‘Huis van hoop’ word opgeknap
Na jare se onderhandelings en beplanning is die Weidenhofhuis-terrein op Stellenbosch uiteindelik op Maandag 7 Februarie aan die bouspan van CS Construction oorhandig sodat restourasie en uitbreidings kan begin.
Prof Nico Koopman, Dekaan van die Fakulteit Teologie, het by die geleentheid na Weidenhofhuis verwys as “‘n huis van hoop” vir studente uit Afrika.
Weidenhofhuis bestaan uit twee skakelhuise in Weidenhofstraat naby die treinstasie en verskaf akkommodasie aan hoofsaaklik nagraadse Teologie-studente uit Afrika. Die huise is in 1992 vir hierdie doel aangekoop deur die Hartgerink Trust en die Kommissie vir Getuienisaksie van die NG Kerk-familie en is in 2008 aan die Universiteit Stellenbosch geskenk.

Prof Nico Koopman, dr Chatha Msangaambe, gewese inwoner van Weidenhofhuis en prof Jurgens Hendriks, voog: Weidenhofhuis.
Die afgelope 20 jaar verskaf die huis ook ‘n spirituele tuiste aan Maties uit onder andere Namibië, Malawi, Zambië, Zimbabwe, Kenia, Mosambiek en Nigerië. Afhangend van die aard van hul studies strek studente se verblyf dikwels tot ‘n tydperk van vyf jaar of selfs langer. Weidenhofhuis het pas twee doktorale studente suksesvol afgelewer: dr Chatha Msangaambe van Malawi en dr Christopher Munikwa van Zimbabwe.
Na afloop van die uitbreidings sal die huis voorsiening maak vir akkommodasie vir 23 studente, insluitend egpare en gestremde studente. Die koste van die projek beloop ongeveer R 6 miljoen.
- Persone wat wil bydra tot die boufonds kan Liena Hoffman kontak by liena@sun.ac.za of 021 808 3255.

February 15, 2011 

Geen kommentaar tot op hede nie...