Standard Bank en US stig sentrum om transformasie in die landbousektor te ondersteun

Die mislukking van grondhervormingsprojekte en ontluikende boere het aanleiding gegee tot die stigting van die Standard Bank Sentrum vir die Ontwikkeling van Leierskap en Mentorskap in Agribesigheid aan die Universiteit Stellenbosch (US) – ’n inisiatief om die hierdie uitdagings in die landbousektor die hoof te bied.

Willie Du Plessis, Standard Bank se Direkteur vir Landboubankdienste, sê: “Die Standard Bank Sentrum vir die Ontwikkeling van Leierskap en Mentorskap in Agribesigheid volg op die regering se oproepe vir privaat/openbare vennootskappe in die landbousektor. Die Sentrum is in vennootskap met die Universiteit Stellenbosch op die been gebring om ontluikende boere in die kommersiële agri-voedsel-waardeketting in te skakel en om sodoende ekonomiese ontwikkeling en groei te bevorder. Standard Bank glo dat beter toegang tot onderwys, inligting en die landbouwaardeketting, ontluikende boere sal bemagtig om ‘n sinvolle bydrae tot die land se ekonomie te lewer.”

Hierdie inisiatief, die eerste van sy soort in Suid-Afrika, stem ooreen met Standard Bank se benadering tot korporatiewe sosiale beleggingsprojekte wat daarop konsentreer om volhoubaar aan fundamentele behoeftes te voldoen.

Prof Mohammad Karaan, Dekaan van die Fakulteit Landbouwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, sê: “Die Suid-Afrikaanse landbousektor speel ‘n sleutelrol in ekonomiese groei en ontwikkeling deur voedsel en vesel te produseer. ‘n Groot uitdaging vir Suid-Afrika is dus suksesvolle en volhoubare landbouontwikkeling en grondhervorming ten einde ‘n mededingende, billike en omgewingsvriendelike asook volhoubare kapasiteit vir landbouproduksie te skep. Die nuwe Sentrum stel die Universiteit in die posisie om by landboubesighede betrokke te raak en die nodige ondersteuningsstelsels vir menslike kapasiteit en kennis te ontwikkel en om ‘n leierskapsrol in hierdie verband te kan speel.”

Tina Eboka, Direkteur van Groep Korporatiewe Sake by Standard Bank, sê: “Die Bank se belegging in die Sentrum vir die Ontwikkeling van Leierskap en Mentorskap in Agribesigheid word gedryf deur ‘n begeerte om ‘n volhoubare sosiale impak te maak en om dividende uit sosiaal relevante beleggings te verdien. Standard Bank is daarvan oortuig dat die hefboomeffek van belegging van sy omvangryke hulpbronne in gemeenskappe ‘n positiewe sosiale sowel as wedersydse ekonomiese voordeel kan bied. In die geval van hierdie Standard Bank Sentrum in Stellenbosch, glo ons dat finansiering alleen nie die ontluikende boere sal help nie. In ooreenstemming met Standard Bank se doel om mense met mekaar in verbinding te stel, bied ons hier geldelike hulp sowel as ons kollektiewe vaardighede en kundigheid om volhoubare en suksesvolle landboubesighede op die been te bring.”

Die projek bestaan uit twee afsonderlike maar interaktiewe programme. Die Universiteit Stellenbosch sal ‘n multidissiplinêre nagraadse kwalifikasie, insluitende meesters en doktorsgrade, inisieer en koördineer. Huidige studente sowel as gevestigde leiers in die landbousakesektor sal baat vind by hierdie nagraadse studie.

Tweedens word ’n mentorskap ontwikkelingsprogram aangebied, by wyse van geakkrediteerde kortkursusse en “leer- deur – te- doen”-ervarings. ‘n Databasis van projekte en mentors word ook saamgestel. PWC is ’n vennoot by die ontwikkeling en aanbied van die kortkursus program.

Du Plessis sê: “Hierdie nuwe Sentrum sal nuwe sakegeleenthede en landswye vennootskappe in die landbousektor ondersteun. Standard Bank se onlangs gestigte R500 miljoen-fonds vir swart bemagtiging in die landbou sal ook bydra tot die ontwikkeling van ontluikende boere in Suid-Afrika. Die hoofdoel met hierdie landboufonds is om landboubesighede en grondhervormingsprojekte en ontluikende boere volhoubaar met mekaar in verbinding te bring en sodoende geleenthede vir Standard Bank te skep.”

Die Standard Bank Sentrum vir die Ontwikkeling van Leierskap en Mentorskap in Agribesigheid geniet die steun van die Nasionale Departement van Landbou asook die Landbou Besigheids Kamer en landbou kommoditeitsgroepe, en beoog om nuwe en opkomende boere te help om in die hoofstroom-landboubesigheidsektor opgeneem te word.

  • Meer inligting: Ross Linstrom by Standard Bank, tel 011 636 3629, sel 083 262 1882, e-pos: ross.linstrom@standardbank.co.za of prof Johan van Rooyen, Direkteur van die Standard Bank Sentrum vir die Ontwikkeling van Leierskap en Mentorskap in Agribesigheid, Universiteit Stellenbosch, tel 021 808 4757, e-pos cjvr@sun.ac.za

Foto bo: Prof Johan van Rooyen, Direkteur van die Standard Bank Sentrum vir die Ontwikkeling van Leierskap en Mentorskap in Agribesigheid, tydens die bekendstelling op Stellenbosch. (Foto: SSFD). Foto (onder):  Prof Johan van Rooyen, Direkteur van die Standard Bank Sentrum vir die Ontwikkeling van Leierskap en Mentorskap in Agribesigheid (US); mnr Willie du Plessis, Direkteur: Landboubankdienste (Standard Bank); Me Nomsa Masuku, Direkteur: Korporatiewe Sosiale Inisiatiewe (Standard Bank); mnr Zwelibanzi Manyati, Direkteur: Besigheidsbankdienste en Mid-Korporatief (Standard Bank) en prof Mohammad Karaan, Dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe (US)

2 Reaksies op “Standard Bank en US stig sentrum om transformasie in die landbousektor te ondersteun”

  1. Enrico Smith May 11, 2010 om 16:49

    Dagse!ons is Opkomende boere in die Bergrivier Munisipaliteit Area,’Sandveld Opkomende Boere-Redelinghuys’,Ons het vir die 1ste van die Geleentheid gehoor van Standard Bank ,se Geleentheid vir die Opkomende boere,Ons het ons eie Grond van 13ha.Ons ook het hulp nodig om Ons projek volhoubaar te maak,Ons hoop dat U/Jule kontak sal maak met Ons as Opkomende boere in die Bergrivier Munisipaliteit-Redelinghuys.Kontaknrs vir Enrico Smith Sekretaris-0721576457,of die Voorsitter Mnr.Christiaan Smith-0721558447.Boerdery Groete!!

  2. Enrico Smith May 11, 2010 om 16:49

    Dagse!ons is Opkomende boere in die Bergrivier Munisipaliteit Area,’Sandveld Opkomende Boere-Redelinghuys’,Ons het vir die 1ste van die Geleentheid gehoor van Standard Bank ,se Geleentheid vir die Opkomende boere,Ons het ons eie Grond van 13ha.Ons ook het hulp nodig om Ons projek volhoubaar te maak,Ons hoop dat U/Jule kontak sal maak met Ons as Opkomende boere in die Bergrivier Munisipaliteit-Redelinghuys.Kontaknrs vir Enrico Smith Sekretaris-0721576457,of die Voorsitter Mnr.Christiaan Smith-0721558447.Boerdery Groete!!

Lewer kommentaar

*