US wil verandering bring met die HOOP Projek
“Dit is ons nuwe langtermyn strategiese plan – dit is ambisieus, omvattend en geïntegreerd.”
Met hierdie woorde het prof Russel Botman, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), die HOOP Projek Woensdagaand in die Endlersaal op die Universiteit se Stellenbosch-kampus bekendgestel.
Hy het gesê dat die Universiteit drie hoof verantwoordelikhede het. “Gegewe ons geskiedenis het ons ’n morele verantwoordelikheid teenoor die armes, die landelike gemeenskappe en ’n verskeidenheid individue in ons land. Ons tweede verantwoordelikheid is ‘n historiese een om die voortslepende probleme van die 20ste eeu in die gesig te staar. En die derde verantwoordelikheid is om die uitdagings van die 21ste eeu, nuwe generasies jongmense, nuwe maniere van leer, nuwe geleenthede vir navorsing en die benutting van ontluikende tegnologie, aan te gryp.
“Die HOOP Projek is ons manier om hierdie verantwoordelikhede na te kom.”
Die HOOP Projek stel die Universiteit in staat stel om drie dinge te doen, het prof Botman verduidelik: om in diens van die gemeenskap te wees en om huidige en toekomstige behoeftes aan te spreek; om die beste universiteit moontlik vir ’n nuwe generasie te wees; en om ander aan te spoor om by ons aan te sluit om die wêreld ’n beter plek te maak.
“Ons visie vir ons land en kontinent is ’n toekoms wat vry is van armoede, waar die menswaardigheid van al die mense beskerm word, waar ons maatskaplike en ekologiese stelsels gesond moet wees en waar vrede, sekuriteit en demokrasie beskerm word. Die HOOP Projek vergestalt die Universiteit se toewyding om ’n rol in so ’n land, so ‘n kontinent, so ’n wêreld, te speel.”
Die loodsgeleentheid van die HOOP Projek het ook gedien as geleentheid om die “Virtuele Brug” tussen die US en Rensselaer Polytechnic Institute, die oudste tegnologiese navorsingsuniversiteit in die Verenigde State, bekend te stel. Die virtuele brug gebruik ’n hoë-kapasiteit optiesevesel-kabel wat informasie van Stellenbosch, via Kaapstad, al die pad na Londen, oor die Atlantiese Oseaan en tot in die NYSERNET-lus wat regoor New York staat loop, reguit tot by Rensselaer en terug, kan stuur.
Dr Shirley Ann Jackson, President van Rensselaer, wat haar heelhartige ondersteuning aan die projek toegesê het, het tydens ‘n lewendige oorskakeling gesê dat die HOOP Projek die beste van Suid-Afrika verteenwoordig aangesien dit “’n verskil in die toekoms in” gaan maak. Sy het ook die virtuele brug verwelkom en gesê dat dit die uitruil van hoë-kapasiteit informasie moontlik gaan maak. “Hierdie brug van lig is ook die brug van hoop.”
Sy het mense aangemoedig om in die HOOP-projek te belê. “Die kwaliteit en toewyding van betrokkenes, vul my met hoop. ’n Belegging in HOOP is ’n belegging in die volgehoue akademiese sukses van die US.”
Vir die Rektor se volledige toespraak: http://www.sun.ac.za/university/Management/rektor/docs/HOPE_Project.pdf
Vir kort video oor die geleentheid: http://www.youtube.com/watch?v=ap06abpxoo0
Volg die geleentheid via ons sosiale netwerke: http://www.sun.ac.za/university/HOOP.html

July 21, 2010 
TrackbacksPingbacks
[...] To read about the first event in Stellenbosch: http://blogs.sun.ac.za/news/2010/07/21/the-hope-project-sus-vehicle-to-bring-about-change/ [...]
[...] To read about the first event in Stellenbosch: http://blogs.sun.ac.za/news/2010/07/21/the-hope-project-sus-vehicle-to-bring-about-change/ [...]