AgriWetenskappe sluit ooreenkoms met Cornell-universiteit
Die Fakulteit AgriWetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) en die Kollege vir Landbou en Lewenswetenskappe (CALS) aan die Universiteit van Cornell in Amerika het Donderdag (19 Mei 2011) ’n Memorandum van Verstandhouding (MVV) gesluit. CALS is die derde grootste kollege in sy soort in die VSA en verskeie nasionale opnames het getoon dat dit die voorste kollege vir landbou en verwante wetenskappe in die land is.

Prof Mohammad Karaan, Dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe (US), Prof Ralph D. Christy, Direkteur van Cornell-universiteit se Internasionale Instituut vir Voedsel, Landbou en Ontwikkeling (CIIFAD) en dr Edward Mabaya, Assistentdirekteur van Cornell-universiteit se Internasionale Instituut vir Voedsel, Landbou en Ontwikkeling
Ingevolge die MVV onderneem die twee universiteite om onderling internasionale akademiese uitruiling te fasiliteer, akademiese en wetenskaplike betrekkinge te ontwikkel en gesamentlike navorsingsaktiwiteite uit te bou.
Met die ondertekening van die MVV het prof Ralph Christy, Direkteur van Cornell-universiteit se Internasionale Instituut vir Voedsel, Landbou en Ontwikkeling (CIIFAD), gemeld dat die memorandum vir die twee instellings as voortsetting van ’n dekade se samewerking sal dien.
“Stellenbosch en Cornell se seisoene is teenoorgesteld. Daarmee bedoel ek ons somers is julle winters en julle somers is ons winters wat beteken ons het saam ’n laboratorium waarin studente uit beide die noordelike en suidelike halfrond die ganse jaar lank kan studeer en werk.”
Prof Mohammad Karaan, Dekaan van die US se Fakulteit AgriWetenskappe, het gesê die MVV sal nie bloot die bestaande betrekkinge tussen twee vooraanstaande instellings, wat hulle albei beywer vir die landbou en gepaardgaande ontwikkeling op die Afrika-kontinent, formaliseer nie, maar sal dit ook bevorder. Hy het bygevoeg: “Dit is vir die Universiteit Stellenbosch ’n enorme voorreg om met ’n instelling met die statuur, vermoë en belangrikheid van die Universiteit van Cornell te kan saamwerk.”
Dr Edward Mabaya, besoekende navorser aan die Departement Landbou-ekonomie en Bestuur, is waarskynlik die eerste uitruilstudent tussen Cornell en Stellenbosch. Hieroor het dr Mabaya gesê: “Na 14 jaar aan Cornell en anderhalfjaar aan Stellenbosch het ek besef presies hoeveel dié twee instellings gemeen het. Met die MVV sal ons ons gemeenskaplikhede kan aanwend om onderlinge betrekkinge uit te brei en raakpunte op albei kampusse te koppel.”

May 23, 2011 
Geen kommentaar tot op hede nie...