Imfundo Trust: 15 studente kry beurse

Die Universiteit Stellenbosch (US) was Maandag (7 Maart 2011) gasheer vir die amptelike bekendstelling van die Imfundo Trust, ’n inisiatief van die Old Mutual Investment Group (OMIGSA), wat daarop gemik is om die tekort aan swart beleggingspesialiste die hoof te bied en die poel van geskikte gekwalifiseerde individue in die batebestuursbedryf te vergroot.

Die 15 studente met verskeie rolspelers van OMIGSA en amptenare van die Universiteit Stellenbosch. (Foto: Hennie Rudman)

Onder die gaste by die geleentheid was verskeie rolspelers van OMIGSA en die Imfundo Trust, die Universiteit Stellenbosch se prof Magda Fourie, Viserektor: Onderrig en dr Jerome Slamat, Senior Direkteur: Gemeenskapsinteraksie, sowel as die 13 BComm- en twee BScAgric-studente wat voordeel trek uit die Trust in die vorm van beurse ter waarde van R4 miljoen oor vier jaar.

Prof Fourie, wat die aanwesiges verwelkom het, het gesê die Universiteit sal die studente ondersteun en seker maak dat hulle sukses behaal. Sy het die gaste van die US se Eerstejaarsakademie (EA) wat vir die eerste keer in 2007 geïmplementeer is, vertel. Die EA is ‘n Universiteitswye poging om met behulp van ‘n verskeidenheid navorsingsaksies, programme en projekte, die sukseskoers van eerstejaarstudente te verbeter. Wat studentesukses betref, is Stellenbosch onder die top 3 instansies met ‘n suksessyfer van 82%.

Prof Fourie het gesê die fokus op beurse het toegeneem as deel van die Universiteit se HOOP Projek. “Beurse is ‘n manier om hoop te gee aan ‘n student wat andersins nie die geleentheid sou gehad het om te studeer nie. Ons het vennote soos julle nodig om ons te help. Ons sien uit na ‘n vrugbare vennootskap,” het sy bygevoeg.

Die Imfundo Trust (“Imfundo” beteken “opvoeding” in Zoeloe), wat sowat R20 miljoen oor die volgende vyf jaar gaan spandeer, gaan daarop fokus om verdienstelike swart studente – met ’n spesiale fokus op vroue – te help om tersiêre opleiding by geselekteerde top Suid-Afrikaanse universiteite te ontvang naamlik Stellenbosch, die Universiteite van Suid-Afrika, Johannesburg, die Fort Hare Universiteit en die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit. Die Trust sal twee keer ‘n jaar met die betrokke universiteite vergader om die vordering van die studente te evalueer.

Me Rojie Kisten, Voorsitter van die Imfundo Trust, het die studente die versekering gegee dat hulle ondersteuning sal ontvang om suksesvol te wees, maar het ook gesê dat hulle daarna moet streef om goed-afgeronde landsburgers te word. Sy het hulle versoek om hul beste te gee. “Werk hard, benut hierdie geleentheid, moenie julself teleurstel nie en moenie jul ouers teleurstel nie.”

Me Kisten het dit benadruk dat daar nie van die studente verwag sal word om vir OMIGSA na afloop van hul studies te werk nie. Die doel van die Trust is om die poel van geskikte gekwalifiseerde swart beleggingspesialiste vir die hele batebestuursbedryf te vergroot.

As deel van hulle opleiding word daar wel  van studente verwag  om gemeenskapswerk gedurende vakansies te doen om sodoende een van die Trust se doelwitte te vervul – om verantwoordelike burgers sowel as professionele beleggers te ontwikkel.

Dr Slamat het op sy beurt OMIGSA bedank omdat hulle die Universiteit Stellenbosch gekies het as een van hul vennote en ook omdat hulle nie net geld gee nie, maar ook tyd en kundigheid. “Dit sal verseker ‘n sukses wees,” het hy bygevoeg.

Geen kommentaar tot op hede nie...

Lewer kommentaar

*