US vandeesweek gasheer vir hoofde van Afrika-universiteite
Prof Russel Botman, Rektor en Visekanselier, en talle ander personeellede van die Universiteit Stellenbosch (US) is hierdie week sprekers by die konferensie van die Assosiasie van Afrika-universiteite (Association of African Universities – AAU). Die US is die gasheer vir die COREViP-konferensie wat in samewerking met die AAU aangebied word.
Die Adjunkminister van Hoër Onderwys en Opleiding, prof Hlengiwe Buhle Mkhize, open vanoggend die konferensie. Meer as 200 Rektore, Visekanseliers en Presidente van Afrika-universiteite woon van 30 Mei tot 3 Junie 2011 die konferensie oor hoër onderwys, met die tema Strengthening the space of higher education in Africa by Spier by.
COREViP is ’n byeenkoms van die hoof- uitvoerende beamptes van die AAU se geregistreerde lede of hul verteenwoordigers wat elke twee jaar plaasvind. Die oogmerk is om gesamentlik temas van gemeenskaplike belang en om prioriteite vir die ontwikkeling van hoër onderwys te identifiseer; aanbevelings aan lede, die bestuursraad en die sekretariaat te maak en om as forum te dien wat die implementering van vorige besluite moniteer, en regstellende maatreëls aanbeveel.
Benewens prof Botman is die ander US-sprekers by die konferensie prof Julian Smith (Viserektor: Gemeenskapsinteraksie en Personeel), prof Johann Mouton, Direkteur van die Afrika Doktorale Akademie (ADA) en Direkteur van die Sentrum vir Navorsing oor Evaluasie, Wetenskap en Tegnologie (CREST) en me Ellen Tise, Senior Direkteur: Biblioteek- en Inligtingsdiens.
Prof Botman, ’n Visepresident van die AAU, is Maandagaand die gasheer by ’n verwelkomings-geselligheid vir kongresgangers in die Endlersaal. Die Stellenbosch Universiteitskoor, personeel en studente van die Konservatorium se musieksertifikaatprogram en Clement Maimbolwa, ’n gesiggestremde kitaalspeler uit Zambië, tree by die geleentheid op.
Die meer as 250 afgevaardigdes sal buiten universiteitshoofde ook gevierde akademici uit Afrika, verteenwoordigers van substreeks- streeks- en internasionale organisasies, donateurs en ontwikkelingsagentskappe insluit. Ministers van Hoër Onderwys en ander beleidmakers word ook verwag.
Lees meer: www.aau.org

May 30, 2011 

Geen kommentaar tot op hede nie...