Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

hutsteken

#Hutsteken

Vrydag, Julie 24th, 2015

hashtagVoor sosiale media was `n hutsteken of octothorp die simbool op `n telefoonknopppie wat jy nooit gebruik het nie. Daardie dae is lankal verby. 

Hutstekens (hashtags) is vandag deel van ons woordeskat en is selfs in Junie 2014 opgeneem in die Oxford English Dictionary.

Die hutsteken is vir die eerste keer in Twitter bekend gestel deur Chris Messina.Voorheen is die hutsteken of pond-simbool op verskeie ander maniere op die web gebruik – byvoorbeeld om kanale op IRC (Internet Relay Chat) aan te dui. Sedertdien word dit veel wyer op sosiale netwerke gebruik. 

hashtag
ˈhaʃtaɡ/
noun
1. a word or phrase preceded by a hash sign (#), used on social media sites such as Twitter to
identify messages on a specific topic.
 
Wikipedia definieer dit as `n tipe merker of metadata etiket wat gebruik word op sosiale netwerke of mikro-blogdienste om dit vir gebruikers te vergemaklik om boodskappe oor `n spesifieke onderwerp of met sekere inhoud op te spoor. 
 
Die bemarkingsplatform Offerpop som die geskiedenis van dié simbool goed op in `n eenvoudige diagram.
 
Wanneer jy `n # voor woorde of frases sit, sal hierdie items outomaties gemerk word en soekbaar wees vir gebruikers van die sosiale netwerk – `n vinnige en maklike manier om verwante inligting oor `n onderwerp te versamel. Die # kan enige plek in die inskrywing geplaas word – as deel van `n sin, aan die begin of einde. Dié metode is veral handig by `n sosiale netwerk soos Instagram as jy soek na fotos van `n spesifieke geleentheid of reisfotos, byvoorbeeld #paris of #worldcup2014.
 
Die teken se hooffunksie moet egter wees om metadata, konteks of ekstra inligting vir `n twiet, foto of bloginskrywing te verskaf. Deur `n hutsteken by te voeg, maak jy seker dat jou inskrywing oor `n spesifieke onderwerp gesien word. Maar maak seker dit voeg waarde by.
 
Hutstekens kan maklik misbruik word. Gemorspos-verspreiders stuur twiets met populêre hutstekens bloot om blootstelling te kry – selfs al het dit niks met die boodskap te doen nie. Indien hutstekens misbruik word – byvoorbeeld bloot gebruik word om ondersteuners te kry of niks relevant bydra tot die gesprek nie, kan `n rekening gefilter en selfs opgeskort word. 
 
Twee hutstekens per inskrywing of twiet is aanvaarbaar, terwyl drie die limiet is. Enigiets meer en jy gaan net op jou lesers se senuwees werk. In 2013 het Jimmy Fallon en Justin Timberlake `n skets gedoen oor die soms belaglike gebruik van hutstekens.
 
Sedert 2010 is hutstekens ook gebruik deur televisiekanale vir bemarking. `n Relevante hutsteken word voor, gedurende of na `n episode van `n reeks uitgesaai en verskyn aan die onderkant van die skerm. Dit word gereeld deur sosiale media deskundiges en groot maatskappye ingespan om ondersteuners te kry en handelsmerke te bemark.
 
Vir inligting oor hoe om hutstekens meer effektief te gebruik, lees gerus Rebecca Hiscott se artikel op Mashable.
 
 Populêre webwerwe wat hutstekens ondersteun:

Ek het `n voëltjie hoor fluit

Vrydag, Julie 24th, 2015

Het jy al ooit gehoor van “Larry, the bird?”.  Ja, dis reg, selfs die Twitter-voëltjie het `n naam.

twitter-bird-blue-on-white

Ons is waarskynlik bekend met die  aanlyn sosiale netwerk Twitter, maar weet ons meer as dat dit bestaan uit 40-karakter “twiets”?

Twitter, of twttr soos dit aanvanklik bekendgestaan het, is in Maart 2006 geskep deur Jack Dorsey, Evan Williams, Biz Stone en Noah Glass gedurende `n voldag breinstormsessie. Dorsey het die keuse van die naam Twitter as volg beskryf:

“…we came across the word ‘twitter’, and it was just perfect. The definition was ‘a short burst of inconsequential information,’ and ‘chirps from birds’. And that’s exactly what the product was.”

twttr is aanvanklik gebruik aangesien die domein-naam twitter.com nie op daardie stadium beskikbaar was nie. Ses maande later, met Twitter se amptelike bekendstelling, is die naam verander na die een wat ons vandag gebruik.

Amper tien jaar later is Twitter Inc. steeds gebaseer in San Francisco, met meer as 25 kantore regoor die wêreld en 500 miljoen gebruikers. 

Deur die jare het Twitter ontwikkel van `n sosiale hulpmiddel waarmee mense kommentaar lewer oor hul daaglikse doen en late en lug van opinies tot iets wat gebruik word vir bemarking, onderrig en nuus en veral handig is vir noodkommunikasie. Gedurende die San Francisco aardbewings en Boston-marathon bomaanvalle was Twitter die hoof-kommunikasiekanaal vir die vespreiding van inligting. In Suid-Afrika het Twitter sy nut bewys gedurende die brande in Kaapstad en daarna met die insameling van fondse. 

In gevalle soos hierdie gebruik Twitter-gebruikers `n # om inligting oor `n spesifieke onderwerp te groepeer en soekbaar te maak, byvoorbeeld #capetownfires.  Sodra `n spesifieke hutsteken se gebruik toeneem en dit `n tendens word, word dit `n trending topic en word dit vertoon op die sypaneel vir alle gebruikers. Hierdie onderwerpe wys die onderwerpe waaroor daar die meeste gepraat word, hetsy dit nuusgebeure is of persone se opinies oor aktuele gebeure. (Meer oor # hier)

Kolleges en universiteite maak deesdae ook gebruik van Twitter as `n kommunikasie- en leerhulpmiddel vir studente. Wanneer `n kursus bestaan uit `n groot groep studente, kan Twitter ingespan word om gesprekke tussen klaslede te fasiliteer.

HOE WERK DIT?

Twiets is by verstek sigbaar vir almal, maar versenders kan hul boodskappe beperk tot hul ondersteuners. Gebruikers kan twiet op die Twitter webwerf, deur middel van versoenbare eksterne toepassings (byvoorbeeld toepassings vir selfone) of selfs met SMSe in sommige lande. Hertwiet (retweeting) is wanneer `n twiet populêr is en ander gebruikers dit verder versprei. Beide twiets en hertwiets kan nagespeur word om te sien hoe dikwels dit gelees word. 

Gebruikers kan inskryf vir ander gebruikers se twiets – dit staan bekend as following en intekenaars staan bekend as followers  of tweeps. Gebruikers kan ook ander gebruikers blokkeer as hulle dit so verkies.

As `n gebruiker iemand wil antwoord of noem, word `n @-teken voor die persoon se gebruikersnaam gevoeg. Om `n twiet van `n ander Twitter-gebruik te deel met jou eie lesers, kan jy die retweet knoppie in die twiet self gebruik.

Kyk gerus dié oulike, geanimeerde geskiedenis van Twitter op YouTube.

[SOURCE: www.wikpedia.org]

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.