SIB-kennis nou in ensiklopedie oor indringerspesies

Die voorblad van Encyclopedia of Biological Invasions

Kern-spanlede van die DWT-NNS Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie (SIB) aan die Universiteit Stellenbosch was deel van ʼn indrukwekkende groep kundiges wat tot ʼn nuwe wêreldensiklopedie oor indringerspesies bygedra het.

Die lywige Encyclopedia of Biological Invasions beslaan 792 bladsye, wat 400 kleurillustrasies en 58 tabelle insluit. Dit is onlangs deur die uitgewers van die Universiteit van Kalifornië as deel van ʼn reeks genaamd Encyclopedia of the Natural World uitgegee en bied maklike toegang tot inligting oor ʼn verskeidenheid onderwerpe op die gebied van indringerspesies.

Die redakteurs van die ensiklopedie is prof Daniel Simberloff, die Nancy Gore Hunger-professor in Omgewingstudie aan die Universiteit van Tennessee, en prof Marcel Rejmánek van die Universiteit van Kalifornië, Davis.

Die publikasie is die eerste in sy soort op dié gebied, en beklemtoon die toenemende bedreiging wat biologiese indringing vir biodiversiteit en volhoubare ekosisteembestuur oor die wêreld heen inhou.

Die ensiklopedie bestaan uit saaklike, alfabeties geordende artikels waarin die wêreld se voorste wetenskaplikes aspekte van biologiese indringing, onder meer indringing deur diere, plante, fungi en bakterieë, uit ʼn wêreldoogpunt aanroer. Die volume sluit ʼn verskeidenheid vakrigtings in, waaronder biologie, demografie, epidemiologie, geografie, ekologie, evolusie, sosiologie en natuurstudie.

SIB-navorsers het tot vier hoofstukke bygedra. Prof Dave Richardson, Adjunkdirekteur: Wetenskapstrategie aan die SIB en ʼn wêreldkundige oor plantindringing, het gesorg vir ʼn hoofstuk oor die invloed van bosbou en agribosbou op die verspreiding van indringerspesies, sowel as ʼn hoofstuk oor bome en struike wat wêreldwyd indringers geword het.

Voorts het prof Richardson saam met een van die ensiklopedie se redakteurs, prof Rejmánek, ʼn hoofstuk oor eukaliptus-spesies (bloekombome) die lig laat sien.

Vir die hoofstuk oor indringing in Suid-Afrika – een van ʼn paar gekose wêreldstreke wat spesiaal in die ensiklopedie bestudeer word – het prof Richardson met SIB-kernspanlede dr John Wilson van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI), dr Olaf Weyl van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Waterbiodiversiteit (SAIAB) en mariene bioloog prof Charles Griffiths van die Universiteit van Kaapstad saamgewerk. Hierdie hoofstuk bied ʼn bondige samevatting van die huidige status van indringerspesies in Suid-Afrika, ʼn vorderingsverslag oor die bekamping daarvan, sowel as enkele insigte in hoe plaaslike indringernavorsing tot wêreldkennis op die gebied bygedra het.

Volgens prof Richardson was dit ʼn eer om tot die ensiklopedie te kon bydra – ʼn publikasie wat volgens hom in die jare wat voorlê nog ʼn gerekende naslaanwerk oor biologiese indringing sal word. “Dit bewys dat Suid-Afrikaanse navorsers ʼn daadwerklike rol op die gebied van indringerbiologie speel,” sê hy.

Geen kommentaar tot op hede nie...

Lewer kommentaar

*