwerf geword omdat Yahoo destyds voordat Google bestaan het, al die webwerwe in hulle gids alfabeties gelys het! Gelukkig het tye verander.

Om meer te leer oor soekenjins en hoe om hulle beter te gebruik, gaan loer gerus by Search Engine Watch.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.