Maties blink uit in Nieu-Seeland

Verskeie lede van die Maties-Helderberg Sportklub vir Gestremdes van die Universiteit Stellenbosch (US) het hul staal gewys deur ’n rits medaljes te wen by die 2011 Internasionale Paralimpiese Komitee se Wêreldatletiekkampioenskappe.

Die Maties wat deel uitgemaak het van die Suid-Afrikaanse afvaardiging by die kampioenskappe , waaronder die naelloopkampioen Oscar Pistorius, het daartoe bygedra dat Suid-Afrika sewende op die medalje-bord geëindig het met ‘n totaal van 25 medaljes, waaronder 9 goud, 7 silwer, en 9 brons was.

Ilse Hayes in aksie tydens die kompetisie. (Foto: Suzanne Ferreira)

Vir die Matie Ilse Hayes (T13 – visueel gestremdes) was dit ‘n baie suksesvolle kompetisie, met goud in die 100m, sowel as die verspring in ‘n afstand van 5.80m. Hayes het ook ‘n brons medalje in die 200m verower.  

Hilton Langenhoven in die klas F12 (visueel gestrem), het silwer gewen in die verspring en ook goud in die vyfkamp. In die 200m het Arnu Fourie (T44 – amputasie), ‘n brons verower en ook vierde geëindig in die 100m (T43/44). Fanie van der Merwe het op sy beurt silwer losgehardloop in beide die 100m en 200m (T37 – serebrale gestremdheid), met sy  tyd in laasgenoemde vinniger as sy 2008 Paralimpiese rekord.

Jonathan Ntutu (T13 – visueel gestremdes) het ‘n silwer gewen in die 100m. In die 200m het hy ‘n goue medalje gewen en in die proses ‘n Afrika rekord opgestel, maar hy was egter gediskwalifiseer omdat hy buite die baan getrap het . In die 400m kon hy net ‘n vierde plek verower.

In spiesgooi het Zanele Situ (F54 – rolstoel) ‘n brons medalje gewen en Anrune Liebenberg, wat hierdie jaar by die klub aangesluit het, ‘n silwer in die 400m (T46). Jean Joubert (F44 -amputasie) se afstand van 41.80m, kon hom net ‘n negende posisie verseker in die spiesgooi afdeling.

Volgens mnr Wentzel Barnard, Sport Bestuurder van die  Maties-Helderberg Sportklub vir Gestremdes, het die klublede se resultate wipplank gery oor die laaste twee dae van die kompetisie. Die 4 x 100m aflosspan  (klasse T35 – T38) waarvan Fanie van der Merwe  ‘n lid was, was gediskwalifisieer omdat hulle die aflosstok buite die verbysteek-zone aangegee het, en die kampioen rolstoelatleet  Ernst van Dyk moes tevrede wees met ‘n  sesde plek in die marathon. In sy eerste internasionale deelname  het Jan Nero (T11 – blind) en sy gids hardloper Daune Fortuin sesde geëindig. Arnu Fourie aan die anderhand het goud losgeslaan as lid van die 4x 100m aflosspan (T42-T44) wat die Amerikaners geklop het in ‘n tyd van 42.40. Dit was ‘n byeenkoms rekord en slegs 0.5s stadiger as die wêreld rekord.

Zanele Situ wys waartoe sy instaat is. (Foto: Suzanne Ferreira)

“Persone met gestremdhede is hier in die gelukkige posisie dat hier kundigheid en entoesiasme is wat die sport betref. As klub en land kan ons baie trots wees op die atlete. Hier is talent, wat ontwikkel en reg bestuur word,” het mnr Barnard gesê.

Volgens mnr Barnard was medaljes te wagte want die groep is goed voorberei deur hul afrigter Dr Suzanne Ferreira van die Departement Sportwetenskap, Karen le Roux (veld afrigter), tesame met insette van die Universiteit se Sportprestasie-instituut (SUSPI) .

Die kompetisie het vanaf 21 Januarie tot 30 Januarie in Christchurch, Nieu Seeland plaasgevind.

4 Reaksies op “Maties blink uit in Nieu-Seeland”

  1. Congratulations to all the athletes, they have really done us proud.

  2. Baie geluk aan ieder en elkeen wat deelgeneem het! Geluk ook aan Suzanne wat alles vir haar atlete doen.

  3. Baie geluk aan die MH Sportklub vir Gestremdes en die afrigters van die atlete met hierdie besondere uitslae. Ons is werklik trots op julle.
    Mag die voorbereiding vir die 2012 Paralimpiese Spele suksesvol verloop.

  4. Marcia Lyner-Cleophas February 4, 2011 om 12:56

    We are so proud of our Matie students and the participants of the Club – people with disabilities have many barriers to overcome and those who have no specific disabilities can really take lessons on how to persevere despite the odds.

Lewer kommentaar

*