Samewerking kan uitdagings in onderwys die hoof bied, sê kenner
Onderwys in Suid-Afrika is besig om op verskeie terreine te misluk.
Só het prof Graeme Bloch van die Skool vir Publieke en Ontwikkelingsbestuur aan die Universiteit Witwatersrand Maandag (23 Mei) tydens die derde gespreksessie van die Universiteit Stellenbosch (US) se Skolevennootskapprojek gesê. Dié gespreksessie is gesamentlik deur die US se Afdeling vir Gemeenskapsinteraksie en die Sentrum vir Studentesake aangebied.
Volgens Bloch het Suid-Afrika nie die vaardighede om ʼn kompeterende nasie te wees nie. “Ons het te min ingenieurs, wetenskaplikes, bestuurders en vakmanne omdat leerders reeds op skool sukkel met wiskunde en lae geletterheidsvlakke het.”
Hy voer aan die Department van Basiese Onderwys doen nie genoeg om onderwysers te ondersteun en op te lei nie. ʼn Gebrek aan basiese geriewe, onhigiëniese toestande en geweld in skole dra by tot die swak toestand waarin onderwys tans is. Baie arm kinders wat honger skool toe gaan sukkel om te leer, het Bloch gesê.
Hy meen egter ʼn wending is moontlik indien “ons weg beweeg van ʼn politiek van woede en emosie, en die siening dat die afdanking van onderwysers of die afskaffing van uitkomsgebaseerde onderwys die antwoord is.”
Nouer samewerking tussen die regering en nieregeringsorganisasies is nodig. Leerlinge kan aangemoedig word om aan buitemuurse aktiwiteite soos sokker en musiek deel te neem, en ook ekstra wiskundelesse ontvang. Meer aandag moet gegee word aan die opleiding van skoolhoofde sonder om hul waardigheid aan te tas, het hy gesê.
Volgens Bloch moet gemeenskappe soms self oplossings probeer vind vir die uitdagings in die onderwys en nie wag op die regering om iets te doen nie. Groter deelname van onderwysers is nodig om die huidige situasie in die onderwys te verander. Ons moet harder werk omdat onderwys Suid-Afrikaners uit armoede kan lig, het hy gesê.
- Die reeks van ses gespreksessies kyk na hoe samewerking tussen verskillende fakulteite die US se interaksie met skole kan verbeter. Die volgende gespreksessie vind plaas op 12 Julie. Kontak Rolene Liebenberg, Bestuurder: Skolevennootskapprojek, by rolene@sun.ac.za of 021 808 9142 vir meer inligting.

May 24, 2011 

Geen kommentaar tot op hede nie...