Wilcocks-brand: ondersoek na moontlike oorsaak is aan die gang

Die ondersoek na die moontlike oorsaak van die brand, wat groot gedeeltes van die Wilcocks-gebou in puin gelê het, is aan die gang en in die belang van veiligheid en sekuriteit is die gebou steeds afgesper, maar reëlings word tans getref vir personeel van die eerste en tweede vloere om toegang tot hul kantore en noodsaaklike toerusting te kry. Dit sal egter op die vroegste eers Vrydagoggend (17 Desember) kan geskied. Die derdevloer is ongelukkig heeltemal verwoes en sal daar dus geen toegang tot hierdie vloer wees nie.

Brand by Wilcocks gebou

Brand by Wilcocks gebou

Die Gebeurlikheidskomitee wat gemoeid is met die hantering van die nagevolge van verlede Vrydag se brand in die Wilcocksgebou, het Woensdagoggend weer vergader om onder meer planne te finaliseer vir alternatiewe akkommodasie van die personeel van die geaffekteerde departemente (Geskiedenis, Sielkunde, die Nagraadse en Internasionale Kantoor en die Argief) met die oog daarop om hul volledige funksionering binne die komende week te herstel. Voortvloeiend uit hierdie vergadering rapporteer ek graag oor die volgende sake:

Toegang tot die gebou

•  Personeel sal deur die onderskeie voorsitters van die departemente in kennis gestel word wanneer hulle die gebou in klein groepe en onder toesig en begeleiding van ‘n veiligheidsbeampte kan betree. Personeel sal ‘n vrywaringsvorm vir hierdie doel moet onderteken en ook verseker dat hulle ‘n vorm bekom waarop die universiteitsbates en persoonlike eiendom wat verwyder word, aangeteken moet word.

• Personeel word versoek om konstruksie helms, stewige skoene en gepaste klere te dra wanneer hulle die gebou betree. Plakkies en sandale moet asseblief vermy word.

• Alle rekenaars sal ook eers deur Informasietegnologie getoets word voordat dit na die alternatiewe werkplek (tuis of ander kantore) verskuif sal kan word.

• Personeel vir wie dit nou onmoontlik is om Vrydag op Stellenbosch te wees, sal in die tweede week van Januarie 2011 die geleentheid gebied word om toegang tot hul kantore en noodsaaklike toerusting te verkry.

Alternatiewe kantoorruimtes

• Alternatiewe kantoorruimtes vir die geaffekteerde personeel is reeds geïdentifiseer en met departementele voorsitters uitgeklaar met inagneming van hul administratiewe en akademiese behoeftes.

• Volgens huidige beplanning sal die personeel van die Departement Geskiedenis by die Sasol Kunsmuseum en die Joernalistiek-gebou gehuisves word; die Departement Sielkunde sal in die GG Cillie (Opvoedkunde)-gebou en die JS Gericke Biblioteek inskuif, terwyl die Nagraadse en Internasionale Kantoor by die Admin A-gebou se grondvloer (die ou US-Drukkery) ‘n heenkome vind. Die enkele personeellede van die Argief sal ook in Admin A-gebou geakkommodeer word. (Laasgenoemde se administratiewe take kan tot groot mate onafhanklik van die Argief uitgevoer word. Met die afsluiting van die perseel, kon enige skade aan die Argief tot op hede nog nie bepaal word nie.)

• ‘n Woonhuis by die Welgevallen Proefplaas word ook ingerig vir gebruik van die Kliniese Sielkunde studente. Vraghouers wat in kantore omskep is, sal ook beskikbaar wees vir praktiese konsultasiesessies wat die Departement Sielkunde aanbied.

• Landlyntelefone sal waar moontlik na selfone herlei word terwyl die nodige netwerkpunte aangebring word.

Geaffekteerde lesinglokale

• Die drie lesingsale wat in die Wilcocks-gebou gehuisves word, het aansienlike skade opgedoen. ‘n Herindeling van lesinglokale het reeds plaasgevind en lesings wat deur die onderskeie departemente aangebied word, sal in die nuwe jaar in die Kruiskerk en die HB Thom-teater aangebied word. Een van die die filmteaters in die Studentesentrum sal ook vir hierdie doel benut kon word.

• Die nodige multimedia- en klasgee-toerusting word tans bestel en sal gereed wees wanneer klasse in Januarie 2011 begin.

‘n Aksiekomitee is saamgestel om toe te sien dat aksies insake die Wilcocksgebou en waarop reeds besluit is, vlot sal verloop gedurende die somerreses.

Een kommentaar op “Wilcocks-brand: ondersoek na moontlike oorsaak is aan die gang”

  1. Blade Nzimande het ‘n stewige trackrekord van universiteite afbrand. KZN se biblioteek afgebrand en is ook gekoppel aan ‘n brand by die selfde universiteit se admin gebou. Nou wonder ek maar net…….

Lewer kommentaar

*