Instituut help jeug om FVZS se werk voort te sit – SR-voorsitter

Leiers soos dr Frederik van Zyl Slabbert het baie vermag, maar daar is steeds talle brandpunte in die samelewing wat aangespreek moet word, en die jeug het ‘n belangrike rol om te speel.

Só meen Jan Greyling, Studenteraadsvoorsitter aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hy het Dinsdag [29 Maart 2011] aan ‘n paneelbespreking (oudio lêer) by die bekendstellingsimposium van die US se nuwe Frederik Van Zyl Slabbert (FVZS) Instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling deelgeneem.

“Ek is regtig bekommerd oor die jeug en die toekoms. Ons werk is nie klaar nie. Daar moet nog baie gedoen word aan probleme soos armoede en ongelykheid,” het hy gesê.

“Weet ons waar hierdie probleme vandaan kom? Hou ons regtig ons leiers aanspreeklik? Wat gaan ons doen om oplossings te vind? Dit is dié soort vrae wat ons moet stel, en dis hoekom ek opgewonde is oor die Instituut, want dit gaan ‘n verskil maak.”

Studenteleiers

Studenteleiers wat aan die Simposium deelgeneem het. Me Lovelyn Nwadeyi, Studente-assistent by die FVZS Instituut; mnr Reggie Barry, Primarius, Wilgenhof-koshuis; mnr Wiaan Visser, Akademiese Belangeraad; me Crystal McIntosh, Luister, Leef en Leer-huise; me Nadine Moodie, 'n oud-studenteleier en mnr Jan Greyling, Studenteraadsvoorsitter.

Prof Russel Botman, Rektor en Visekanselier, het gesê daar is besluit om die nuwe Instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling na wyle dr Slabbert, die Universiteit se vorige Kanselier wat op 14 Mei 2010 oorlede is, te vernoem omdat hy ‘n goeie rolmodel was.

“Ons bring hulde aan ‘n groot Suid-Afrikaans leier en seun van hierdie universiteit op die beste moontlike manier – deur die vermoë van vandag se jeug om die uitdagings van ons era die hoof te bied, te versterk. Dit is julle wat ons die toekoms in moet vat,” het hy aan studente in die gehoor gesê.

Mnr Jan-Jan Joubert, ‘n oud-Matie en politieke redakteur van Rapport, het gesê hy stem saam met beskrywings van Dr Slabbert as ‘n “gebore leier”.

Dr Slabbert, wat aan die US gestudeer en klasgegee het, “het aan die einde van sy tweede jaar al primarius van Wilgenhof-koshuis geword, maar is nie tot die SR verkies nie omdat hy destyds as ‘te liberaal’ beskou is,” het me Prem Coopoo, Studentedekaan van die Universiteit van die Witwatersrand, gesê.

Dr Slabbert sou later leier van die opposisie word – die destydse Progressiewe Federale Party (voorloper van die Demokratiese Alliansie) – maar het die parlement in 1986 verlaat omdat hy besluit het “hy kan nie langer geloofwaardigheid aan ‘n onverteenwoordigende instelling verleen nie”,” het sy oud-kollega, dr Alex Boraine, gesê.

Die 1983-grondwet het politieke regte aan wit, bruin en Indiër Suid-Afrikaners verleen, maar swartmense steeds uitgesluit. Dr Slabbert en dr Boraine het Idasa (destyds die Instituut vir ‘n Demokratiese Alternatief vir Suid-Afrika; nou die Instituut vir Demokrasie in Suid-Afrika) gestig, en in 1987 opspraakwekkende samesprekings in Dakar, Senegal, tussen die destyds verbanne African National Congress (ANC) in ballingskap en ʼn groep hoofsaaklik Afrikaanssprekende politici, akademici, sakeleiers en studente gereël.

Mnr Simphiwe Sesanti, Joernalistiek-dosent aan die US, het ‘n aangrypende toespraak in die vorm van ‘n “Brief aan Van Zyl” gelewer.

“Jy is ‘n kafferboetie genoem, ‘n term wat gereserveer is vir wittes wat as verraaiers beskou is. Maar jy, Frederik, het jou swart landgenote waarlik probeer verstaan,” het hy gesê.

“Ek wens baie jong Afrikaners sal jou boek, Tough Choices, lees sodat hulle diep kan nadink. Ek kom talle van hulle teë wat óf te skaam is oor die verlede om daaroor te praat, óf openlik aggressief en ongeduldig optree omdat hulle aandadig aan die wreedhede van hul voorouers voel. Jou benadering was anders. Jy wou hê dié kwessies moet vir almal se beswil aangeroer word. Jy het verstaan dat dit geen oplossing is om weg te kyk nie.”

Dr Slabbert is in 2008 as Kanselier van die US ingehuldig, maar het ʼn jaar later die amp om gesondheidsredes neergelê.

“Ek besef ek het groot skoene om te vul. ’n Leier moet sy volgelinge verteenwoordig, en nie sy eie belange eerste plaas nie. Dr Slabbert was só ‘n leier,” het Reggie Barry, die huidige primarius van Wilgenhof, oor sy voorganger gesê.

“Een van die grootste uitdagings wat ons in die gesig staar is om die middelmatigheid en apatie wat baie van ons medestudente klaarblyklik verswelg, te oorkom. Ons moet die idee dat jy net universiteit toe kom om so gou moontlik graad te vang en dan te gaan werk, afbreek,” het me Lovelyn Nwadeyi, ‘n studente-assistent by die FVZS Instituut, gesê.

“Daar is baie geleenthede vir leierskap op verskillende gebiede. En jy kan by gemeenskapsprojekte betrokke raak en jou deel vir die samelewing doen.

Die FVZS Instituut aan die US is die eerste in sy soort in Suid-Afrikaanse hoër onderwys. Dit bied programme om Maties se leiersvaardighede te ontwikkel en hulle as gegradueerdes af te rond. Die Instituut wil etiese leierskap kweek en studente se rol as leiers in Afrika- en wêreldverband beklemtoon. Dit is voorts daarop afgestem om studente se leiers-, kommunikasie-, konseptuele en besluitnemingsvaardighede te ontwikkel.

Daar is bykans 2 000 studente in leiersposisies aan die US – op die studenteraad, in koshuise, verenigings, sportspanne, fakulteitskomitees en ander strukture. Hulle word reeds deur bestaande programme met belangrike vaardighede toegerus. Die FVZS Instituut sal dít verder voer. Sowat 700 studente en skoolleerders het reeds vanjaar aan die Instituut se aanvanklike aktiwiteite deelgeneem.

Die programaanbod van die Instituut behels gevorderde kursusse in mentorskap; uitruilprogramme vir ʼn blik op die wêreld deur ander se oë; kortkursusse in gemeenskapskakeling; ʼn skoolleiersimposium; die opleiding van studente as agente vir maatskaplike verandering; ʼn gekombineerde tennis-en-lewensvaardigheidsprogram; ʼn kursus om studente-entrepreneurs te ontwikkel, en ʼn kursus waardeur studenteleiers deur dialoog hul generiese leiersvaardighede slyp.

Volgens dr Leslie van Rooi, hoof van die FVZS Instituut, breek ’n nuwe era vir die US aan met die vestiging van die FVZS Instituut. “Dit stel ons in staat om op die nalatenskap van ʼn waarlik kritiese denker voort te bou en bied studente die geleentheid om in ʼn visionêre leier se voetspore te volg.”

Toesprake, videos en audio lêers

Simposium:

Aandfunksie:

Verdere inligting oor die FVZS Instituut:

 

Geen kommentaar tot op hede nie...

Lewer kommentaar

*