Harde werk en deursettingsvermoë = elf onderskeidings
Elf vakke, elf onderskeidings. Dit wil gedoen wees en Perry Loebenberg, ’n MB, ChB-student, het danksy harde werk en deursettingsvermoë, dit vermag. Kort op sy hakke, met tien onderskeidings, is Sonelle Conradie.

Perry Loebenberg en Sonelle Conradie, MB, ChB-graduandi, het albei uitstekend presteer en onderskeidelik 11 en 10 onderskeidings elk behaal uit 'n totaal van 11 vakke.
Loebenberg se prestasie is die beste nóg deur ’n MB, ChB-student. Hy en Sonelle is dit eens dat hulle ’n baie strawwe ses jaar agter die rug het en die welverdiende rus baie waardeer. “Maar dit was die moeite werd. My ouers is baie opgewonde en trots op my,” vertel Loebenberg. Sy rus is egter van korte duur, want hy begin oor bietjie meer as ‘’n week in Bloemfontein werk. Sonelle sal aanstaande jaar by Tygerberg haar internskap doen.
Ook onder die sowat 800 studente van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe wat Dinsdag tydens die tweede Desember-gradeplegtigheid van die Universiteit Stellenbosch hul grade ontvang het, was Francois Coetzee. Coetzee, wat tydens sy studies die gebruik van sy bene in ’n fietsry-ongeluk verloor het, het onder luide applous sy M-graad in huisartskunde ontvang.
Vir die Neethling-gesin van Malmesbury was vandag ’n besondere groot dag. Pieter Neethling is die vierde generasie dokter wat hierdie familie opgelewer het. Sy pa, Steyn, het ook sy M.B., ChB-graad aan die US verwerf terwyl sy oupa en oupagrootjie hul grade elders verwerf het. Boonop het sy broer en suster, ’n tweeling, pas hul eerstejaar MB, ChB by Maties voltooi.
Nog ’n hoogtepunt van vandag se plegtigheid was toe Marlin Abrahams, ʼn voormalige ontvanger van die Rektor se Uitstygtoekenning, ondanks baie ontberinge sy graad ontvang het. Gerald Maarman, wat die SciMathUS-program gevolg het, het ook breed geglimlag nadat hy sy MSc in Geneeskundige Wetenskappe ontvang het.
Vinkel en Koljander, die een is nes die ander. Dit is beslis van toepassing op tweelingbroers Paul en Wouter Minnaar wat albei graad gevang en boonop elk 3 onderskeidings behaal het.
Hulle gaan volgende jaar begin werk by die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria en sê die moontlikheid bestaan dat hulle wel eendag saam ‘n praktyk sal open, maar vir eers sal hulle konsentreer op die werk wat voorlê.

Gerald Maarman, hier saam met prof Julian Smith, Viserektor: Gemeenskapsinteraksie en Personeel, het sy meestersgraad in Geneeskundewetenskap verwerf. Gerald is een van die studente wat die SciMathUS-program met lof geslaag het.
Die twee het gesê dis ‘n groot verligting dat 6 jaar se studies nou uiteindelik agter die rug is en het dit benadruk dat hulle nie so ver sou gevorder het as dit nie vir hul ouers, Willem en Magda Minnaar was nie.
Prof Magda Fourie, Viserektor: Onderrig aan die Universiteit Stellenbosch, het die tydens die seremonie verduidelik hoe een van die HOOP Projek se akademiese inisiatiewe, die Ukwanda Landelike Kliniese Skool, nie net mediese sorg meer toeganklik sal maak vir gemeenskappe in landelike gebiede nie, maar ook studente in die gesondheidswetenskappe beter sal toerus om die uitdagings in dié gebiede aan te pak.
Onder die bykans 4 870 Maties wat vandeesweek hul grade ontvang, tel 90 doktorsgrade – die meeste nog ooit vir een plegtigheidsessie in die US se geskiedenis.
Op Vrydag 10 Desember word twee eregrade aan mnre Whitey Basson en Tito Mboweni toegeken. Mnr Basson, direkteur en hoofuitvoerende beampte van Shoprite Holdings Bpk – Afrika se grootste voedsel-kleinhandelsgroep – ontvang die graad Doktor in die Handelswetenskappe (DComm) honoris causa. Mnr Mboweni, die voormalige SA Reserwebank-voorsitter, word vereer met die graad Doktor in die Handelswetenskappe (DComm) honoris causa.
Vir ‘n kort video van die geleentheid: http://www.youtube.com/watch?v=iKjeB3s6d_k

December 7, 2010 
Dis ‘n belowende artikel! Met so baie lof wat van die program gepraat word, wil ek graag ook een van die studente wees wat dalk hierdie program wil voltooi.